DIE WIT BYBELSTUDIE-METODE

Die WIT Bybelstudie-metode

Die Bybel is nie net ‘n boek wat ek en jy moet lees nie. Dis die lewende Woord van God, wat ons lewens verander wanneer ons moeite doen om regtig te kyk wat daarin staan en dit wat ons leer, toepas. Een van die beste maniere om die Bybel te bestudeer en die betekenis daarvan vir ons lewens te ontdek, is deur die WIT Bybelstudie-metode. Dit staan vir die drie stappe wat jy neem wanneer jy die metode gebruik: Waarneming, Interpretasie en Toepassing. Hierdie metode help jou om self die waarheid in die Bybel te ontdek, sodat jy dit kan toepas in jou daaglikse lewe.

BEGIN MET GEBED.

Dit maak nie saak of jy die Bybel lees of dit studeer nie, begin altyd met gebed. Vra altyd eers die Heilige Gees om jou te lei. Sonder Sy leiding kan ‘n mens nie regtig die Woord van God verstaan nie. In Johannes 16:13 sê Jesus: “Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei.” Daarom is gebed altyd die eerste en belangrikste stap.

LEES DEUR DIE GEDEELTE.

Volgende gaan jy die gedeelte wat jy wil studeer, eers ‘n keer of wat deurlees. As die boek nie te lank is nie – soos die briewe in die Nuwe Testament – probeer om die hele boek op een slag deur te lees. Op dié manier gaan jy ‘n goeie oorsig hê van wat in die boek staan. Maak ook seker jy weet wie die boek geskryf het en vir wie dit geskryf is. Dit is belangrik vir die konteks van die boek.

STAP 1: WAARNEMING – WAT Sê DIE TEKS?

Die volgende stap is om na die teks te kyk en te identifiseer wat dit sê. Moenie dadelik afleidings maak of probeer om aan toepassings te dink nie. Kyk eers goed na wat die teks sê. Daar is ‘n hele paar dinge wat jy kan doen, om jou hiermee te help. Jy kan byvoorbeeld vrae oor die teks vra.

VRA VRAE OOR DIE TEKS: DIE 5 W’s EN 1 H.

Die 5 W’s en 1 H is ‘n hulpmiddel wat joernaliste gebruik om die nodige inligting bymekaar te maak, om ‘n goeie artikel te kan skryf. Jy kan byvoorbeeld die volgende vrae vra:

Wie word genoem in die teks?
Wat gebeur of word gesê?
Wanneer vind die gebeure plaas?
Waar speel dit af?
Waarom is hierdie woorde of gebeure belangrik?
Hoe gebeur dit?

Jy kan natuurlik ook jou eie vrae uitdink deur die 5 W’s en 1 H te gebruik. Nie al die vrae sal in elke skrifgedeelte beantwoord word nie, maar hierdie vrae sal jou help om die teks deeglik te ondersoek.

Nadat jy vrae oor die teks gevra het, kan jy oplet na die volgende dinge.

SLEUTELWOORDE EN -FRASES.

Lees die die gedeelte wat jy studeer weer ‘n slag deur en soek na woorde of frases wat herhaal word of wat die kern van die boodskap bevat. Skryf neer wat jy oor hierdie woorde leer en hoe dit by die res van die gedeelte inpas.

LYSTE, VERGELYKINGS EN TEENSTELLINGS.

Soms gebruik die skrywer van ‘n boek in die Bybel ‘n lys om ‘n punt te beklemtoon. ‘n Mens kry byvoorbeeld so ‘n lys in 2 Timotheus 3:16. Daar staan dat die Bybel nuttig is “om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek.” Kyk ook of jy vergelykings (“soos ‘n brullende leeu” – 1 Petrus 5:8) en teenstellings (lig en donker – 1 Johannes 2:7-11) raaksien.

TYD EN KONTEKS.

Tyd is ook ‘n belangrike konsep in die Bybel. Wanneer jy die teks waarneem, kyk of daar enige tydsaanduidings soos “in daardie dae” of “die derde dag” is en kyk hoe dit die betekenis beïnvloed. Hou altyd die breër konteks in gedagte – lees die verse voor en na die gedeelte wat jy studeer om seker te maak jy verstaan wat die skrywer nou eintlik bedoel.

STAP 2: INTERPRETASIE – WAT BETEKEN DIE TEKS?

Nadat jy alles wat jy in die teks waarneem neergeskryf het, is dit tyd om dit reg te interpreteer. Dit beteken om die teks binne sy oorspronklike konteks te verstaan en die betekenis daarvan te bepaal.

KONTEKS IS BELANGRIK.

Ek het al ‘n paar keer genoem dat konteks belangrik is. Wanneer jy probeer bepaal wat die teks wat jy studeer beteken, is dit ook die geval. ‘n Mens kan maklik ‘n teksvers of skrifgedeelte verkeerd verstaan as dit buite konteks geneem word. Daarom is dit baie belangrik om die verse rondom dit wat jy studeer in ag te neem.

Moet ook nie vergeet van die kulturele agtergrond nie, want dit kan ook ‘n invloed hê op wat ‘n gedeelte beteken.

GEBRUIK KRUISVERWYSINGS.

Jy het seker al gesien dat daar Bybels is wat kruisverwysings iewers op die Bybelbladsye het. Dié kruisverwysings help jou om Skrifgedeeltes wat verband het met mekaar, op te spoor. Kyk dus of daar enige kruisverwysings is in dit wat jy studeer en slaan daardie verse ook na. Onthou om neer te skryf wat jy leer uit die ander verse wat jy lees.

DIE BYBEL INTERPRETEER DIE BYBEL.

In 2 Timotheus 3:16 lees ons dat die hele Skrif deur God geïnspireer is. Daarom kan ons met sekerheid weet dat die Bybel homself nooit weerspreek nie. Wanneer jy ‘n moeilike vers interpreteer, vergelyk dit met ander gedeeltes wat oor dieselfde onderwerp handel. Dit kan ‘n mens regtig help om ‘n vers of gedeelte beter te verstaan.

NET EEN BETEKENIS.

Elke skrifgedeelte het ‘n spesifieke betekenis binne sy konteks. Alhoewel dit verskeie toepassings kan hê, is daar gewoonlik net een korrekte interpretasie. Om jou te help om by hierdie betekenis uit te kom, vra: Wat het die skrywer vir sy oorspronklike gehoor bedoel?

STAP 3: TOEPASSING – HOE BEïNVLOED HIERDIE WAARHEID MY LEWE?

Die laaste stap van die WIT-metode is om die lesse wat jy geleer het, op jou lewe toe te pas. Jakobus 1:22 waarsku ons: “Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself.” Om jou te help om by ‘n toepassing uit te kom, kan jy weereens ‘n paar vrae vra:

Wat leer hierdie teks my oor God?
Is daar ‘n sonde wat ek moet bely?
Is daar ‘n opdrag wat ek moet gehoorsaam?
Sien ek ‘n belofte waarop ek kan vertrou?
Hoe verander hierdie gedeelte dit wat ek dink, my houding of dade?

Die Woord moet ‘n verskil maak in jou daaglikse lewe. Dit mag beteken dat jy ‘n nuwe gebedsgewoonte moet begin, jou optrede teenoor ander moet verander, of ‘n spesifieke waarheid meer in jou lewe begin uitleef. Skryf dus neer hoe jy die lesse wat jy geleer het, in jou lewe gaan toepas. En moet dit dan nie daar los nie! Gaan en doen wat jy geskryf het jy gaan doen.

GEVOLGTREKKING.

Die WIT Bybelstudie-metode is ‘n eenvoudige maar kragtige manier om die Woord van God beter te verstaan en dit in jou lewe toe te pas. Deur die teks waar te neem, dit korrek te interpretasie en dan in jou lewe toe te pas, kan jy ‘n dieper verhouding met die Here God en Sy wil vir jou lewe ontdek. Begin vandag en laat die Woord van God jou lewe verander!

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *