GOD SE MISSIE VIR SY KINDERS

God se missie vir Sy kinders

Aan die einde van elke jaar is daar baie artikels op die internet wat ‘n mens aanmoedig om jou persoonlike missieverklaring (mission statement) vir die jaar te skryf.

As jy al ooit vir ‘n groot maatskappy of besigheid gewerk het, sal jy weet hulle het almal missieverklarings. Dis gewoonlik net een sin lank en verduidelik wat die maatskappy doen, hoe hulle dit doen, vir wie hulle dit doen en wat die uitkoms is van wat hulle doen.

‘n Persoonlike missieverklaring werk basies dieselfde. In kort sê jy wat jou waardes, jou doel en jou doelwitte vir die jaar is. As iemand anders jou missieverklaring lees, sal hulle weet wie jy is, wat jy wil doen en ook hoe jy dit gaan doen. Hulle gaan dalk selfs ook weet wat die uitkoms of transformasie is wat jy met dit wat jy gaan doen, wil bereik.

JOHANNES SE MISSIEVERKLARING.

In die tyd toe die Bybel geskryf is, was missieverklarings verseker nie iets waaroor mense gedink het nie. En tog kry ons in Johannes 1 ‘n perfekte uiteensetting van Johannes die Doper se missie, wat hy net sowel as sy missieverklaring kon gebruik het!

In Johannes 1:6-7 lees ons: “Daar was ‘n man wat deur God gestuur is. Sy naam was Johannes. Hy het gekom om te getuig; hy moes getuig van die lig, sodat almal deur hom tot geloof kon kom.”

Johannes het een doel gehad waarvoor God hom gestuur het. Sy missie was om te getuig. Waarvan moes hy getuig? Hy moes van die lig, dis nou Jesus, getuig. En wat sou die uitkoms van sy getuienis wees? Mense sou begin het om in Jesus te glo.

Sien jy waarom ek sê Johannes kon hierdie verse as sy missieverklaring gebruik?

MY MISSIEVERKLARING.

Ek weet nie of jy ook ‘n persoonlike missieverklaring het nie, maar ek moet erken dat dit iets is wat ek my nog nooit voorheen vreeslik aan gesteur het nie. Einde verlede jaar het dit egter verander.

Die Here het ‘n paar jaar gelede vir my ‘n frase gegee en aan die einde van 2025 het Hy my weer aan die frase herinner. Die frase is: To know Him and make Him known.

Na die Here my weer daaraan herinner het, het ek baie daaroor nagedink. En toe, een oggend in my stiltetyd, lees ek Johannes 1:6-7 en die gedeelte van almal wat glo as gevolg van Johannes se getuienis, staan baie duidelik vir my uit.

En net daar word my persoonlike missieverklaring gebore: To know Him and make Him known so all who hear might believe.

ELKE CHRISTEN SE MISSIEVERKLARING.

Hoe meer ek oor hierdie missieverklaring nagedink het, hoe meer het ek besef dis eintlik ‘n missieverklaring wat vir elke Christen se lewe bedoel is.

God het elke mens geskep met die doel om Hom te ken. Sy hart is dat ons glo in Jesus as Verlosser sodat ons weer met Hom in ‘n verhouding kan wees. Hy wil hê dat ons gereeld met Hom tyd spandeer in Sy Woord en in gebed sodat ons Hom beter kan leer ken. Hy wil die lewenspad saam met ons stap sodat ons Hom kan ervaar en lewensavonture saam met Hom kan hê.

En wanneer ons Hom ken, dan is Sy hart dat ons op ons beurt weer vir ander van Hom vertel. Ons moet vertel hoe ons lewens was voor ons Hom leer ken het en wat se verskil ‘n verhouding met Hom in ons lewens gemaak het. Ons moet praat oor die pad wat Hy met ons stap, die dinge wat Hy ons leer, hoe Hy na ons omsien en vir ons sorg.

Wanneer ons ‘n punt daarvan maak om gereeld met ander oor Hom te praat, dan sal daar mense wees wat glo omdat hulle gehoor het wat ons sê!

‘N UNIEKE SENDINGVELD.

Die Here het egter nie net vir ons ‘n missie gegee wat ons moet vervul nie. Hy het ook vir ons die plekke gegee waar ons dit moet doen. Kom ons noem dit sommer ons sendingveld.

Elkeen van ons se sendingveld lyk anders, want ons het elkeen ander plekke waar ons invloed het en waar ons mense van Jesus kan vertel sodat hulle kan hoor en glo.

‘n Ouer is byvoorbeeld in die posisie om sy kinders vir die Here groot te maak. Hulle is deel van sy sendingveld waar hy die missie om Jesus te ken en Hom bekend te maak, kan uitleef.

Die plek waar ‘n mens werk is ook deel van jou sendingveld. Die verhoudings en vriendskappe wat jy het is deel van jou sendingveld. Om die waarheid te sê, enige plek waar jy die geleentheid het om in mense se lewens in te spreek en hulle oë op Jesus te fokus, is deel van jou unieke sendingveld.

TOEGERUS VIR DIE MISSIE.

Die Here het ook nie net vir ons ‘n missie en ‘n sendingveld gegee nie; Hy het ons ook toegerus om die missie te vervul.

Elkeen van ons het ‘n unieke persoonlikheid, met unieke gawes en talente. Ons het unieke lewensomstandighede, unieke maniere hoe ons na die lewe kyk, en unieke maniere om onsself en ons ervaringe teenoor ander uit te druk. Hierdie is dinge waarmee die Here ons toegerus het om Jesus self te leer ken en ook om Hom aan ander bekend te maak.

En Hy is deur die Heilige Gees die hele tyd besig om te werk aan dit waarmee Hy ons toegerus het. Hy werk byvoorbeeld die hele tyd aan ons karakter sodat ons al hoe meer Sý karaktereienskappe begin uitleef. Hy verfyn ons gawes en talente sodat ons hulle ten volle kan gebruik in die uitbreiding van Sy Koninkryk. En soms, wanneer ons ‘n nuwe lewensfase betree, gee Hy selfs vir ons nuwe gawes of talente.

Elkeen van ons kan dus die missie om Jesus te ken en Hom aan ander bekend te maak uitleef, want die Here het ons daarvoor toegerus.

HULPMIDDELE VIR DIE MISSIE.

Ons het nou gesien dat die Here vir elkeen van ons ‘n missie gegee het. Hierdie missie is dieselfde vir elke Christen.

Ons het ook gesien Hy het vir elkeen van ons ‘n unieke sendingveld gegee waar ons dié missie moet uitleef. En ons het gesien dat Hy ons op unieke maniere toegerus het om die missie te kan vervul.

Maar wat nou van die hulpmiddele? Soms het ‘n mens byvoorbeeld ander mense nodig om jou te help om die missie te vervul. En geld is ook altyd ‘n noodsaaklikheid! Voorsien die Here hierdie dinge ook?

Die antwoord is ‘n besliste JA!

Wat jy ookal nodig het om Jesus te ken en Hom aan ander bekend te maak, sal die Here voorsien.

Hy het reeds die Heilige Gees vir elkeen van ons gegee om Jesus aan ons bekend te maak, ons te leer wat ons moet weet en ons te help verstaan. Die Heilige Gees is die Een wat in ons werk om ons te verander sodat ons meer soos Jesus word. Dis Hy wat ons help om te groei en wat ons dan ook gebruik om in ons unieke sendingveld die missie te vervul. Hy gee ons die wil, die vermoë en die krag om die goeie werke wat die Vader vir ons beplan het, uit te leef.

Verder voorsien die Here ook wanneer ons mense nodig het om ons te help met die missie. Hy voorsien die geleenthede, die finansies, die boodskap. Wat dit ookal is wat ons nodig het om die missie te vervul, ons kan die Here vertrou om dit te voorsien.

DIE MISSIE VIR DIE JAAR.

Dalk het jy reeds ‘n persoonlike missieverklaring vir die jaar wat voorlê. As jy een het, dan wil ek jou aanmoedig om dié missieverklaring – Om Jesus te ken en Hom bekend te maak sodat dié wat hoor, kan glo – jou tweede missieverklaring vir die jaar te maak.

En as ‘n missieverklaring nog nooit regtig vir jou van groot belang was nie, dan wil ek jou aanmoedig om nuut daaroor te dink en hierdie missieverklaring ook jou eie te maak.

Daar is soveel mense wat nog nie vir Jesus ken nie. Baie het al van Hom gehoor, maar hulle het nog nooit tot die oortuiging gekom dat hulle Hom nodig het nie. Hulle het nog nooit besef Hy is die Seun van God wat gekom het om die sonde van die wêreld weg te neem nie. En hulle is salig onbewus van die feit dat ‘n verhouding met God slegs moontlik is deur geloof in Jesus. So gaan hulle deur die lewe en weet nie dat daar ‘n dag gaan kom waar hulle nie meer die keuse kan maak nie en waar hulle vir altyd van God geskei gaan wees.

Die Vader het vir ons die missie gegee om Jesus self te leer ken en Hom dan ook aan ander bekend te maak. Ons moet hierdie missie ernstig opneem en dit daar waar Hy ons geplaas het, uitleef.

Gaan jy vandag JA sê vir hierdie missie? Gaan jy moeite doen om Jesus self te leer ken en Hom dan aan ander bekend maak? Onthou, daar is lewens wat beïnvloed gaan word deur jou antwoord. Dink dus mooi daaroor. Iewers het iemand teenoor jóú van Jesus getuig en jy het geglo. Wees jy nou weer op jou beurt die een wat teenoor ander getuig, sodat hulle ook kan glo!

LEER JESUS BETER KEN.

Een manier om Jesus beter te leer ken is om gereeld saam met Hom tyd in Sy Woord en in gebed te spandeer. As jy hulp daarmee nodig het, loer dan gerus na die Stiltetyd Skatkis, wat in ons aanlyn-winkel beskikbaar is. In dié skatkis is daar drie e-gidse:

By Jesus Se Voete – ons stiltetydgids wat jou gaan help om te leer hoe om stil te word by die voete van Jesus.

Hart Tot Hart – ons gebedsgids wat jou help om die basiese beginsels van gebed te verstaan en te begin toepas.

Jesus, Die Bybel, En Jy – ons gids waarin jy leer hoe om die VOLG-metode te gebruik om tyd in jou Bybel te spandeer sodat jy dit beter verstaan en ook kan toepas in jou lewe.

Maak dus sommer nou ‘n draai in die aanlyn-winkel en kry dié drie hulpmiddele om in jou tyd saam met die Here te gebruik.


NOG ARTIKELS OM JOU TE HELP.

JESUS IS LEWE

AGAPE LIEFDE: GOD SE MANIER

DIE WOORD VAN GOD

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *