VOORBEELD: HOOFSTUK-OPSOMMING

Voorbeeld: hoofstuk-opsomming

Hier by Bybel En Gebed gesels ons gereeld oor verskillende Bybelstudie-metodes wat jy kan gebruik wanneer jy Bybelstudie doen. Verlede week het ons dan ook weer oor so ‘n metode gesels. Hierdie keer was dit die hoofstukopsommingsmetode. In die artikel het ek die stappe van die metode verduidelik. Vandag gaan ek jou ‘n voorbeeld gee van hoe om ‘n hoofstuk-opsomming te doen.

Ons gaan Lukas 15 as hoofstuk gebruik.

LEES DIE GEDEELTE.

In stap een gaan ons die hoofstuk stadig deurlees. Ons gaan dit ten minste vyf keer doen, sodat ons presies weet wat daar staan.

‘N TITEL VIR DIE HOOFSTUK.

Die volgende stap is om te besluit watter titel ons vir die hoofstuk gaan gee.

Lukas 15 gaan oor verskillende dinge wat weggeraak het, maar wat later weer gevind is.

‘n Goeie titel vir hierdie hoofstuk is dus iets soos “Verlore en Gevind”. ‘n Mens kan selfs die ‘en’ uitlaat, sodat die titel korter is: “Verlore, Gevind”.

DIE INHOUD VAN DIE HOOFSTUK.

In stap drie gaan ons kyk wat in die hoofstuk staan. Onthou, ons gaan dit nie interpreteer nie; ons gaan net neerskryf waaroor die hoofstuk gaan.

Daar word drie verskillende gelykenisse in hierdie hoofstuk vertel.

  1. Die gelykenis van die verlore skaap – vers 3-7.
  2. Die gelykenis van die verlore muntstuk – vers 8-10.
  3. Die gelykenis van die verlore seun – vers 11-32.

DIE HOOFKARAKTERS.

Nou gaan ons kyk wie die hoofkarakters in die hoofstuk is. Hierdie hoofstuk s’n is sommer baie maklik.

Daar is die skaapwagter, wie se skaap weggeraak het.

Dan is daar die vrou, wat haar een muntstuk verloor het.

En laastens is daar die pa, wat sy seun verloor het.

DIE SLEUTELVERS.

Ons volgende stap is om ‘n vers uit die gedeelte te kies, wat die boodskap van die hoofstuk goed opsom.

Ek dink in hierdie geval is vers 7 ‘n goeie keuse. Daar staan: “Ek sê vir julle, so sal daar in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer het, eerder as oor die nege-en-negentig regverdiges wat nie nodig het om tot bekering te kom nie.”

DIE SLEUTELWOORDE.

Die sesde stap is om te kyk wat die sleutelwoord of -woorde van die hoofstuk is.

In hierdie geval is daar twee.

Die eerste sleutelwoord is ‘verloor’ en sluit die woord ‘verlore’ in. Dit staan in verse 4, 6, 8, 9, 24 en 32.

Die tweede sleutelwoord is ‘kry’ en sluit ook ‘gekry’, ‘teruggekry’ en ‘gevind’ in. Dit staan in verse 4, 5, 6, 8, 9, 24, 27 en 32.

DINGE WAARMEE JY SUKKEL.

Die volgende stap is om te kyk of daar iets in die hoofstuk is waaroor ons later ‘n studie wil doen.

Dit kan ‘n woord of gedagte wees wat uitstaan, waaroor ‘n mens meer wil weet. Of dit kan iets wees wat ‘n mens nie so mooi verstaan nie.

Vir eers gaan ons dit net neerskryf, sodat ons darem iewers ‘n nota het wat ons daaraan herinner dat ons meer daaroor wil leer.

Iets wat in hierdie hoofstuk vir my uitgestaan het, is die laaste gedeelte van die sleutelvers. Wat bedoel Jesus wanneer Hy praat van ‘nege-en-negentig regverdiges wat nie nodig het om tot bekering te kom nie’?

Leer meer oor die gelykenisse wat Jesus vertel het deur die Gelykenisse Van Jesus Bybelstudie te gebruik. Die stappe wat jy in die studie volg, gaan jou ook leer hoe om self Bybelstudie te doen.

KRUISVERWYSINGS.

Die agtste stap is om kruisverwysings in die Bybel te soek, wat ‘n mens help om dit waaroor die hoofstuk gaan, duidelik te maak.

Ons kry kruisverwysings vir Lukas 15:3-7 in die volgende gedeeltes:

Mattheus 18:10-14; Jesaja 53:6; Johannes 10:10–14; Psalm 119:176 en 1 Petrus 2:25.

WAAR SIEN JY JESUS?

Ons volgende stap is om te kyk wat ons oor die Vader, oor Jesus of oor die Heilige Gees uit hierdie hoofstuk kan leer.

In die eerste gelykenis sien ons Jesus as die Goeie Herder, wat na die verlore skape soek.

Die tweede gelykenis vertel vir ons van die Heilige Gees, ons regmatige Eienaar, wat ons vind en herstel.

En in die derde gelykenis sien ons God die Vader, wat vir ons wag om huis toe te kom.

BELANGRIKE LESSE.

In stap 10 gaan ons kyk na die belangrike lesse wat ons uit die gedeelte kan leer.

Eerstens sien ons in vers 12 dat die jongste seun vir sy pa sê, ‘Gee my’. Later, toe hy terugkom, sê hy vir sy pa, ‘Maak my’ (vs.19, OAV).

Tweedens sien ons God gee om vir sondaars en wag angstig dat hulle terugkom huistoe.

Daar is ook ‘n paar onvolwasse karaktereienskappe, wat ‘n mens optel by die oudste seun. Hy was kwaad, kinderagtig en jaloers. Hy het gou gekla en het heeltemal die verkeerde perspektief gehad.

TOEPASSING.

Die laaste stap is om te kyk hoe ons dit wat ons uit die gedeelte geleer het, in ons lewens kan toepas.

Hier kan ons iets skryf soos:

  1. In elkeen van die gelykenisse het iemand ‘n daadwerklike poging aangewend om dit wat verlore was, weer terug te kry. Daar is mense wat ek ken, wat nog verlore is omdat hulle nie vir Jesus ken nie. Ek moet ‘n plan van aksie uitwerk van hoe ek hulle met die goeie nuus van Jesus gaan bereik. Ek gaan begin deur hierdie week nog met (persoon se naam) oor Jesus te praat.
  2. Wanneer ek hoor van iemand wat vir Jesus as Verlosser aangeneem het, moet ek bly wees daaroor en God daarvoor dank.

GAAN JY DIE METODE GEBRUIK?

In hierdie artikel het ek jou ‘gewys presies ‘n voorbeeld gegee van hoe ‘n hoofstuk-opsomming gedoen word.

Dis ‘n maklike Bybelstudie-metode, wat nie baie van jou tyd hoef te vat nie. Dis ook ‘n metode wat jy kan gebruik selfs al het jy nog nie voorheen veel Bybelstudie gedoen nie.

Wat dink jy van hierdie metode? Is dit een wat jy in jou Bybelstudie-tyd gaan gebruik? Laat weet ons in die kommentaar hieronder.

Deel hierdie blad

2 comments

  1. Ek doen Bybel Studie vir ons bejaardes in ons kerk en ek gaan die week praat oor die verlore seun, maar ek sukkel bietjie. Kan u my help met n paar rig Lyne asseblief.

  2. Hi Risa ek het eendag TOE VAL LIG op jou afgekom en is sooooo bly.Ek het ‘n GROOT BEHOEFTE om nader aan ons Hemelse Vader te leef en jy is ‘n wonderlike Geesvervulde kind v God en inspireer my ongelooflik.
    Ek het so 9 maande gelede my oudste Seun in ‘n tragiese motorongeluk verloor en stry nogsteeds met God hieroor.Hierdie is die SEERSTE SEERSTE PAD ooit en ek het God se VASHOU nodiger as ooit in my lewe.Dankie dat jy my help????

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *