
Het jy geweet die Bybel was oorspronklik sonder hoofstukke en verse? Dis eers in 1228 nC wat Biskop Stephen Langton die Bybel in verskillende hoofstukke verdeel het. Dis gedoen om die Bybel meer toeganklik vir lesers te maak.
Hoewel die hoofstukke soms die vloei van ‘n gedeelte onderbreek, is dit tog nutting wanneer ‘n mens Bybelstudie doen.
Die Bybel bestaan dus op dié stadium uit 1189 hoofstukke. As jy die hoofstukopsommingsmetode, waaroor ons vandag gaan gesels, gebruik, en jy som twee hoofstukke ‘n dag op, kan jy die Bybel in 20 maande opsom.
Maar dis nie so ‘n goeie idee om teen hierdie spoed te werk te gaan nie.
‘n Mens kan maklik verveeld raak met hierdie metode, as dit al een is wat jy gebruik. Daarom beveel ek aan dat jy hierdie metode gebruik wanneer jy ‘n spesifieke hoofstuk van ‘n boek wil studeer. Gebruik dan van die ander metodes tussen-in vir afwisseling.
WAT IS DIE HOOFSTUK-OPSOMMINGSMETODE?
Die hoofstuk-opsommingsmetode help jou om ‘n geheelbeeld van die inhoud van ‘n spesifieke hoofstuk van die Bybel te kry.
Dit word gedoen deur die hoofstuk ‘n paar keer deur te lees, spesifieke vrae daaroor te vra, die antwoorde neer te skryf en die hoofgedagtes in die gedeelte op te som.
WAAROM MOET EK DIE METODE GEBRUIK?
Jy wonder dalk nou waarom jy hierdie studiemetode moet gebruik. Daar is ‘n paar redes waarom die metode belangrik is.
In die eerste plek is dit ‘n maklike metode om te leer. Selfs iemand wat nog nooit Bybelstudie gedoen het nie, kan hierdie metode vinnig baasraak.
In die tweede plek is dit ‘n metode wat nie baie tyd vat nie. So ‘n studie kan gewoonlik in 20 tot 30 minute gedoen word. Dit is dus ‘n goeie metode as jy nie baie tyd tot jou beskikking het nie.
Laastens is hierdie een van die metodes waar jy geen hulpmiddele nodig het nie. Al wat jy nodig het is jou Bybel, ‘n notaboek en pen en die stappe wat jy gaan volg. Dis die ideale studiemetode om te gebruik as jy, byvoorbeeld, in die wagkamer by die dokter sit en jy wil jou tyd konstruktief gebruik.
Leer meer oor die gelykenisse wat Jesus vertel het deur die Gelykenisse Van Jesus Bybelstudie te gebruik. Die stappe wat jy in die studie volg, gaan jou ook leer hoe om self Bybelstudie te doen.

STAPPE VAN DIE HOOFSTUK-OPSOMMINGSMETODE.
Die hoofstuk-opsommingsmetode het tien stappe. Dis nou as jy die feit dat jy die hoofstuk deurlees, nie as ‘n stap tel nie. As jy dit wel as ‘n stap tel, dan is daar elf stappe.
So, kom ons tel die lees van die gedeelte ook as ‘n stap, en werk dan op elf stappe.
STAP 1: LEES DIE GEDEELTE.
Die eerste stap is dan om die hoofstuk wat jy wil studeer, deur te lees. Moet dit nie net een keer lees nie. Lees dit ten minste vyf keer, of selfs meer.
Jy sien, die beste manier om ‘n gedeelte in die Bybel te leer ken, is om dit oor en oor te lees.
Daar word gesê dat G. Campbell Morgan baie kragtige preke gelewer het. Toe hy gevra is hoe hy dit regkry om God se Woord so duidelik oor te dra, het hy geanwoord dat hy die gedeelte waaroor hy wil preek ten minste 30 tot 40 lees voor hy aan sy preek begin werk!
Maak dus ‘n punt daarvan om die hoofstuk ‘n hele paar keer deur te lees. Hier is ‘n paar wenke om jou met die lesery te help:
- Gebruik ‘n Bybel sonder voetnotas of enige van jou eie notas. Dit sal jou help om nie op dinge wat jy reeds voorheen raakgesien het, te bly konsentreer nie. Laat die Here toe om jou nuwe insig te gee.
- Lees die hele hoofstuk. Moenie in die middel van die hoofstuk ophou nie, maar lees dit van begin tot einde. Jou doel is om die vloei van die hoofstuk te kry. Moet dus nie nou fokus op die details nie. Al wat jy nou moet doen is om die hooftema en -boodskap van die gedeelte raak te sien.
- Lees die hoofstuk uit meer as een vertaling. Jy kan selfs ‘n Engelse vertaling of twee gebruik. Dis voordelig om te sien hoe elke vertaler die oorspronklike teks benader. Onthou om die verskille wat jy raakloop, neer te skryf.
- As jy sukkel om te konsentreer, lees dan die gedeelte hardop.
STAP 2: ‘N TITEL VIR DIE HOOFSTUK.
Die volgende stap van die hoofstuk-opsommingsmetode is om te besluit watter titel jy vir hoofstuk gaan gee.
Moenie konsentreer op die titels wat in die Bybel vir hoofstukke, of dele van hoofstukke, gegee word nie. Gee dit jou eie.
Maak seker die titel is kort. Dit moet ook die boodskap van die hoofstuk in ‘n neutedop saamvat. Gebruik net een woord, as jy kan. Moet ook nie meer as vyf gebruik nie. Probeer om die sleutelwoord van die hoofstuk te kry en gebruik dit as deel van jou titel.
STAP 3: DIE INHOUD VAN DIE HOOFSTUK.
Die derde stap is om te konsentreer op die inhoud van die hoofstuk.
Jy kan dit op verskillende maniere doen. Jy kan die inhoud beskryf, dit opsom, dit parafraseer, of die hoofpunte neerskryf.
Die metode wat jy gaan gebruik gaan van twee dinge afhang: die literêre styl van die hoofstuk en die metode waarvan jy die meeste hou. Kies ‘n metode waarmee jy gemaklik is en gebruik dit.
Moenie nou al die hoofstuk probeer interpreteer nie. Skryf net jou waarnemings neer.
STAP 4: DIE HOOFKARAKTERS.
Die volgende stap is om die hoofkarakters in die hoofstuk te identifiseer. Jy kan dit doen deur die volgende vrae te vra:
- Wie is die hoofkarakters in die gedeelte?
- Hoekom word hulle in die hoofstuk ingesluit?
- Wat is daar wat belangrik is omtrent elkeen van hulle?
Jy gaan dalk die vorige hoofstuk ook moet lees as daar voornaamwoorde in die gedeelte is (hy, sy, hulle, ensovoorts) en jy nie weet na wie die voornaamwoord verwys nie.
Skryf ook neer waarom jy daardie spesifieke persone as hoofkarakters kies.
O ja, en as daar geslagsregisters in die hoofstuk is, moenie al die mense in die geslagsregister neerskryf nie. Maak net ‘n opsomming van die lys.
STAP 5: DIE SLEUTELVERS.
Vir stap 5 van die hoofstuk-opsommingsmetode gaan jy ‘n vers in die gedeelte kies wat die hele hoofstuk se boodskap opsom. In meeste gevalle is daar so ‘n vers in elke hoofstuk.
Maar dit kan gebeur dat daar nie regtig ‘n vers in die gedeelte is wat die boodskap opsom nie.
As dít gebeur, kan jy ‘n vers kies wat vir jou persoonlik uitstaan. Maak seker dis ‘n vers wat jy glo die Here wil hê jy moet toepas in jou lewe, want jy gaan dit later gebruik om jou toepassing te skryf.
STAP 6: DIE SLEUTELWOORDE.
In stap 6 gaan jy kyk wat die sleutelwoord of -woorde van die hoofstuk is.
Meeste van die tyd gaan die sleutelwoord die een wees wat die meeste in die hoofstuk gebruik word. In 1 Korinthiërs 13 is die sleutelwoord ‘liefde’. En in Hebreërs 11 is dit ‘geloof’.
Dit mag ook gebeur dat die sleutelwoord die belangrikste woord in die gedeelte is, al is word dit nie baie herhaal nie. In Romeine 6 is die sleutelwoord ‘beskou’, maar dit word net een keer in vers 11 gebruik.
Dan kan dit ook gebeur dat ‘n hoofstuk meer as een sleutelwoord het.
STAP 7: DINGE WAARMEE JY SUKKEL.
Dit is nou maar eenmaal so dat ‘n mens nie elke keer alles in ‘n hoofstuk gaan verstaan nie. Die volgende stap is dus om die dinge waarmee jy sukkel, neer te skryf.
Is daar stellings wat jy nie verstaan nie? Het jy vrae oor die gedeelte? Skryf hierdie dinge neer.
Jy kan dan later hierdie dinge in meer diepte studeer.
‘n Woord wat vir jou uitstaan kan jy later gebruik om ‘n woordstudie te doen. Of jy kan later ‘n karakterstudie doen oor ‘n karakter wat vir jou uitstaan.
STAP 8: KRUISVERWYSINGS.
Baie Bybels het kruisverwysings, wat jy kan gebruik om ander verse na te slaan.
Kruisverwysings is belangrik omdat dit ‘n nuttige hulpmiddel is om die betekenis van ‘n hoofstuk te interpreteer. Dit help jou om te sien wat die Bybel as geheel omtrent ‘n sekere onderwerp sê.
Vra jouself dus die vraag: Wat wil die Bybel hê moet ek nog oor hierdie hoofstuk verstaan?
Gebruik dan die kruisverwysings om verse na te slaan wat kan help om dit waaroor die hoofstuk gaan, duidelik te maak.

STAP 9: WAAR SIEN JY JESUS?
Meeste mense besef dit nie, maar die hele Bybel vertel vir ons meer oor die Persoon van Christus. Jesus het Self die Ou Testament gebruik om Sy dissipels meer oor Homself te leer (Lukas 24).
Stap 9 is nou om te kyk wat jy oor Jesus, die Heilige Gees of God die Vader uit die hoofstuk kan leer.
Om jou te help, vra jouself hierdie vrae:
- Wat leer ek oor die karakter van Jesus uit hierdie gedeelte?
- Watter karaktertrekke van Jesus sien ek in die gedeelte raak?
Hierdie is die moeilikste stap in die proses, so moenie moed opgee as jy nie dadelik ‘n antwoord kry nie. Vra die Here om jou te help om Hom in die gedeelte raak te sien.
STAP 10: BELANGRIKE LESSE.
Die volgende stap in die hoofstuk-opsommingsmetode is om al die belangrike beginsels en lesse wat jy uit die hoofstuk leer, neer te skryf.
Vra jouself die volgende:
- Waarom het God hierdie gedeelte in die Bybel ingesluit?
- Wat wil Hy my uit die gedeelte leer?
- Wat is die hoofgedagte wat die skrywer probeer verduidelik?
STAP 11: TOEPASSING.
Die laaste stap van die hoofstuk-opsommingsmetode is om ‘n toepassing te skryf. Om jou hiermee te help kan jy die volgende vrae vra:
- Hoe is die waarhede in die gedeelte op my persoonlik van toepassing?
- Wat gaan ek doen met dit wat ek geleer het?
Onthou ook om die Here te vra om jou te help om jou toepassing te skryf. ‘n Mens sien nie altyd dadelik die toepassing op jou eie lewe raak nie, maar as jy Hom vra, sal Hy jou daarmee help.
HOE OM ‘N HOOFSTUK-OPSOMMING TE DOEN.
Ons het vandag gekyk na die verskillende stappe wat jy gebruik wanneer jy die hoofstuk-opsommingmetode gebruik om Bybelstudie te doen.
In die volgende artikel gaan ons saam so ‘n hoofstuk-opsomming doen, sodat jy presies kan sien hoe dit werk. Moet dus nie vergeet om weer ‘n draai te maak en meer te leer oor die hoofstuk-opsommingsmetode nie.
