
Die vers-vir-vers Bybelstudie-metode is ‘n goeie idee wanneer jy nie tyd het vir ‘n indiepte studie nie.
Soos die naam van die metode aandui, kyk ‘n mens na elke vers in die gedeelte wat jy studeer deur vyf verskillende vrae oor elke vers te antwoord.
‘N OORSIG VAN DIE VERS-VIR-VERS METODE.
Voor ons kom by die detail van hoe jy die metode gebruik, net eers ‘n vinnige oorsig.
Wanneer jy die vers-vir-vers Bybelstudie-metode gebruik, kies jy ‘n Bybelgedeelte en ondersoek dit deur vrae te vra, kruisverwysings te soek en elke vers in jou eie woorde te skryf. En jy eindig met gedagtes oor hoe jy, wat jy geleer het, in jou lewe kan toepas.
WAT JY GAAN NODIG Hê.
Vir hierdie metode het jy nie so baie hulpmiddele nodig as vir sommige ander metodes nie.
Dis dus ‘n goeie metode om te gebruik wanneer jy nog nie al die hulpmiddele het, wat jy in jou Bybelstudies wil gebruik nie.
Vir die vers-vir-vers Bybelstudie-metode het jy die volgende nodig:
Studie-Bybel
Notaboek of joernaal
Konkordansie
Bybelwoordeboek of Bybel-ensiklopedie
Woordstudies
Die laaste drie hulpmiddele is aanlyn beskikbaar, maar dis in Engels. Maar as dit jou nie pla nie, kan dit jou regtig help wanneer jy Bybelstudie doen.
HOE DIE METODE WERK.
Nou kom ons by die lekker deel.
Na jy ‘n gedeelte gekies het wat jy wil studeer, volg hierdie ses stappe.
Onthou om al ses stappe by elke vers te volg.
STAP 1: DIE VERS.
Stap 1 is sommer baie maklik.
Al wat jy moet doen is om die vers waarmee jy besig is, net so – woord-vir-woord – in jou notaboek oor te skryf.
STAP 2: JOU EIE WOORDE.
Volgende gaan jy die vers in jou eie woorde oorskryf.
Probeer om so na as moontlik aan die vers te bly.
Probeer ook om die vers eerder op te som as om dit uit te brei.
As jy sukkel, gebruik ‘n parafrase van die Bybel om jou ‘n idee te gee hoe om dit te doen. Maar moenie net die parafrase oorskryf nie! Kyk net hoe jy dit moet doen en skryf dan die vers in jou eie woorde oor.
STAP 3: VRAE, ANTWOORDE EN WAARNEMINGS.
Lees jou vers nog ‘n slag.
Het jy enige vrae oor van die woorde of frases in die teks?
Dalk het jy vrae oor die persoon of persone in die teks. Of dalk oor die onderwerp of die leerstellings in die vers.
Skryf enige vrae wat jy oor die vers het, neer.
Doen bietjie navorsing en kyk of jy antwoorde op jou vrae kan kry. Skryf dit ook neer.
En laastens, skryf enige iets wat jy in die teks waarneem, neer.
Maak dit vir maklik vir jouself en merk wat jy doen as volg:
V = Vraag
A = Antwoord
W = Waarneming

STAP 4: SOEK KRUISVERWYSINGS.
Die volgende stap is om ‘n kruisverwysing of twee vir elke vers te soek.
As jou Bybel kruisverwysings in het, is dit sommer maklik om te kry. Kruisverwysings is gewoonlik in die middel van die bladsy tussen die twee kolomme. Maar dit kan ook aan die onderkant van die bladsy wees.
Kyk wat se kruisverwysings jy vir elke vers kan kry en skryf dit neer. Sorg dat jy ten minste een kruisverwysing vir elke vers het.
Onthou ook om neer te skryf watter woord of frase jou kruisverwysing by hoort.
As jou Bybel nie kruisverwysings in het nie, kan jy ‘n konkordansie gebruik om dieselfde te doen. Sommige Bybels het konkordansies in die agterkant van die Bybel, maar jy kan ook aanlyn-konkordansies gebruik.
STAP 5: WAT LEER JY UIT DIE VERS?
Nadat jy gedink het oor die woorde, frases en konsepte in die vers is dit tyd om neer te skryf wat jy geleer het.
Dit kan dinge wees soos:
- nog waarnemings
- woorde of name wat jy nageslaan het en wat dit beteken
- enige ander gedagte wat by jou opkom oor die vers wat jy studeer.
Skryf alles neer wat jy oor elke vers leer, maak nie saak hoe groot of klein dit is nie.
STAP 6: ‘N PERSOONLIKE TOEPASSING.
Die laaste stap is om neer te skryf hoe jy, wat jy geleer het, in jou lewe gaan toepas.
Omdat jy ‘n paar verse op ‘n slag studeer, gaan dit dalk nie moontlik wees om ‘n toepassing vir elke vers te skryf nie. Maar moenie daaroor kommer nie. Kyk of daar iets in enige van die verse is wat uitstaan en wat op jou van toepassing is. Skryf dit dan neer en skryf ook neer hoe jy dit prakties gaan toepas.
As jy nié so iets in die verse kry nie, skryf dan ‘n paar algemene toepassings neer – iets wat enige iemand in hulle lewens kan toepas. ‘n Mens weet nooit wanneer jy daardie toepassings in jou eie lewe gaan nodig kry nie!
GEDEELTES OM TE STUDEER.
Is jy lus is om sommer dadelik met ‘n vers-vir-vers studie te begin?
Probeer dan van die korter briewe in die Nuwe Testament. Dis nou briewe soos 1 en 2 Timotheus, die drie briewe van Johannes, Filippense, Kolossense, Filemon en Judas.
As jy nog ‘n bietjie meer oor die vers-vir-vers Bybelstudie-metode wil weet, kom maak dan volgende week weer ‘n draai op die blad. Ons gaan dan saam ‘n vers-vir-vers Bybelstudie doen sodat jy mooi kan sien hoe dit werk voor jy dit self probeer.
