
As jy in 2020 saam met ons die Markus Evangelie bestudeer het, dan sal jy weet ons het die ‘Inductive’ Bybelstudie-metode daarvoor gebruik.
Ek het ‘n Afrikaanse woord vir ‘inductive’ gesoek, maar kon nie een kry wat hierdie metode reg beskryf nie, dus bly ons maar by die Engelse benaming.
Die doel van hierdie Bybelstudie-metode is om jou te help om die waarheid van die Bybel vir jouself te ontdek. En om dan deur daardie waarheid verander te word.
Vir die volgende drie weke gaan ons ‘n bietjie oor hierdie metode gesels, sodat jy presies weet hoe dit werk en dit self in jou Bybelstudietyd kan gebruik.
‘N EENVOUDIGE VERDUIDELIKING.
Ons gaan bietjie later in die artikel, en ook in die volgende twee, in meer detail na die Bybelstudie-metode kyk. Maar vir eers wil ek in kort, en baie eenvoudig, vir jou verduidelik waaroor dit gaan en hoe dit werk.
Die ‘Inductive’ Bybelstudie-metode bestaan uit drie stappe.
- Waarneming
- Interpretasie
- Toepassing
Waarneming behels om te kyk wat die teks sê.
Interpretasie beteken ons verduidelik die betekenis van die teks.
Toepassing beteken om te kyk hoe jy, wat jy geleer het, prakties in jou lewe kan toepas.
DIE DRIE STAPPE IN KOLOSSENSE 1.
In Kolossense 1:9-10 staan daar : “Daarom dan, van die dag dat ons dit gehoor het, hou ons nie op om vir julle te bid nie. Ons bid dat julle vervul mag word met die volle kennis van God se wil, deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, om ‘n lewe te lei wat die Here waardig is, en Hom in alles tevrede te stel, terwyl julle vrug dra deur elke goeie werk, en groei in die kennis van God…”
Sien jy die drie stappe van die ‘Inductive’ Bybelstudie-metode?
- Waarneming – volle kennis van God se wil
- Interpretasie – insig wat die Gees gee
- Toepassing – wysheid om ‘n lewe te lei wat die Here waardig is
VRA DIE GEES VIR HULP.
Ek het gesê dat die ‘Inductive’ Bybelstudie-metode uit drie stappe bestaan, maar eintlik is daar vier.
Die eerste stap van enige Bybelstudie-metode is om te bid.
Sonder die hulp van die Heilige Gees gaan ‘n mens nie ver kom met jou studies nie!
Begin dus deur die Heilige Gees te vra om jou te help. Hy is die Gees van die waarheid en sal jou in die waarheid lei (Johannes 16:13).
Hy gee jou ook insig en wysheid, soos ons in Kolossense 1:9-10 gesien het.

STAP 1: WAARNEMING.
Goed, ons het nou gebid en die Gees vir hulp gevra.
Nou kom ons by die volgende stap, waarneming. Die waarnemingsproses bestaan op sy beurt weer uit ‘n paar stappe.
DIE 5W’S EN TWEE H’S.
Om ons te help om te sien presies wat die teks sê, gaan ons eerstens ‘n klompie vrae van die teks vra.
Hierdie vrae word sommer die 5 W’s en die H (of dalk is dit twee H’s?) genoem.
Wie? Wat? Wanneer? Waar? Waarom of hoekom? Hoe?
Die vrae gaan jou help om inligting bymekaar te maak sodat jy presies kan sien wat in die teks staan. Dít is nodig voor jy die teks korrek kan interpreteer.
Moenie bekommerd wees as jy nie ‘n antwoord op elke vraag kan kry nie. Daar is baie tipes literatuur in die Bybel en al die vrae gaan nie in elke geval beantwoord kan word nie.
As jy in jou Bybel skryf, maak notas in die kantlyn.
SLEUTELWOORDE OF -FRASES.
Nadat jy al die vrae wat jy moontlik kon vra geantwoord het, lees die gedeelte weer.
Hierdie keer soek jy na sleutelwoorde of -frases.
Dit is woorde of frases wat meer as een keer in die teks voorkom. Sinonieme en voornaamwoorde wat na dieselfde onderwerp verwys, tel onder sleutelwoorde.
Maak nou ‘n lys van alles wat jy in die teks oor die sleutelwoord of -frase geleer het.
LYSTE.
Daar word soms in ‘n teksgedeelte ‘n lys van dinge genoem. Hierdie lyste is belangrik. Jy kan selfs ‘n klein 1,2,3,4… langs elke item op die lys skryf om jou te help om dit maklik te identifiseer.
In 1 Timotheus 3:16 lees ons byvoorbeeld: “Elke Skrifdeel is deur God geïnspireer en is nuttig vir (1) onderrig, (2) weerlegging, (3) teregwysing, en (4) opvoeding om God se wil te gehoorsaam….”
VERGELYKINGS EN TEENSTELLINGS.
Word daar enige iets in die teks met iets anders vergelyk? Skryf dit neer of merk dit.
Of is daar iets wat die teenoorgestelde van iets anders in die teks is? Skryf dit ook neer of merk dit.
In 1 Petrus 5:8 kry ons ‘n vergelyking: “Wees nugter, wees waaksaam! Julle teenstander, die Duiwel, loop rond “soos ‘n brullende leeu“, op soek na wie hy kan verslind.”
TYD.
Wees altyd op die uitkyk vir plekke waar tyd genoem word. Dit sal jou help om gebeurtenisse in die regte volgorde te hê.
Ons kry ‘n voorbeeld in Lukas 1:39: “In daardie tyd het Maria gereedgemaak en haastig na die bergstreek vertrek, na ‘n dorp in Juda.”
Ander voorbeelde is woorde soos ‘In daardie dae’, dadelik, gedurende, in die jaar van, ensovoorts.
Merk elke plek waar tyd aangedui word op ‘n spesifieke manier.
OPSOMMINGS EN GEVOLGTREKKINGS.
Laastens moet jy oplet na enige woorde wat daarop dui dat ‘n opsomming of gevolgtrekking gaan volg.
Kolossense 3:12 is ‘n goeie voorbeeld: “Daarom, omdat julle God se uitverkore heiliges en geliefdes is, beklee julleself met innige meelewing, goedheid, nederigheid, sagmoedigheid en geduld.”

KOM ONS OEFEN!
Noudat ons geleer het hoe om ‘n teks in die Bybel waar te neem, gaan ons dit oefen.
Ons gaan Spreuke 1:1-7 uit die 2020-Vertaling gebruik.
Lees die teks. Antwoord die wie, wat, wanneer, waar, waarom of hoekom en die hoe-vrae. Let op na sleutelwoorde en lyste.

MY WAARNEMING.
Noudat jy self die teks waargeneem het, deel ek graag met jou wat ek waargeneem het.
Wie is in groen gemerk.
Sleutelwoorde is in blou.
Daar is pienk vierkante rondom die waarom of hoekom en wat. En ek het, wat ek oor elke persoon geleer het, in die kantlyn geskryf.
Ek het ‘n geel vierkant getrek rondom ‘n vergelyking wat ek raakgesien het.
Verder het ek rooi nommers gesit langs die lysie wat ek opgemerk het.
Jou sisteem mag anders lyk as myne. Dalk het jy dinge raakgesien wat ek gemis het.
Maar hoe dit ookal sy, ons waarnemings moet min of meer dieselfde lyk.

VOLGENDE WEEK – INTERPRETASIE.
Volgende week gaan ons kyk na die volgende stap in die ‘inductive’ Bybelstudie-metode, naamlik, interpretasie.
Kies vir jou nog ‘n paar skrifgedeeltes en gebruik hierdie week om waarneming te oefen.
En moenie vergeet om volgende week weer ‘n draai te maak vir die volgende stap in die ‘Inductive’ Bybelstudie-metode nie!
ITS THE FIRST TIME IM USSING THIS APP TO ENHACE MY KNOLEDGE REGARDING THE WORD. AND I HAVE FOUND THI INDUTION FASE VERY INTERESTING
Goeie dag
Ek will graag aansluit, maar weet nie waar om te begin nie. Sal dit waardeer indien ek ‘n antwoord so spoedig moontlik kan kry.
Vriendelike groete
Mona