
Daar is baie redes waarom mense nie Bybelstudie doen nie. Een daarvan is dat hulle dink ‘n mens het allerhande duur hulpmiddele en ingewikkelde boeke nodig. Maar die waarheid is dat jy net drie eenvoudige dinge nodig het. Hierdie dinge is jou Bybel, jou gunsteling pen en ‘n notaboek of joernaal.
Waarom? Want hierdie drie dinge gee jou die geleentheid om regtig aktief met die teks besig te wees. Dis al wat nodig is om jou te help om te luister, te leer, en te leef wat God sê. So, kom ons kyk na die rol van elkeen in jou Bybelstudie-tyd en ook hoe jy hulle saam kan gebruik.
JOU BYBEL.
Die Bybel is nie sommer net nog ‘n boek nie. Dis die Woord van God wat Hy spesiaal vir ons laat opteken het sodat ons Hom kan leer ken. Deur die Bybel leer ons wie Hy is, wat Sy karaktereienskappe is, wat Hy doen, hoe Sy stem klink, wat Sy hart vir die mens is, ensovoorts.
Die Bybel is dan ook die primêre manier waarop die Here met ‘n mens praat. Al wat jy hoef te doen, is om stadig en met ‘n ontvanklike hart te lees, en te vertrou dat Hy iets vir jou gaan sê. Jy het nie ‘n teologiese graad of ‘n stel kommentare nodig om Sy stem te hoor nie. Jy moet net bereid wees om tyd met Hom te spandeer en te luister.
Die Bybel is dus die stem van God. Dis ook die bron van dit wat jy gaan studeer, oor nadink en in jou lewe toepas.
JOU PEN.
Ek het dit al voorheen in van die nuusbriefartikels genoem, maar ek gaan dit weer sê. Om dinge neer te skryf help jou om dit te onthou. Wanneer jy skryf, bly jy gefokus. Jy dink ook dieper na oor wat jy gelees het wanneer jy daaroor begin skryf. Jou pen is dus die hulpmiddel wat jy gebruik om aktief met die teks besig te wees.
Met jou pen skryf jy dinge neer soos:
- Dit wat jy in die teks raaksien en moontlike vrae wat jy daaroor het.
- Die teks in jou eie woorde om jou te help om dit beter te verstaan.
- Die lesse wat jy leer en die dinge wat die Here vir jou persoonlik in die teks sê.
- Insigte wat die Here jou gee.
- Jou gebedsversoeke en hoe die Here jou geantwoord het.
JOU NOTABOEK.
Jou notaboek is die plek waar jy jou gedagtes, vrae en insigte neerskryf. Dis die ideale hulpmiddel om te gebruik as jy nie graag in jou Bybel skryf nie. Dis ook ideaal as jy wél in jou Bybel skryf, maar die spasie begin min raak.
Iemand het gesê jou notaboek of joernaal is soos jou eie “heilige ruimte” op papier. Daar kan jy eerlik wees met die Here. Jy kan met Hom praat oor enige iets wat in jou hart aangaan en jy kan neerskryf wat Hy weer op Sy beurt vir jou sê.
Dis in jou notaboek waar jy begin om Sy Woord in jou lewe toe te pas wanneer jy die aksiestappe neerskryf wat jy gaan neem om dit wat jy geleer het, te gaan uitleef.
‘n Notaboek of joernaal is ook ‘n baie goeie manier om boek te hou van jou reis saam met die Here, veral as jy tyd maak om soms weer deur jou ou notaboeke of joernale te lees. Dit gaan jou help om te sien hoe jy gegroei het. Jy gaan ook sien dat die Here jou antwoorde gegee het op vrae wat jy dalk nie eers geweet het jy het nie!
MANIERE OM DIE DRIE SAAM TE GEBRUIK.
Jy het dalk nie nodig dat ek vir jou sê hoe om jou Bybel, notaboek en pen saam te gebruik nie, maar hier is in elk geval ‘n paar idees:
SKRYF DIE TEKS.
Skryf die teksgedeelte waarna jy kyk woord-vir-woord in jou notaboek neer. Dis ‘n baie goeie manier om te begin om oor die teks na te dink.
JOU EIE WOORDE.
Skryf die gedeelte waarna jy kyk in jou eie woorde neer. Maak dit eenvoudig genoeg dat ‘n kind dit sal verstaan. Dit help jou om self die gedeelte beter te verstaan omdat jy moet dink oor hoe jy die gedeelte eenvoudig kan verduidelik.
WAT STAAN UIT?
Skryf verse of gedagtes wat vir jou uitstaan, neer. Dinge wat uitstaan is baie keer die Here wat Sy vinger daarop lê sodat jy dit spesifiek raaksien omdat Hy met jou daaroor wil praat.
ENIGE LESSE?
Die lesse wat jy in ‘n gedeelte raaksien? Skryf hulle neer. En dit wat jy voel die Here sê vir jou daaroor? Skryf dit neer. Jy kan hierdie gedagtes, dit wat jy voel die Here sê vir jou, dan later meet aan die Woord. As dit ooreenstem met wat die Bybel sê, dan was dit van God af.
GEDAGTES WAT OPKOM.
Skryf sommer enige gedagtes wat by jou opkom oor die teksgedeelte ook neer. Wanneer jy daardie gedagtes weer lees, gaan jy dalk agterkom die Here het jou baie meer insig gegee as wat jy gedink het. Onthou ook net om dit weereens te meet aan wat in die Woord staan. Dit moet daarmee ooreenstem om regtig van die Here af te wees!
DOEN DIT SAAM MET DIE HERE.
Om Bybelstudie te doen hoef regtig nie moeilik te wees nie. Al wat jy nodig het is jou Bybel, pen en notaboek. Word dan stil by die Here. Vra Hom om met jou te praat en jou te leer. Vertrou Hom dat Hy dit sal doen. Lees en skryf neer wat jy sien en hoor. En jy sal verbaas wees oor hoeveel Hy jou leer as jy net bereid is om na Hom toe te kom met ‘n ontvanklik hart.
AS JY MEER WIL AS NET ‘N BYBEL, NOTABOEK EN PEN WIL GEBRUIK.

En as jy regtig graag meer as net jou Bybel, pen en notaboek wil gebruik wanneer jy Bybelstudie doen, loer dan gerus na Die Gelykenisse Van Jesus Bybelstudie wat in ons aanlyn-winkel beskikbaar is.
In hierdie studie word die W.I.T.-Bybelstudie-metode (Waarneem, Interpreteer en Toepas) gebruik om sommige van die gelykenisse wat Jesus vertel het, van nader te bekyk. Jy gaan ook Bybelstudie doen oor die verskillende sleutelonderwerpe waaroor elke gelykenis gaan. Onthou dat al ons boeke e-boeke is, wat jy op jou foon of rekenaar kan aflaai.
