5 REDES WAAROM BYBELSTUDIE BELANGRIK IS

5 Redes waarom Bybelstudie belangrik is

Meeste gelowiges weet dat Bybelstudie belangrik is. Ongelukkig is nie almal seker presies waarom nie. Baie besef nie dat die Bybel ‘n baie groot rol in ons geestelike groei speel nie. Jy sien, om Bybelstudie te doen is nie net ‘n geestelike aktiwiteit nie; dis ‘n manier waarop die Here direk met ons praat, ons lei en verander. So, kom ons kyk na vyf redes waarom jy gereeld moet Bybelstudie doen en ook hoe dit jou verhouding met die Here gaan verdiep.

GOD SE PERSOONLIKE WOORD AAN DIE MENS.

Die Bybel is nie net ‘n gewone boek nie – dit is God se eie Woord aan die mensdom. Elke deel daarvan is deur Hom geïnspireer en het ‘n spesifieke doel, soos ons sien in 2 Timotheus 3:16-17.

Daar staan: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, 17sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.”

Dit beteken dat die Here Homself – Sy hart, karakter en wil – deur die Bybel aan ons openbaar. Elke keer wat jy die Bybel lees, is die Here daar om jou iets te leer en jou leiding en wysheid vir jou lewe te gee. Die Heilige Gees help ons dan ook om dit wat die Here vir ons sê te verstaan en dit toe te pas.

As ‘n mens nie gereeld Bybelstudie doen en jou Bybel lees nie, gaan jy nie hoor wat die Here vir jou wil sê nie. Jy gaan ook sukkel om Sy wil vir jou lewe te verstaan.

GOD SE PLAN VIR DIE MENSDOM.

Het jy al gewonder oor die doel van jou lewe en waarom jy nou eintlik hier is? Jy besef dit dalk nie, maar die Bybel gee vir ons antwoorde op hierdie vrae. Van Genesis tot Openbaring spel die Here Sy groot plan vir ons uit – verlossing deur Jesus Christus en ‘n intieme verhouding met Hom.

Wanneer ons Bybelstudie doen, begin ons:

  • Verstaan hoe God se verlossingsplan stukkie vir stukkie deur die eeue ontvou het.
  • Leer watter wonderlike rol Jesus in ons lewe speel.
  • Verstaan wat dit beteken om ‘n dissipel van Christus te wees en in Sy voetspore te volg.

Bybelstudie help ons om beter te verstaan wat ons geloof in Jesus beteken. Dan rus dit ons ook toe om sterk in die Here te staan en elke dag met vertroue te leef.

RIGLYNE VIR ‘N GODDELIKE LEWE.

Die Here wil hê dat ons in waarheid en gehoorsaamheid aan Hom leef. Die Bybel is soos ‘n kompas wat ons help om te verstaan wat is reg en wat is verkeerd.

Hebreërs 4:12 sê: “Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.”

Wanneer ons Bybelstudie doen, kom ons agter watter leuens ons glo. Want soms leef ons, sonder dat ons dit eers besef, volgens die standaarde van die wêreld.

Bybelstudie help ons ook om die waarheid te ontdek, omdat die Woord van God die enigste bron van ewige waarheid is.

Dan wys Bybelstudie ons ook waar ons besig is om die verkeerde te doen. Dit skyn ‘n lig op die sonde in ons lewens sodat ons, met die Here se hulp, daarvan kan wegdraai.

Laastens help Bybelstudie ons om volgens die wil van die Here te leef, want dis in die Bybel waar ons praktiese riglyne kry vir ‘n lewe wat Hom eer.

Wanneer ons nie die Bybel ken nie, is dit maklik vir die vyand om ons op ‘n dwaalspoor of in versoeking te lei. Deur Bybelstudie versterk ons egter ons geloof sodat ons vas kan staan wanneer die lewensstorms om ons woed.

DIE HERE SE BELOFTES AAN DIE MENS.

Ons leef in ‘n wêreld wat vol uitdagings en onsekerheid is, maar die Bybel gee vir ons hoop. Die beloftes van die Here is veral vir ons ‘n troos wanneer ons moeilike tye beleef, want dit gee vir ons sekerheid.

Jesaja 41:10 sê: “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.”

As ‘n mens nooit Bybelstudie doen of jou Bybel lees nie, gaan jy nie weet watter beloftes die Here vir jou het nie. En as jy nie weet nie, gaan jy sukkel om vas te hou aan hoop en geloof.

Deur Bybelstudie ontdek ons beloftes soos:

  • God is altyd met ons (Deuteronomium 31:8).
  • Hy gee ons krag en wysheid (Jakobus 1:5).
  • Hy voorsien in ons behoeftes (Filippense 4:19).
  • Hy werk alle dinge ten goede mee (Romeine 8:28).

Wanneer ons weet dat die Here hierdie beloftes gemaak het, en hulle onthou wanneer dinge moeilik gaan, kan ons die lewe met moed en sekerheid aanpak.

WIE IS GOD EN WIE IS EK?

Baie mense het ‘n verwronge beeld van die Here. Sommige sien Hom as ‘n harde regter wat die hele tyd besig is om te kyk waar hulle iets verkeerd doen sodat Hy hulle kan straf. Ander sien Hom as Iemand wat ver van hulle af is en nie regtig in hulle belangstel nie.

Maar wanneer ons moeite doen om die Bybel te bestudeer, kom ons agter wat Sy ware karakter is. Ons besef dan die Here is eintlik liefdevol, genadig, regverdig en betroubaar.

Dit is ook die Bybel wat ons leer wie ons nou eintlik is. Dit wys ons:

Wie ons was voordat ons vir Jesus ontmoet het.
Dan wys dit ons wie ons nou is as verloste kinders van God.
En verder wys dit ons hoe ons nou veronderstel is om te leef.

2 Korinthiërs 5:17 sê: “Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.”

As jy nie jou Bybel bestudeer nie, gaan jy dalk jou identiteit in die dinge van die wêreld soek en sukkel om te verstaan wat dit beteken om ‘n kind van God te wees. Maar wanneer jy Bybelstudie doen, bou jy ‘n stewige fondament in jou geloof en leer jy om as ‘n oorwinnaar in Christus te leef.

GAAN JY SAAM OP HIERDIE BYBELSTUDIE-REIS?

Hierdie vyf redes is net ‘n beginpunt. Daar is soveel meer om te ontdek in God se Woord! As jy hierdie jaar jou geloof wil verdiep en die Here beter wil leer ken, nooi ek jou uit om saam met my op ‘n Bybelstudie-reis te gaan.

So, hier is ‘n uitdaging vir jou: Begin ‘n daaglikse Bybelstudie-roetine – al is dit net 10-15 minute per dag. Vra die Heilige Gees om jou te lei, en kyk hoe jou verhouding met God groei.

Wat dink jy is die belangrikste rede waarom ons Bybelstudie moet doen? Deel met ons in die kommentaar!

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *