JESUS IS LEWE

Jesus = lewe

Het jy geweet Jesus is sinomien met lewe? Daar is ‘n hele paar plekke in die Bybel waar ons lees van lewe en elkeen van dié gedeeltes is op een of ander manier ‘n heenwysing na Hom. Kom ons kyk na tien van hierdie gedeeltes en wat ons daaruit kan leer.

DIE ASEM VAN LEWE.

    Genesis 2:7: “…het die Here God die mens met stof uit die grond gevorm, en in sy neus die asem van lewe geblaas. So het die mens ‘n lewende wese geword.”

    Aan die begin het God die eerste mens, Adam, uit stof gemaak. Hy was sonder lewe tot God die asem van lewe in sy neus ingeblaas het. Toe eers het hy ‘n lewende wese geword.

    In Johannes 1:1-4 lees ons die Woord, Jesus, was in die begin by God. Alles het deur Hom ontstaan, want Hy is lewe. God het dus vir Adam en Eva – en al die ander dinge hier op planeet aarde – geskep met die lewe wat daar in Jesus is en was.

    Adam en Eva, en ook ek en jy, is lewende wesens omdat Jesus vir ons die lewe gee.

    DIE PAD NA LEWE.

      Spreuke 10:17: “Wie ag slaan op vermaning, is op pad na lewe; maar wie teregwysing in die wind slaan, lei ander op ‘n dwaalweg.”

      In Sy groot genade het God die Bybel vir ons gegee. Alles wat daarin geskryf is, is op een of ander manier ‘n heenwysing na Jesus. God gebruik dus die Bybel om vir ons die pad na die lewe, wat die pad na Jesus is, aan te dui.

      Jesus is die Weg, die Waarheid en die Lewe. Sonder Hom is ons dood in ons sondes en oortredings. Maar deur geloof in Hom, word ons sondes vergewe en ons word gered van die dood en van die mag wat die bose oor ons gehad het.

      DIE LEIDSMAN TOT DIE LEWE.

        Handelinge 3:15: “…maar julle het die Leidsman tot die lewe doodgemaak. God het Hom uit die dood opgewek – daarvan is ons getuies.”

        Volgens die HAT beteken die woord ‘leidsman’ iemand wat leiding gee. Dit kan ook gids, leier en leermeester beteken.

        Jesus is al hierdie dinge.

        Hy is die gids wat ons lei na Homself – die Een wat lewe is en wat daardie lewe vir ons wil gee sodat ons ook kan lewe.

        Hy is ook die leermeester tot die lewe. Alles wat Hy gesê het en wat Hy in die Bybel laat opteken het, is bedoel om ons meer oor Hom, die Lewe, te leer.

        En dan is Hy ook die Een wat ons dag vir dag lei, sodat ons al meer en meer die lewe wat Hy bedoel het ons moet leef, kan leef.

        NUWE LEWE.

          Romeine 6:4: “Deur die doop is ons dus saam met Hom in die dood begrawe, sodat, net soos Christus deur die magtige heerlikheid van die Vader uit die dood opgewek is, ook ons só ‘n nuwe lewe kan lei.”

          Deur geloof in Jesus, word ‘n mens weergebore. Volgens 2 Korinthiërs 5:17 is so ‘n mens ‘n nuwe skepping. Die ou dinge het verby gegaan en nuut geword.

          Omdat ons nuwe mense is, kan ons ook nuwe lewens lei. Hierdie nuwe lewens sluit die volgende dinge in:

          a. Ons leef nie meer onder die Ou Verbond, waar daar gereeld diere-offers gebring is om die sonde van die mense te bedek nie. Nee, ons leef onder die Nuwe Verbond, waar Jesus eens, vir altyd, die totale prys betaal het. Sy bloed bedek nie net die sonde van die mens nie, maar neem dit heeltemal weg asof dit nooit eers daar was nie.

          b. Die bose het nie meer mag oor ons nie. Ons gee nie meer toe aan die versoekings van die duiwel omdat ons nie anders kan nie. Ons kan nou, met die hulp van die Heilige Gees, hom in geloof teenstaan. Wanneer ons dit doen, sal hy van ons af wegvlug.

          c. Die Heilige Gees is elke dag besig om ons te verander sodat ons meer soos Jesus praat, dink en optree. Hy maak ons gewillig en bekwaam om die goeie werke wat Hy vir ons beplan het, uit te voer (Filippense 2:13 en Efesiërs 2:10).

          HOU LEWE IN STAND.

            Hebreërs 1:3: “Hy is die uitstraling van God se heerlikheid, en die ewebeeld van sy wese. Hy hou alles in stand deur sy magtige woord; en nadat Hy die reiniging van sondes bewerk het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogtes.”

            Jesus het aan die begin saam met die Vader en die Heilige Gees gewerk om die wêreld en alles daarin, te skep. En dit is Hy wat dan ook alles in stand te hou.

            Sonder Hom sou daar in die eerste plek nie lewe gewees het nie. En sonder Hom sou die lewe wat daar is, nie kon voortgaan en floreer nie.

            Jesus hou nie net ons fisiese lewens in stand nie. Hy hou ook ons geestelike lewens in stand. Hy het, soos Hy belowe het, die Heilige Gees vir ons gegee om die lewe wat Hy in ons geplaas het, te beskerm en te laat groei.

            .

            WOORD VAN DIE LEWE.

              1 Johannes 1:1: “Wat van die begin af was, wat ons gehoor het, wat ons met ons oë gesien het, wat ons aandagtig bekyk het, en wat ons hande aangeraak het aangaande die Woord van die Lewe, dit verkondig ons aan julle.”

              Ons het nou al gesien dat Jesus die Woord van God is en dat Hy die lewe is (Johannes 1:1-4). Hy is dus die Woord van die Lewe.

              Johannes skryf dat hy en die ander dissipels Jesus gehoor, gesien en beleef het. Dit wat hulle dan ook gesien, gehoor en beleef het, is wat hulle vir ander van vertel het. Daarmee het hulle die Woord van die Lewe verkondig, sodat ander ook in Hom kon glo en gered word.

              Dis wat ek en jy ook moet doen. Ons moet vir ander vertel wie Jesus is en wat Hy vir ons doen en gedoen het. Op dié manier sal ons ook die Woord van die Lewe verkondig.

              OORWINNAARSKRANS VAN DIE LEWE.

                Openbaring 2:10: “Moenie vir enigiets wat jy nog gaan ly, bang wees nie. Kyk, die Duiwel gaan sommige van julle in die tronk laat gooi, sodat julle getoets kan word. Tien dae lank sal julle verdruk word. Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal aan jou die oorwinnaarskrans van die lewe gee.”

                Die vers hierbo is vir die gemeente in Smirna geskryf, maar dit is ook van toepassing op alle ander gelowiges.

                Jesus moedig ons aan om, tot die dag van ons dood, aan Hom getrou te bly. Ons doen dit te midde van probleme, teleurstelling en vervolging. Ons doen dit deur ons oë op Hom te hou en Sy beloftes glo. Dis die manier hoe ons wys ons geloof in Hom is ware geloof.

                Die beloning vir ons getrouheid is die oorwinnaarskrans van die lewe, wat eenvoudig beteken ons belewing van lewe by God.

                BOEKROL VAN DIE LEWE.

                  Openbaring 3:5: “Wie oorwin, sal net so wit klere kry om aan te trek, en Ek sal sy naam nie uit die boekrol van die lewe skrap nie, maar voor my Vader en sy engele oor hom getuig.”

                  Daar is net een manier om jou naam in die boekrol van die lewe te kry. Dis deur geloof in Jesus Christus as die Seun van God, wat vir ons sondes gesterf het en weer uit die dood opgestaan het.

                  Weereens belowe Jesus in hierdie vers dat, as ons in geloof aan Hom bly vashou, ons die ewige lewe sal hê. Ons name sal nie uit die boekrol van die lewe verwyder word nie.

                  BOOM VAN DIE LEWE.

                    Openbaring 22:14: “Gelukkig is diegene wat hulle lang stolas was, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe, en die stad deur die poorte kan binnegaan.”

                    In Genesis is Adam en Eva deur God verbied om naby die boom van die lewe te kom, nadat hulle sonde gedoen het. Maar God se kinders sal van dié boom se vrugte kan eet, omdat hulle sondes deur Jesus se dood en opstanding uitgewis is.

                    Almal wat die vrugte van die boom van die lewe eet, sal vir ewig lewe.

                    WATER VAN DIE LEWE.

                      Openbaring 22:17: “En die Gees en die bruid sê: ‘Kom!’ En laat elkeen wat luister, sê: ‘Kom!’ En laat elkeen wat dors het, kom. En laat elkeen wat dit begeer, die water van die lewe kom kry, verniet!”

                      Jesus het vir die Samaritaanse vrou by die put gesê dat Hy vir haar lewende water kon gee. Dis dan ook die water waarvan hier gepraat word.

                      Die water van die lewe verwys na Jesus en die verlossing wat mense, deur geloof in Hom, ervaar.

                      God nooi alle mense uit om te kom, want Hy wil hê almal moet gered word.

                      Het jy al gekom om die water van die lewe te drink?

                      Terwyl jy nog asemhaal hier op aarde, is dit nog nie te laat nie. Kom en drink. Dis verniet. Jy hoef nie daarvoor te werk nie. Jy kan dit in elk geval nie verdien nie.

                      Jesus hou verlossing en lewe na jou toe uit as ‘n geskenk. Kom net in geloof en aanvaar wat Hy vir jou gedoen het en jou naam sal ook opgeteken word in die boekrol van die lewe!

                      Deel hierdie blad

                      Leave a Reply

                      Your email address will not be published. Required fields are marked *