TIEN EFFEKTIEWE BYBELSTUDIE-METODES

effektiewe Bybelstudie-metodes

Daar is sommer baie verskillende Bybelstudie-metodes wat ‘n mens kan gebruik wanneer jy die Bybel studeer. Sommige van dié metodes is maklik en ideaal vir iemand wat net begin om sy Bybel te studeer. Dis ook metodes wat jy kan gebruik wanneer jy nie baie tyd het vir studie nie. Dan is daar ander metodes, wat moeiliker is. Iemand wat reeds lank Bybelstudie doen, sal goed vaar met dié metodes. Maar dit beteken nie jy kan nie so ‘n metode gebruik net omdat jy ‘n beginner is nie!

In hierdie artikel deel ek in kort tien van die moeiliker Bybelstudie-metodes met jou. Ons gaan nie oor die verskillende stappe van die metodes gesels nie, want dan gaan die artikel baie lank wees! Maar by elke studiemetode is daar skakels na artikels waar jy meer kan leer oor die stappe van die metode. By sommige is daar ook ‘n skakel na ‘n artikel waar ons so ‘n studie doen.

DIE REGTE STUDIEMETODE.

Die kleinste gedeelte van die Bybel wat jy kan studeer, is ‘n spesifieke woord. Of jy kan ‘n vers, ‘n hoofstuk of selfs ‘n hele Bybelboek studeer. Jy kan ook ‘n Bybelkarakter of ‘n tema in die Bybel studeer.

As jy die regte metode het, kan jy letterlik omtrent enige iets in die Bybel studeer! So, kom ons kyk na die verskillende Bybelstudie-metodes wat jy kan gebruik om jou Bybel te studeer.

WOORDSTUDIE.

Die doel van ‘n woordstudie is om uit te vind presies wat die skrywer nou eintlik bedoel het toe hy daardie spesifieke woord, in daardie konteks, gebruik het.

Wanneer jy ‘n woordstudie doen, kyk jy na die oorsprong en definisie van ‘n woord. Jy kyk waar dit in die Bybel gebruik word en ook hoe dit gebruik word.

In HIERDIE ARTIKEL gesels ons oor die verskillende stappe wat jy gebruik wanneer jy ‘n woordstudie doen.

DIE VERS-VIR-VERS BYBELSTUDIE.

Die vers-vir-vers studiemetode werk goed wanneer ‘n mens nie tyd het vir ‘n baie diep studie nie. Met dié metode kyk ‘n mens na elke vers in die gedeelte wat jy studeer deur vyf verskillende vrae oor elke vers te antwoord.

In HIERDIE ARTIKEL gesels ons oor die stappe van die metode en in HIERDIE ARTIKEL doen ons saam so ‘n studie.

DIE HOOFSTUKSTUDIE.

In ‘n hoofstukstudie fokus ‘n mens op die details van die hoofstuk. Wanneer jy dít doen, help dit jou om beter te verstaan wat die skrywer probeer sê.

Deur die 4 W’s en 2 H’s (Wie, Wat, Wanneer, Waar, Hoe, Hoekom) te gebruik, vra jy vrae oor die teks om jou te help om dit beter te verstaan.

Verder let jy op na dinge soos sleutelwoorde of -frases, feite oor woorde of persone, moontlike teenstellings of vergelykings in die hoofstuk, ensovoorts.

In HIERDIE ARTIKEL gesels ons meer oor dié studiemetode en presies hoe jy te werk gaan om dit te doen.

HOOFSTUK-OPSOMMINGSMETODE.

Die hoofstuk-opsommingsmetode help jou om ‘n geheelbeeld van die inhoud van ‘n spesifieke hoofstuk van die Bybel te kry.

Net soos met ‘n hele paar van die ander metodes, vra jy spesifieke vrae oor die teks om jou te help om dit te verstaan.

Dis ‘n maklike metode, wat nie baie tyd vat nie, en waarvoor jy net jou Bybel en ‘n notaboek nodig het.

In HIERDIE ARTIKEL gesels ons meer oor hierdie studiemetode en in HIERDIE ARTIKEL doen ons een sodat jy sien hoe jy te werk gaan om dit te doen.

.

BOEK-OORSIG BYBELSTUDIE.

Hierdie studiemetode word gebruik om ‘n hele boek in die Bybel te studeer. Dit gaan jou help om ‘n oorsig van die boek te kry, sodat jy presies verstaan waarom die skywer dit geskryf het.

Jy gaan ook verstaan wat die tema, struktuur en inhoud van die boek is.

In HIERDIE ARTIKEL gesels ons oor die stappe van die metode en in HIERDIE ARTIKEL doen ons saam so ‘n studie.

DIE TEMASTUDIE.

In ‘n Tema-Bybelstudie bestudeer jy ‘n spesifieke tema in die Bybel. Die doel is om soveel moontlik daaroor te leer.

Deur ‘n klompie vrae oor die tema te vra, leer jy meer daaroor. Hierdie vrae gaan, soos met die Hoofstukstudie, altyd te doen hê met wat, hoekom, wanneer, hoe, waar en wie.

Na jy die vrae gevra het, skryf jy neer wat jy geleer het en ook hoe jy dit in jou lewe kan toepas.

As jy meer oor hierdie studiemetode wil weet, kan jy HIERDIE ARTIKEL lees. En in HIERDIE ARTIKEL doen ons ‘n temastudie oor Jesus se definisie van ‘n dissipel.

AGTERGROND-STUDIE.

In ‘n agtergrond-Bybelstudie maak ‘n mens inligting bymekaar oor die agtergrond van die gedeelte wat jy studeer. Die persone oor wie geskryf word, gebeure waaroor gepraat word, kultuur en geografie van die tyd is alles belangrik wanneer jy ‘n agtergrond-studie doen.

So ‘n studie gaan jou baie help om die Bybel reg te interpreteer. Dit gaan jou ook help om te verstaan hoe jy wat jy daaruit leer, in jou lewe kan toepas, want jy gaan leer hoe die mense vir wie dit oorspronklik geskryf is, dit toegepas het.

Die stappe van ‘n agtergrond-studie word in HIERDIE ARTIKEL bespreek. Lees ook HIERDIE ARTIKEL om te sien hoe so ‘n studie prakties gedoen word.

DIE KARAKTERSTUDIE.

‘n Karakterstudie is ‘n studiemetode waar jy ‘n spesifieke karakter in die Bybel kies en dan ‘n studie oor hom of haar doen. So ‘n studie help jou om dinge oor daardie karakter te leer, wat jy nie voorheen geweet het nie.

Wanneer jy ‘n karakterstudie doen kyk jy na dinge soos die karakter se sterk en swak punte, oorwinnings of mislukkings wat hy gehad het, lesse wat jy by hom kan leer, ensovoorts.

In HIERDIE ARTIKEL gesels ons oor hoe jy ‘n karakterstudie doen. Jy kan ook HIERDIE ARTIKEL lees, waar ons saam ‘n karakterstudie oor Josef doen.

BIOGRAFIE-STUDIE.

‘n Biografie-studie is nog ‘n metode wat jy kan gebruik wanneer daar ‘n Bybelkarakter of -karakters is, waaroor jy meer wil weet.

Deur al die gedeeltes in die Bybel, waar daardie persoon genoem word, te gebruik, leer jy hom of haar beter ken.

Omdat groot dele van die Ou Testament verhale oor verskillende persone se lewens is, is hierdie metode een van die bestes om te gebruik wanneer jy die Ou Testament studeer.

As jy wil weet presies hoe om ‘n biografie-studie te doen, kan jy HIERDIE ARTIKEL lees. En in HIERDIE ARTIKEL doen ons saam so ‘n studie oor Stefanus.

DIE W.I.T.-BYBELSTUDIE-METODE.

Hierdie studiemetode word in Engels die ‘Inductive Study Method’ genoem. Ek het die stappe van die metode gebruik om ‘n Afrikaanse naam daarvoor te kry, daarom die naam W.I.T.

Die naam staan vir:

WWaarneem.

IInterpreteer.

T Toepas.

Dis ‘n interessante studiemetode, wat jy kan gebruik om enige gedeelte in die Bybel te studeer.

In HIERDIE ARTIKEL kan jy meer leer oor die waarnemingsproses van die metode. In HIERDIE ARTIKEL gesels ons oor die interpretasie-stappe en in HIERDIE ARTIKEL oor toepassing.

WATTER METODE GAAN JY KIES?

Noudat jy meer weet oor al die verskillende Bybelstudie-metodes wat jy kan gebruik, is dit tyd om een te kies om mee te begin.

Watter metode lyk vir jou die maklikste? Dalk is dit die een wat jy kies.

Of is daar ‘n metode wat vir jou interessant gelyk het? Dalk moet jy daardie een probeer.

Watter metode jy ookal kies om te probeer, onthou dat dit aan die begin dalk nie so maklik gaan wees om dit te gebruik nie. Maar moenie moed opgee nie! Gebruik die metode weer en weer in jou Bybelstudie-tyd. Soos die Engelse sê, Practice makes perfect. Hoe meer jy ‘n metode gebruik, hoe beter gaan jy daarmee raak. En hoe meer gaan jy oor die Bybel leer.

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *