BYBELSTUDIE: DIE HOOFSTUK-STUDIEMETODE

As jy al lank hier by Bybel En Gebed is, dan het jy al van die Bybelstudie-metodes waaroor ons voorheen gesels het, gesien. Vandag gaan ons weer oor ‘n Bybelstudie-metode gesels. Hierdie metode word die Hoofstuk-studiemetode genoem. Hoekom? Want jy studeer ‘n Bybelhoofstuk op ‘n slag.

WAAROM ‘N HOOFSTUK OP ‘N SLAG?

Dalk wonder jy nou waarom ‘n mens die Bybel hoofstuk vir hoofstuk wil studeer.

In ‘n hoofstukstudie fokus ‘n mens op die details van die hoofstuk. Wanneer jy dít doen, help dit jou om beter te verstaan wat die skrywer probeer sê.

Elkeen van die volgende stappe sal jou help om die belangrike punte raak te sien.

DIE 4 W’S EN 2 H’S.

In Joernalistiek maak joernaliste gereeld gebruik van die 4 W’s en 2 H’s wanneer hulle ‘n artikel skryf. Dit staan vir wie, wat, wanneer, waar, hoe en hoekom.

Maar hierdie vrae is nie net handig vir joernaliste nie, dis ook handig wanneer jy Bybelstudie doen.

Begin deur die teks ‘n paar keer deur te lees. Vra die hele tyd die vrae: Wie, Wat, Wanneer, Waar, Hoe, Hoekom.

Kom ek gee jou ‘n voorbeeld. As jy Johannes 1 bestudeer, kan jy vra:

Oor Wie gaan hierdie?

Wanneer?

Waar was die Woord?

Wie was die Woord?

Wat het die Woord gedoen?

Hou net in gedagte dat nie alle verse of hoofstukke al die 4 W’s en 2 H’s oor ‘n persoon of onderwerp gaan antwoord nie. Maar hou hierdie vrae in gedagte.

Daar is ‘n paar dinge wat jy kan doen om jou te help om die vrae te antwoord.

MERK SLEUTELWOORDE EN -FRASES.

Die eerste stap van die hoofstuk-studiemetode is om sleutelwoorde of –frases te merk.

Sleutelwoorde is woorde wat oral in die teks herhaal word. ‘n Sleutelfrase is weer ‘n frase wat meer as een keer in die teks herhaal word. Dis woorde en frases wat belangrik is om die betekenis van die teks te verstaan.

Wanneer jy die hoofstuk-studiemetode gebruik, doen die volgende:

Merk elke sleutelwoord of -frase op ‘n spesifieke manier. En moenie vergeet van die woord se sinonieme en voornaamwoorde nie. Jy kan kleure of simbole of albei gebruik om die woorde of frases te merk.

Kom ons kyk weer na ‘n voorbeeld.  In Johannes 1 is “die Woord” die sleutelwoord wat jou gaan help om Johannes 1 te verstaan.

LYSTE.

‘n Lys is ‘n samestelling van al die feite oor ‘n spesifieke woord of persoon. Dit gee die 4 W’s en 2 H’s – Wie, Wat, Wanneer, Waar, Hoe, Hoekom – oor die woord of persoon.

Die volgende stap is dus om  ‘n lys te maak van wat die teks oor elke sleutelwoord sê. Kyk na elke keer wat jy ‘n spesifieke sleutelwoord gemerk het. Skryf dan neer wat die teks oor die woord sê.

As ons weer kyk na ons voorbeeld van Johannes 1, dan gaan ons lys oor ‘die Woord’ só begin:

Die Woord was:

in die begin (vs.1)

by God (vs.1)

God (vs.1)

in die begin by God (vs.2)

TEENSTELLINGS.

Die derde stap van die hoofstuk-studiemetode is om op te let na dinge wat teenoor mekaar gestel word.

‘n Teenstelling dui verskille aan. Om makliker raak te sien waar ‘n teenstelling in die hoofstuk verskyn, kan jy dit met ‘n simbool in die kantlyn aandui. Jy kan iets gebruik soos die hoofletter O met ‘n skuinsstreep deur die middel.

Voorbeeld: Johannes 1:17: “God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.”

Woorde wat jou kan help om te sien wanneer iets ‘n teenstelling is, is woorde soos “maar”, “alhoewel” en “nogtans”.

Voorbeeld: Johannes 4:1-2: “Toe die Here dan verneem dat die Fariseërs gehoor het dat Jesus meer dissipels maak en doop as Johannes — alhoewel Jesus self nie gedoop het nie, maar sy dissipels…” (OAV).

VERGELYKINGS.

Net soos ‘n teenstelling belangrik is om die hoofstuk te verstaan, is ‘n vergelyking ook belangrik.

Vergelykings dui dinge aan wat dieselfde is. Jy kan weereens ‘n simbool in die kantlyn by die vers sit om jou te help onthou dat daar ‘n vergelyking in daardie vers is. Jy kan iets gebruik soos – =.

Voorbeeld: Johannes 10:9: “Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word.”

Gelukkig is daar ook woorde wat ons kan help om te sien wanneer iets ‘n vergelyking is. Dit sluit woorde soos “so” en “as” in. Maar onthou, nie elke ‘so’ en ‘as’ dui ‘n vergelyking aan nie!

Voorbeeld: Johannes 3:14-15: “Moses het die slang in die woestyn hoog op ‘n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.”

GEVOLGTREKKINGS.

‘n Gevolgtrekking wys ons daarop dat ‘n gevolgtrekking of slotsom gemaak word. Dit help jou ook om die “Waarom”-vraag te antwoord.

Terwyl jy deur die teks lees, kyk of daar woorde is wat ‘n gevolgtrekking aandui. Dit sluit woorde in soos “Daarom”.

Voorbeeld: Mattheus 6:25: “Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie?”

TYDSAANDUIDING.

Daar is soveel verskillende dinge waarna ‘n mens kan oplet wanneer jy die hoofstuk-studiemetode gebruik. Woorde wat tyd aandui is een van dié dinge.

Dit kan woorde soos “Toe”, “Daarna”, “Die dag van…” wees en wys jou op tyd, die verloop van gebeure of voortgang..

Voorbeeld: Johannes 1:2: “Hy was reeds in die begin by God.”

ONDERWERPE OF TEMAS.

Die laaste ding waarna jy moet oplet wanneer jy die hoofstuk-studiemetode gebruik is onderwerpe of temas.

Lees die hoofstuk paragraaf vir paragraaf deur. Paragrawe word gewoonlik aangedui deur ‘n inkeping aan die begin van die paragraaf.

Lees elke paragraaf en skryf in die kantlyn neer wat die onderwerp, gebeure of hoofpunt van die paragraaf is.

Voorbeeld: In Johannes 1:6-8 sien ons Johannes getuig oor die lig:

6 Daar was ‘n man wat deur God gestuur is. Sy naam was Johannes.
7 Hy het gekom om te getuig; hy moes getuig van die lig, sodat almal deur hom tot geloof kon kom.
8 Hy was self nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig.

ONTHOU OM DIE VRAE TE ANTWOORD!

Elkeen van die stappe hierbo gaan jou help om een van die 4 W’s en 2 H’s-vrae te antwoord. Dit kan selfs gebeur dat ‘n stap jou help om meer as een van die vrae te antwoord.

Moet dus nie vergeet om heeltyd neer te skryf wat jy leer nie.

Na jy al die inligting wat jy in die hoofstuk raakgesien het bymekaar het, kan jy ‘n opsomming skryf oor wat jy geleer het.

DEEL WAT JY LEER.

Een van die beste maniere om jou te help onthou wat jy geleer het, is om dit neer te skryf. Nog ‘n goeie manier is om wat jy geleer het, met iemand anders te deel.

As jy dit vir iemand anders moet vertel, moet jy in jou eie woorde oorvertel wat jy geleer het. Dit help jou om te sien of jy regtig verstaan wat jy geleer het.

Dit skerp dit ook by jou in. En onthou, wat jy op dié manier in jou hart bêre, kan die Heilige Gees later weer gebruik om jou te lei, te bemoedig en verder te leer.

As jy dus vandag lus is vir ‘n nuwe uitdaging, gebruik die Hoofstuk-studiemetode om ‘n boek van die Bybel hoofstuk vir hoofstuk te studeer.

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *