‘N AGTERGROND-STUDIE OOR EFESE

Agtergrond-studie oor Efese

In verlede week se artikel het ons gesels oor hoe om ‘n agtergrond-studie van ‘n boek of onderwerp te doen.

So ‘n studie is nogal belangrik, veral wanneer jy ‘n boek wil studeer. Dit gaan jou help om die boek beter te verstaan.

Vandag gaan ons saam ‘n agtergrond-studie oor Efese doen, sodat jy kan sien hoe om so ‘n studie prakties te doen.

Nou-ja, laat ons nie verder tyd mors nie! Kom ons val weg.

ONDERWERP OF BOEK VAN DIE BYBEL.

Agtergrond-studie oor Efese – Paulus se brief aan die Efesiërs.

HULPBRONNE.

Bybelse Ensiklopedie, Tweede Hersiene Uitgawe.

GEOGRAFIE VAN DIE LAND.

  • Stad in Lidië aan die weskus van Klein-Asië.
  • Geleë by die mond van die rivier Kaistros.
  • Aan die begin van ‘n groot hoofweg wat ooswaarts oor Klein-Asië tot in Sirië geloop. Daarvandaan het dit geloop na Mesopotamië, Persië en Indië.
  • Was ‘n groot hawestad en op ‘n stadium die hoofstad van die provinsie Asië.
  • In Paulus se tyd het daar ongeveer 400 000 mense in die stad gewoon.
  • Die land- en seehandelsroetes het hier bymekaar gekom as gevolg van die ligging van die stad.

HISTORIESE AGTERGROND.

  • Efese was een van die 12 ou Ioniese stede.
  • In 555 v.C. is dit deur Croesus verower.
  • Na die val van die Lidiese ryk kom die stad in 557 v.C. onder Persiese heerskappy.
  • In 335 v.C. word die stad deur Alexander die Grote verower. Dit veroorsaak dat daar ‘n Griekse invloed in die stad heers tot en met die oorname daarvan deur die Romeine.
  • In 190 v.C. neem die Romeine die stad oor.
  • In die dae van keiser Tibérius word die stad deur ‘n aardbewing geteister.
  • Efese was saam met Athene en Jerusalem een van die drie heiligste stede van die Oudheid.

KULTURELE AGTERGROND.

  • Efese was die middelpunt van Oosterse misterieë en Asiatiese godsdiens as gevolg van die Artemisium, die heiligdom van Artemis.
  • Hierdie tempel, waarin Aftemis vereer is, was een van die 7 wonders van die wêreld.
  • Omdat Artemis hier vereer is, is die stad Neocoris (tempelbewaarder) genoem. Dis ‘n eretitel wat Rome aan ‘n stad, wat tot eer van die keiser ‘n tempel opgerig en spele ingestel het, verleen het.
  • Efese was ‘n kosmopolitaanse stad, want daar het mense van allerhande agtergronde gebly.
  • Efese het al die geriewe van ‘n moderne Romeinse stad gehad – ‘n gimnasium, stadion, teaters en ook ‘n markplein.

POLITIEKE AGTERGROND.

  • In Paulus se tyd het die stad se lojaliteit by Rome gelê. Dit is beheer deur die Romeinese goewerneur van Pergamum.
  • Die stad het ‘n senaat, ‘n volksvergadering en ‘n stadsklerk, wat die vergadering gelei het, gehad.
  • Die stadsklerk het ook toesig gehou oor die bank, wat in die tempel gevestig was.

OPSOMMING.

Efese was ‘n belangrike stad met strategiese waarde. Paulus het dit twee keer besoek.

Dit was ‘n goeie plek om mense met die Evangelie te bedien, as gevolg van die verskillende groepe mense wat daar gebly het. Paulus-hulle kon ook mense wat net daar verbygereis het, bereik.

Efese se ligging en geskiedenis maak dit die ideale plek om kerke te plant en so die Evangelie deur die stad en omliggende gebiede te versprei. Dit is ook ideaal omdat reisigers en matrose op skepe bereik kon word. Hulle kon dan weer die Evangelie na ander plekke toe neem.

TOEPASSING.

Paulus het Efese gekies omdat dit ‘n strategiese plek was vanwaar hy die Evangelie kon verkondig.

God het ons gestuur om ook vir ander van Jesus te vertel. Waar is die strategiese plekke hier waar ek bly, wat ideaal is om ander te bereik om hulle van Jesus te vertel?

Dis iets wat ek moet uitvind. Dan moet ons begin om daarheen te gaan sodat ons kan uitreik na ander. Ek kan dit alleen doen, of ek kan ‘n paar vriende saamnooi. Ek kan selfs die kerk ook betrek en ‘n paar gemeentelede saamnooi.

JOU BEURT.

Ek weet nie van jou nie, maar hierdie agtergrond-studie oor Efese was vir my baie interessant.

En noudat jy weet hoe maklik dit eintlik is om so ‘n studie te doen, is dit jou beurt.

Watter boek, stad, persoon of onderwerp gaan jy gebruik om ‘n agtergrond-studie te doen voor jou volgende Bybelstudie?

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *