BYBELSTUDIE-METODES VIR BEGINNERS

Vier maklike Bybelstudie-metodes

Nog nooit voorheen Bybelstudie gedoen nie? Hier is vier maklike Bybelstudie-metodes vir beginners wat jy kan gebruik om jou te help om te begin om God se Woord te studeer.

God het in Sy wysheid almal van ons uniek gemaak. Dit beteken, onder andere, dat ons unieke persoonlikhede het en elkeen ‘n unieke doel op aarde het. Dit beteken ook dat elkeen van ons ‘n unieke manier het waarop ons dinge doen. Dis ook nie anders wanneer dit by Bybelstudie kom nie. Een Bybelstudie-metode is ideaal vir sekere mense terwyl ‘n ander een weer beter werk vir ander. Sommige studiemetodes is maklik en ‘n goeie idee om mee te begin wanneer jy nog nie voorheen Bybelstudie gedoen het nie. Ander metodes is moeiliker en ideaal vir diegene wat al lank Bybelstudie doen.

In hierdie artikel gaan ons gesels oor vier van die maklike Bybelstudie-metodes vir beginners, wat jy kan probeer as jy nog nooit voorheen Bybelstudie gedoen het nie. In die volgende artikel gaan ons kyk na ‘n paar van die moeiliker metodes, wat diegene wat reeds lankal Bybelstudie doen, kan probeer.

WAT IS ‘N BYBELSTUDIE-METODE?

As jy nog nooit Bybelstudie gedoen het nie, dan wonder jy dalk wat op aarde ‘n Bybelstudie-metode nou eintlik is en waarom jy een moet gebruik?

‘n Bybelstudie-metode is ‘n raamwerk wat ons gebruik om die Bybel te verstaan en toe te pas in ons lewens. Dit help ons om die belangrike dinge raak te sien en daarop te fokus.

Verskillende studiemetodes fokus op verskillende dinge, maar almal het ‘n paar dinge in gemeen. Dit help jou om te sien wat in die Bybel staan. Die geleerde woord hiervoor is ‘waarneming’.

Dan help dit jou om te verstaan wat die skrywer met dit wat hy geskryf het, bedoel. Die mooi woord daarvoor is ‘interpretasie’.

Verder help dit jou om te begin dink oor hoe jy dit wat jy leer, in jou lewe gaan toepas, met ander woorde, toepassing.

Die Bybelstudie-metodes vir beginners waaroor ons vandag gaan gesels is:

  • Die W.O.R.D.-studiemetode
  • Die A.P.P.L.E.-studiemetode
  • Die B.A.A.T.-studiemetode
  • Die S.O.A.P.-studiemetode

Elkeen van dié studiemetodes se naam vorm ‘n akroniem, wat jou gaan help om die stappe van die metode te onthou.

DIE W.O.R.D.-STUDIEMETODE.

Die naam van hierdie studiemetode is ‘n Engelse akroniem en staan vir:

W – Write
O – Observe
R – Relevant
D – Declare

Wanneer ons dit in Afrikaans vertaal, staan dit vir: Skryf, Waarneem, Toepas, Verklaar.

HOE DIE METODE WERK.

Die vier stappe van die Bybelstudie-metode werk so:

Lees die gedeelte wat jy wil studeer ‘n paar keer deur.

Skryf: Skryf enige vers of verse wat vir jou uitstaan woord vir woord in ‘n notaboek of joernaal neer.

Waarneem: Vra vrae oor die teks om jou te help om te sien wat regtig daar staan. Begin jou vrae met woorde soos Wie, Wat, Wanneer, Waar, Waarom en Hoe. Jy kan in HIERDIE ARTIKEL meer lees oor hoe om hierdie tipe vrae oor ‘n gedeelte in die Bybel te vra.

Toepassing: Dink na oor hoe jy dit wat jy pas geleer het, in jou lewe kan toepas.

Verklaar: Die laaste stap van die studiemetode is om die gedeelte oor jou lewe te bid en uit te spreek.

Hierdie is net ‘n kort samevatting van die studiemetode. As jy meer daaroor wil weet, kan jy HIERDIE ARTIKEL lees. Ons gesels onder andere oor vrae wat jy by die Waarneming- en Toepassingstappe kan vra om jou daarmee te help.

DIE Die A.P.P.L.E.-STUDIEMETODE.

Die naam van hierdie studiemetode is weereens ‘n Engelse akroniem en staan vir:

A – Attributes of God.
P – Promises of God.
P – Principles for life.
L – Lessons learned.
E – Example to follow.

HOE DIE METODE WERK.

Die vyf stappe van hierdie metode werk so:

Lees die gedeelte wat jy gaan studeer een keer deur. Nadat jy dit gelees het, gaan jy die stappe van die Bybelstudie-metode so volg:

A (Attributes of God) – Lees die gedeelte weer en kyk of jy enige eienskappe of karaktertrekke van God in die gedeelte sien. Skryf neer wat jy raaksien.

P (Promises of God) – Lees die gedeelte weer deur en wees op die uitkyk vir enige beloftes in die gedeelte. As jy ‘n belofte sien, skryf dit neer.

P (Priciples for life) – Nou gaan jy weer die gedeelte lees en kyk of daar enige beginsels in die gedeelte is waarvolgens ons moet leef. Skryf dit ook neer.

L (Lessons to learn) – Lees weer ‘n keer die gedeelte en kyk of daar ‘n les is wat jy moet leer of sonde wat jy moet vermy. Skryf neer wat jy leer.

E – (Example to follow) – Lees ‘n laaste keer deur die teks en kyk of daar ‘n voorbeeld is wat jy kan volg.

Vir meer inligting oor hierdie studiemetode kan jy HIERDIE ARTIKEL lees. Daar is weereens voorbeelde van vrae wat jy kan vra om jou met die verskillende stappe te help.

DIE B.A.A.T.-STUDIEMETODE.

Anders as die vorige twee studiemetodes, is hierdie ‘n Afrikaanse akroniem. Dit staan vir:

B – Bepaal
A – Aandui
A – Aanmoedig
T – Toepassing

Vir elke letter van die akroniem is daar ‘n vraag wat jy vra.

B – Bepaal: Waaroor gaan die gedeelte?
A – Aandui: Wat is die waarheid of wysheid wat die gedeelte aandui?
A – Aanmoedig: Wat moedig die gedeelte my aan om te doen?
T – Toepassing: Hoe kan ek dit wat ek geleer het, in my lewe toepas? (Elkeen van ons gaan ‘n anderantwoord op hierdie vraag hê omdat ons verskillende mense met verskillendeomstandighede is.)

In HIERDIE ARTIKEL gesels ons ‘n bietjie meer in diepte oor hierdie studiemetode.

DIE S.O.A.P.-STUDIEMETODE.

Hierdie studiemetode se naam is weer ‘n Engelse akroniem en staan vir:

S – Scripture (Skrifgedeelte)
O – Observation (Waarneming)
A – Application (Toepassing)
P – Prayer (Gebed)

HOE DIE METODE WERK.

In kort werk hierdie metode so:

Skrifgedeelte – Lees die gedeelte wat jy wil studeer.

Waarneming – Die volgende stap is om te kyk wat die gedeelte nou eintlik sê. Wat let jy op omtrent die verse wat jy gelees het? Wat wou die skrywer in die stuk aan die lesers oordra?

Toepassing – Vra jouself hoe jy dit wat jy geleer het, in jou lewe kan toepas.

Gebed – Eindig jou studietyd deur vir jouself en vir andere te bid. Onthou ook om die Heilige Gees te vra om jou te help om dit wat jy geleer het, in jou lewe toe te pas.

As jy meer oor hierdie studiemetode wil weet, kan jy HIERDIE ARTIKEL lees.

Daar is ook ‘n Bybelstudie in ons aanlyn-winkel beskikbaar, waar ons hierdie metode gebruik om Bybelstudie te doen oor die gebede wat Paulus skryf hy vir die gelowiges bid.

BYBELSTUDIE-METODE E-BOEK.

Die vier Bybelstudie-metodes vir beginners waaroor ons gesels het, is deel van die Bybelstudie-Metode E-Boek wat jy gratis hier op Bybel En Gebed kan aflaai. In dié boekie gesels ons in meer diepte oor die vier metodes hierbo. Ons gesels ook oor vyf ander maklike metodes wat jy kan probeer.

As jy belangstel in die boekie, vul dan net jou inligting hieronder in.

Ek vertrou dat jy in die e-boekie ‘n studiemetode gaan kry wat presies die een is wat jy, as unieke kind van God, kan gebruik om meer oor Sy Woord te leer.

.
Deel hierdie blad

2 comments

  1. Baie dankie Risa vir die verskeie soort bybelstudie-metodes. Dit gaan my baie help om hoe ek my bybel moet lees en verstaan

  2. Dankie vir die deel van jou kennis.
    Ek sal op n stadium meer wil weet oor Woord soek of Woord vra. Ek kon nog nooi mooi verstaan hoe om leiding te vra deur die Woord .

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *