
Daar is sommer baie verskillende Bybelstudie-metodes wat jy kan gebruik wanneer jy Bybelstudie doen. Sommige van dié metode is heel maklik. Dan is daar ander metodes wat weer bietjie moeiliker is. Ons het in die vorige artikel op Bybel En Gebed gesels oor een van die moeiliker studiemetodes, die Boek-oorsig metode. Ek het die stappe van die studie verduidelik en ook belowe dat ons in die volgende artikel saam ‘so ‘n ‘n Boek-oorsig Bybelstudie gaan doen, sodat jy beter kan sien hoe dit werk.
Dis dan presies wat ons vandag gaan doen. Ons gaan veronderstel dat ons die brief wat Paulus aan die gelowiges in Efese geskryf het, studeer.
STAP 1: LEES DIE BOEK.
Die eerste stap van die boek-oorsig Bybelstudie-metode is om die boek wat jy studeer, te lees. Skryf in jou notaboek watter boek jy studeer, hoeveel hoofstukke dit het en ook hoeveel keer jy dit gelees het.
Jou aantekeninge kan dan só lyk:
Boek: Efesiërs.
Hoofstukke: 6.
Hoeveel keer gelees: 5.
STAP 2: MAAK NOTAS.
Die tweede stap is om notas te maak oor dinge wat ons in die boek wat ons studeer, raakgesien het. Dit sluit dinge in soos wat se tipe boek dit is, hoekom dit geskryf is, ensovoorts.
Oor Efesiërs kan ons die volgende skryf:
Tipe boek: Brief in die Nuwe Testament.
Eerste indrukke: Die boek leer my meer oor die verskil tussen wie ek was voor ek vir Jesus ontmoet het, en wie ek nou in Hom is. Dit moedig my aan om my geloof en nuwe identiteit in my daaglikse lewe uit te leef.
Sleutelwoorde: In Christus, in Hom.
Sleutelverse: Efesiërs 1:3 en 4:1.
Literêre styl: ‘n Algemene brief wat onderbreek word deur twee gebede van aanbidding.
Emosionele toon: Kalm. Die skrywer se doel is om die lesers te leer en hulle te herinner aan hulle verantwoordelikhede.
Hooftema: Wie ons is as gevolg van Jesus (in Christus, in Hom) asook die verantwoordelikhede wat ons het omdat ons is wie ons in Hom is.
Uiteensetting: Daar is twee hoofafdelings wat geskei word deur die woord ‘daarom’. In die eerste gedeelte is daar twee gebede opgeteken.
Hoofkarakters: Paulus, die kerk in Efese, bose magte en Tigikus.
STAP 3: DOEN ‘N AGTERGROND-STUDIE.
Volgende gaan ons bepaal wat die historiese en geografiese agtergrond van die boek is. Hiervoor kan ‘n mens die Agtergrond-studiemetode gebruik. Of jy kan die vrae, wat ek in die vorige artikel gegee het, gebruik om jou te help.
Oor die agtergrond van Efesiërs kan ons die volgende skryf:
Die gemeente in Efese het ontstaan tydens Paulus se tweede sendingreis. Priscilla en Akwila het daar agtergebly om na die nuwe gelowiges om te sien. Daar het hulle vir Apollos ontmoet en ‘n groot invloed op sy lewe gehad.
Tydens sy derde sendingreis het Paulus weer by Efese aangedoen. Hy het drie jaar lank daar gebly en ‘n baie geseënde bediening gehad. In hierdie tyd het die Evangelie ook wyd in die provinsie Asië versprei.
Tydens Paulus se aanhouding in Rome skryf hy ‘n brief vol bemoediging aan die gemeente. In die lig van die ander sterk godsienstige invloede wat daar in Efese was – die tempel van Artemis was byvoorbeeld in die stad – herinner Paulus die gelowiges aan hulle identiteit in Christus. Hy moedig hulle ook aan om hulle geloof in hulle daaglikse lewens uit te leef.
STAP 4: MAAK ‘N HORISONTALE TABEL.
Ons volgende stap is om ‘n horisontale tabel te maak. Dit beteken eenvoudig dat ons die inhoud van die boek in tabelvorm uiteensit.
‘n Tabel oor Efesiërs kan dan só lyk:

STAP 5: SKRYF DIE HOOFPUNTE VAN DIE BOEK NEER.
Die volgende stap is om die hoofpunte van die boek neer te skryf. Ons kan die tabel wat ons in stap 4 gemaak het, gebruik om ons daarmee te help.
Die hoofpunte van Efesiërs kan só lyk:
- Wie die lede van die Kerk is (identiteit) (1–3).
a. Deur God uitverkies (1) (eindig met ‘n gebed).
b. Deur Christus gered (2).
c. Word deur die Heilige Gees bemagtig (3) (eindig met ‘n gebed). - Wat die lede van die Kerk moet doen (4–6).
a. Hulle verantwoordelikhede (4:1–5:21). - Riglyne vir gedrag binne gesagsverhoudings (5:22–6:9).
- Hulle konflik met die magte van die duisternis (6:10–20).
- Briefslot (6:21–24).
STAP 6: SKRYF ‘N PERSOONLIKE TOEPASSING.
Soos met enige goeie Bybelstudie is die laaste stap om ‘n persoonlike toepassing te skryf. Hierdie toepassing gaan van mens tot mens verskil. ‘n Toepassing oor Efesiërs kan dan só lyk:
Daar is ‘n baie nou verband tussen wat ek glo en hoe ek optree. Wanneer ek in Jesus glo is ek veronderstel om op ‘n Christelike manier op te tree. Daar is ook sekere dinge wat God van my verwag in my verskillende verhoudinge met ander mense.
Omdat ek met ander gelowiges versoen is, moet ek bereid wees om te vergewe soos God die Vader my vergewe het. Ek is nie altyd vergewensgesind nie en het al in die verlede wrokke gekoester. Van nou af gaan ek gereeld my hart ondersoek om seker te maak dat ek enige iemand, wat ek dink teen my oortree het, vergewe het. As dit nodig is, sal ek na daardie persoon gaan en hom of haar om verskoning vra. Ek gaan ook Efesiërs 4:32 memoriseer.
NOG STUDIEMETODES.
Ek hoop dat hierdie voorbeeld van hoe jy ‘n Boek-oorsig Bybelstudie kan doen, vir jou sin maak en jou help om dit metode beter te verstaan.
As jy op soek is na nog ander studiemetodes, kan jy gerus na hierdie artikels kyk:
HOE OM ‘N ONDERWERP-STUDIE TE DOEN
HOE OM ‘N BIOGRAFIE-STUDIE TE DOEN
DIE VERS-VIR-VERS BYBELSTUDIE-METODE
Maak ook sommer ‘n draai in ons Aanlyn-winkel. Daar is twee Bybelstudies wat jy kan gebruik om jou te help om te leer hoe om self Bybelstudie te doen.
