DIE WOORD VAN GOD

Die Woord van God

Spreuke 4:5-9: “Sorg dat jy wysheid bekom, en insig! Moenie my woorde vergeet en daarvan afwyk nie; maak die wysheid jou metgesel, dit sal jou beskerm; as jy dit liefhet, sal dit jou veilig bewaar. Die wysheid kom eerste. Sorg dat jy wysheid bekom, gee alles wat jy het, om insig te kry! Slaan dit hoog aan, dan sal dit aan jou aansien gee. Dit sal jou ‘n man van betekenis maak as jy dit vasgryp. Dit sal jou lewe versier, dit sal vir jou ‘n sierlike kroon wees.”

Ek luister een dag na ‘n ‘teaching’ van Gloria Copeland waarin sy vertel dat sy jare gelede op ‘n stadium besluit het om die vier Evangelies en Handelinge vier keer binne dertig dae deur te lees. Haar kinders was nog klein,haar huis was deurmekaar omdat hulle pas getrek het en sy het al haar huiswerk self gedoen, so dit was nie ‘n maklike ding om te doen nie. Sy het egter die besluit geneem en uitgewerk dat dit haar ongeveer vier ure per dag gaan neem om in haar doel te slaag.

Sy het vroeg opgestaan en gelees totdat die res van die gesin wakker geword het. Later die dag, wanneer die kindertjies hulle middagslapie geniet het, het sy weer gelees. En vanaand, wanneer haar huiswerk klaar was, het sy in die bed gaan klim en die res, waarby sy nog nie uitgekom het nie, gelees. Sy vertel dat dit verstommend was om te sien hoe haar tyd ‘vermeerder’. Aan die einde van dag een, het sy meer gedoen gehad as wat sy onder normale omstandighede gedoen gekry het.

Aan die einde van die dertig dae, het sy nie net die Evangelies en Handelinge vier maal deurgelees nie, sy het al haar werk in die huis klaargekry, haar kinders versorg en verskeie meubelstukke gerestaureer!

Sy sê dat sy daardeur geleer het hoe belangrik dit is om die Woord van God altyd eerste plek in jou lewe te gee. Sy weet nou dat jy nie die lees van jou Bybel iewers in jou skedule moet probeer inpas nie, maar om jou skedule rondom die lees van die Bybel uit te werk.

Sy sê ook wanneer sy sien dat sy nie meer by alles uitkom wat sy in ‘n dag moet doen nie, kan sy maar net gaan kyk of sy elke dag tyd in die Woord spandeer het en sy sal elke keer sien dat sy die Woord nie meer eerste plek gegee het nie.

Dis so maklik om lui te word om jou Bybel te lees. Dis makliker om soggens liewer nog ‘n rukkie te lê as om dalk 5 uur al op te staan sodat jy genoeg tyd het om eers jou Bybel te lees en met God in gebed te praat voordat jy die dag aanpak. Dis ook makliker om, as jy verkies om jou stiltetyd saans te hou, eerder nog ‘n program op TV te kyk as wat dit is om die TV af te skakel en by God uit te kom.

Ons moet onthou dat die Bybel nie bedoel is as ‘n geskiedenisboek of ‘n boek met ‘n klompie voorstelle wat ons kan toepas as ons wil of kan ignoreer as ons so voel nie.

Die Bybel is ons handboek vir die lewe. Dit leer ons Wie God is. Dit leer ons wie ons is in Christus, wat aan ons behoort danksy Hom, wat God se wil vir ons lewens is en hoe om die lewe te benader sodat ons suksesvol daarin kan wees.

Dit is vol beloftes van God, maar daar is ook waarskuwings om ons te help om die slegte te vermy en die goeie na te jaag. Die Woord is lewend en, as ons elke dag ‘n dosis daarvan in ons lewens inneem, sal dit in ons en vir ons doen presies wat God sê dit sal doen (Jesaja 55:11).

Ek weet nie hoe gereeld jy jou Bybel lees nie, maar ek wil jou aanmoedig om ‘n punt daarvan te maak om dit elke dag te doen. Ons eet tog elke dag ten minste een keer sodat ons ons liggame kan voed. Waarom dink ons dat so nou en dan se Bybellees vir ons gees genoeg voeding gaan verskaf? Begin om die Woord eerste plek in jou lewe te gee en jy sal verseker verstom staan oor die verandering wat in jou lewe gaan plaasvind!

GEBED: Here, ons maak nie aldag erns met U Woord nie. Ek bid dat U in my so ‘n honger sal gee na U Woord, dat ek elke dag daarna sal uitsien om tyd daarin te spandeer.

Maak ‘n draai in ons aanlyn-winkel en loer na die oordenkingsboeke wat nou daar beskikbaar is.

Deel hierdie blad

3 comments

  1. Goeie dag Risa , baie dankie vir die bemoediging en ek sal by my belofte bly
    Ek waardeur dit baie, mooi daggie…

      1. Goeie naand Risa ek het ook nog gekom om Bybel eerste te lees nie lees net wanneer ek moet voorbereiding doen of as ek n boodskap moet lewer het voorheen ook eers tyd gemaak om te lees maar hierdie boodskap het my weer bietjie wakker kom maak ongelukkig kan ek nie op hierdie oomblik enige boekies koop nie so jammer weereens baie dankie God seen jou in jou bediening

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *