
Hier by Bybel En Gebed gesels ons elke nou en dan oor dinge wat jy moet weet oor ‘n boek van die Bybel wanneer jy daaroor wil Bybelstudie doen. Hierdie inligting kan jou help om die boek so ‘n bietjie beter te verstaan. Vandag se artikel is deel van dié agtergrond-inligting reeks. Ons gaan kyk na al die interessante dinge wat jy oor die boek Joël moet weet.
DIE NAAM VAN DIE BOEK.
Die boek is vernoem na die profeet deur wie die Here die boodskap wat in die boek opgeneem is, gegee het.
WAT SE TIPE BOEK IS JOëL?
Net soos die boeke voor en na Joël, is hierdie ook ‘n profetiese boek.
Joël is een van die sogenaamde twaalf Klein Profete-boeke. Dié boeke strek van Hosea tot Maleagi.
Die feit dat hulle Klein Profete genoem word, beteken nie dat die boodskappe daarin van minder belang is nie. Die boeke word so genoem omdat dit nie baie lang boeke is nie. Jesaja tot Daniël is weer die Groot Profete, omdat die boeke baie lank is.
WIE HET DIE BOEK GESKRYF?
Hoewel die boek na die profeet Joël vernoem is, is Bybelkenners nie regtig seker dat hy wel die boek geskryf het nie. Daar kan dus nie met sekerheid gesê word presies wie die boek geskryf het nie.
ONTSTAANTYD VAN DIE BOEK.
Daar is verskillende inligting in die boek wat daarop dui dat Joël waarskynlik ná die ballingskap geskryf is. Van die inligting wat kenners dié idee gee, is die feit dat daar nie konings se name in die opskrif (Joël 1:1) genoem word nie. Nog ‘n stukkie inligting is die situasie wat in hoofstuk 3:1-3 beskryf word.
Kenners dink dus dat die boek waarskynlik ná 515 vC geskryf is.
AGTERGROND VAN DIE BOEK.
Na die mense van Juda uit ballingskap teruggekom het en die tempel herstel het, het dit nie regtig goed gegaan met hulle op geestelike en materiële gebied nie. Hulle het gesukkel om die trauma van die ballingskap te verwerk.
Die teologiese raamwerk wat hulle voor die ballingskap gebruik het, het nie vir hulle antwoorde gegee vir die nuwe omstandighede waarin hulle was nie. As ‘n mens in gedagte hou dat hulle ‘n verwoeste land moes probeer herbou, dan kon iets soos ‘n sprinkaanplaag sommer hulle moed breek.
Dis by dié omstandighede wat Joël aansluit en vir hulle ‘n nuwe teologiese raamwerk gee. Hy kom leer hulle dat die Here ‘n almagtige en handelende God is. Hy help hulle verstaan dat God enige potensiële ramp kan omkeer en gebruik tot voordeel van Sy volk.
VIR WIE IS DIE BOEK GESKRYF?
Soos jy uit dit wat ek hierbo geskryf het kan aflei, is Joël geskryf vir die mense van Juda. Maar al was hulle die oorspronklike geadresseerdes, is die boek ook vir elke gelowige van elke tydperk.
DIE DOEL VAN DIE BOEK.
Die doel van Joël se boodskap was om die moedelose mense van Juda te bemoedig. Sien jy waarom hierdie boek ook op jou en my van toepassing is?
BELANGRIKE KARAKTERS IN DIE BOEK.
In Joël sien ons twee belangrike karakters. Een is die profeet Joël self en die ander is die mense van Juda.
HOOFTEMAS VAN JOëL.
Daar is drie hooftemas wat ons uit Joël kan haal.
GOD AS HANDELENDE GOD.
Uit hierdie boek, en ook op ander plekke in die Bybel, sien ons dat die Here nie afwesig is in die lewens van Sy mense nie. Hy was in die geskiedenis werksaam en Hy is steeds werksaam. Hy kan enige situasie waarin ons beland tot Sy eer en ons voordeel gebruik.
Ons moet egter onthou dat daar ‘n dag gaan kom – in Joël genoem ‘die dag van die Here’ – waar ons voor Hom gaan verantwoording doen vir ons dade. Op daardie dag gaan Hy straf uitdeel vir dié wat gekies het om in hulle kwaad te volhard.
BEROU EN VERGIFNIS.
In Sy groot genade is die Here bereid om elkeen wat na Hom toe kom en hulle rug op die sonde draai, te vergewe. Hy bring dan ook daardie mense weer in die regte verhouding met Hom. Na Jesus se dood en opstanding word hierdie vergifnis en verhouding met God vir ons gegee wanneer ons glo in Jesus en dit wat Hy vir ons gedoen het.
BELOFTE VAN GOD SE GEES.
In Joël lees ons dat daar ‘n tyd gaan kom waar die Here Sy Gees op alle mense sal uitstort. Dit maak nie saak wat hulle geslag, ouderdom of sosiale stand is nie. Ons is in die bevoorregte posisie dat ons in daardie tyd leef, waar God deur Sy Gees by ons is. Deur Sy Gees maak Hy ook Sy wil aan ons bekend en stel ons in staat om volgens Sy wil en Woord te leef.
GOD SE KARAKTER IN JOëL.
In Joël staan die genade van God uit. Sy hart is dat mense na Hom toe sal draai sodat Hy hulle kan vergewe en hulle verhouding met Hom kan herstel.
GELOOFSLESSE IN JOëL.
Die geloofsles wat ek en jy vandag uit Joël kan leer, is dat ons met ons hele hart na die Here toe moet kom. Hy sal vergewe, daaraan hoef ons nie te twyfel nie. Maar as ons weier om deur geloof in Jesus na Hom toe te kom, dan kan ons verseker weet dat daar ‘n dag gaan kom waar ons nié meer die geleentheid gaan hê om te kom nie en dan is straf al wat vir ons wag.
JESUS IN JOëL.
In Joël 2:32a lees ons: “Elkeen wat die Naam van die Here aanroep. sal gered word.” Dít is ‘n belofte wat heenwys na Jesus, want elkeen wat Sy Naam aanroep, word gered!
SLEUTELVERS IN JOëL.
Joël 2:12-13: “Maar nou sê die Here: Kom met julle hele hart terug na My toe, vas, huil en treur! Skeur julle harte, nie julle klere nie. Kom terug na die Here julle God toe: Hy is genadig en barmhartig; Hy is lankmoedig en vol liefde. Hy is bereid om straf te herroep.”
JOëL IN JOU LEWE.
- God is in beheer van die wêreld. Hy kan selfs natuurrampe stuur en dit gebruik om mense tot besinning te bring.
- Ons as God se kinders hoef nooit bang te wees vir die einde van die wêreld nie. Oral in die Bybel kry ons die versekering dat Hy dié wat aan Hom behoort, sal red. Hy is by ons en sal ons altyd beskerm.
- Om as gelowiges bymekaar te kom, is iets wat baie belangrik is. Dit bind ons harte en gedagtes aan mekaar en help ons om ‘n eenheid te vorm.
AS JY MEER WIL WEET.
As jy meer wil weet oor die ander boeke van die Bybel, wat ons reeds oor gesels het, kan jy gerus HIER ‘n draai maak. Op dié blad is skakels na al die vorige artikels.
En as jy op soek is na ‘n eenvoudige metode wat jy in jou stiltetyd of in jou Bybelstudietyd kan gebruik om Jesus beter te leer ken en meer oor Sy Woord te leer, dan is Jesus, Die Bybel, En Jy – ons VOLG-metode e-gids wat in ons aanlyn-winkel beskikbaar is – net waarna jy op soek is.
Saam met die e-gids kry jy ook die e-studie, Waag Dit Om Anders Te Wees, waar jy die VOLG-metode gebruik om meer te leer oor dinge wat ons as kinders van God, anders maak as die res van die wêreld.

