AGAPE LIEFDE: GOD SE MANIER

Agape liefde: God se manier

Nou een dag in my stiltetyd, vra ek die Here om ons, as Sy kinders, te help om ander mense lief te hê.

En skielik besef ek dat ons liefde so ‘n bietjie geromantiseer het. Meeste mense sien liefde as soentjies en drukkies en ‘n lekker, warm gevoel.

Dié idee is sommer later die dag bevestig toe iemand my vertel dat sy sukkel om vir ander lief te wees. Sy sê dis heel maklik wanneer dit mense is wat naby haar is, met wie sy gemaklik voel.

Maar die bedelaar op straat is ‘n ander storie. Hy stink. Hy laat haar ongemaklik voel. En daarom sukkel sy om vir hom lief te wees.

Ek dink meeste van ons het hierdie probleem. Dalk veral omdat ons liefde op net een manier sien.

GRIEKSE WOORDE VIR LIEFDE.

Die Nuwe Testament is in antieke Grieks geskryf. In dié taal is daar vier verskillende woorde vir liefde.

In die eerste plek is daar die woorde Phileo en Storge. Hierdie woorde verwys na die liefde wat ‘n mens vir jou familie en vriende het. Dit is selfs die liefde wat jy teenoor jou hond of kat voel!

Phileo kan in Afrikaans vertaal word met ‘broederlike liefde. Storge kan vertaal word met ‘natuurlike toegeneentheid’.

Die volgende woord vir liefde is Eros. Dis nou die romantiese liefde, die drukkies-en-soentjies-en-warm-gevoelens-liefde. Ek het iewers gelees dat dié liefde eintlik baie op jouself gefokus is.

Hoekom?

Want al voel jy hierdie liefde vir iemand anders, het jy eintlik jouself in gedagte. Jy is lief vir die ander persoon omdat hy of sy jou goed laat voel en jou gelukkig maak. Sodra hy of sy dit nie meer doen nnie, het jy nie meer ‘n rede om hom of haar lief te hê nie. En dan verdwyn hierdie liefde maklik.

.

GOD SE LIEFDE.

Laastens is daar die woord Agape.

Dis God se tipe liefde.

Dis wie God is.

Hierdie liefde is onvoorwaardelik, opofferend en deernisvol.

Agape liefde vind vreugde daarin om te gee.

Agape liefde hou aan om lief te hê, selfs al reageer die persoon teenoor wie dit uitgeleef word, nie daarop nie.

Dan is Agape liefde ook onvoorwaardelik en het altyd net die beste in gedagte vir die een teenoor wie dit uitgeleef word.

WEES LIEF VIR MEKAAR.

Ongelukkig het ons, soos ek reeds gesê het, liefde geromantiseer. Wanneer ons dus aan liefde dink, is romantiese liefde wat ons in ons gedagtes sien.

Verstaan jy waarom ons dan sukkel om vir ander lief te wees?

Maar God vra nie van ons om almal rondom ons lief te hê met Eros of romantiese liefde nie.

Nee, Hy vra van ons om hulle lief te hê met Sý tipe liefde. Ons het reeds hierdie liefde in ons, omdat die Heilige Gees in ons woon (Romeine 5:5).

Dit beteken ons kán lief wees vir die bedelaar op straat. Ons kan hom sien as iemand wat God geskep het, iemand wat kosbaar is in Sy oë.

Ons kan net die beste vir hom wil hê en vir hom gee wat hy nodig het. En ons kan liefde teenoor hom bly uitleef, selfs al reageer hy nie daarop nie.

LIEFDE IS NIE MOEILIK NIE.

As ‘n mens liefde teenoor ander vanuit hierdie oogpunt sien, besef jy dis nie so moeilik om ander mense lief te hê nie.

Ons het immers reeds God se liefde binne ons. En die Heilige Gees is heeltyd daar om ons te help om dit uit te leef.

Al wat ons moet doen is om in geloof uit te reik na ander en om God te vertrou dat Hy ons sal help om hulle lief te hê met Sy liefde.

Onvoorwaardelik.

Opofferend.

Deernisvol.

Altyd.

Deel hierdie blad

1 comment

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *