NEEM BYBELSTUDIE NA DIE VOLGENDE VLAK

neem Bbyelstudie na die volgende vlak

As jy al ‘n ruk lank Bybelstudie doen en nie meer ‘n beginner is nie, is dit dalk tyd om dieper te delf en jou verstaan van die Woord te verdiep. Hier is tien maniere wat jy kan gebruik om jou Bybelstudie na die volgende vlak te neem.

DELF DIEPER.

Dis maklik om heeltyd net so bolangs te kyk wat ‘n gedeelte in die Bybel beteken. Maar as jy bietjie dieper wil delf, kan jy hulpmiddele soos ‘n konkordansie of Bybelstudie-app gebruik. Dit kan jou help om ‘n beter begrip van die teks te kry. (Baie Bybels het ‘n mini-konkordansie agter in die Bybel, maar jy kan ook aanlyn kyk.)

BESTUDEER DIE OORSPRONKLIKE GRIEKS EN HEBREEUS.

Dit is ongelukkig so dat sommige woorde ‘n bietjie van hulle betekenis verloor wanneer hulle vertaal word. Daarom is dit ‘n goeie idee om te kyk wat ‘n kernwoord in die oorspronklike Grieks of Hebreeus beteken.

Hierdie is nie ‘n maklike manier van studeer nie, maar vir iemand wat ‘n taalaanleg het, kan dit nogal van waarde wees. Daar is verskeie hulpmiddele op die internet beskikbaar, wat jy hiervoor kan gebruik.

VERGELYK VERSKILLENDE VERTALINGS.

Om verskillende vertalings met mekaar te vergelyk, kan ‘n nuwe lig op ‘n vers werp en jou help om beter te verstaan. Daar is ongelukkig nie baie verskillende Afrikaanse vertalings beskikbaar nie, maar jy kan altyd ‘n Engelse een of twee ook gebruik.

GEBRUIK ‘N KOMMENTAAR.

Kommentare soos Matthew Henry’s Commentary kan historiese en teologiese agtergrond gee. Ek stel net voor dat jy eers kyk wat jy self uit die teks kan leer voordat jy ‘n kommentaar gebruik.

Soms sien ‘n mens iets in die teks raak wat die Here daardie dag vir jou wil sê wat jy kan mis as jy dadelik iemand anders se kommentaar op die gedeelte lees.

KOPPEL DIE OU EN NUWE TESTAMENT.

Daar is soveel profesieë en beloftes wat ons in die Ou Testament kry, wat in die Nuwe Testament vervul is. Dit is veral waar van die profesieë oor Jesus. Wees dus op die uitkyk vir beloftes of profesieë en doen ‘n bietjie navorsing oor hoe dit in die Nuwe Testament vervul is.

LEER BYBELSE TEMAS KEN.

Daar is baie wat ‘n mens kan leer oor verskillende temas in die Bybel, soos byvoorbeeld genade of geloof, deur die verskillende skrifgedeeltes wat met so ‘n tema te doen het, te bestudeer.

Om jou te help om verskillende skrifgedeeltes oor ‘n tema te kry, kan jy weereens van ‘n konkordansie gebruik maak.

MEMORISEER SKRIFGEDEELTES.

Hierdie is nou wel nie ‘n Bybelstudie-wenk nie, maar dis altyd ‘n goeie idee om Bybelverse of selfs hele Skrifgedeeltes, te memoriseer. Op dié manier dra jy God se Woord altyd saam met jou.

DINK KRITIES OOR WAT JY LEES.

Om vrae oor die teks wat jy studeer te vra, is ‘n baie goeie manier om die Bybel te studeer.

In joernalistiek maak joernaliste gebruik van die 4 w’s en 2 h’s wanneer hulle ‘n berig skryf. Dié 4 w’s en 2 h’s staan vir wie, wat, wanneer, waar, hoe en hoekom. Deur hierdie vrae te antwoord, maak die joernalis seker hy het al die nodige inligting om ‘n volledige berig te skryf.

Jy kan die 4 w’s en 2 h’s ook in Bybelstudie gebruik. Vra byvoorbeeld: wie het die gedeelte geskryf? Vir wie is dit geskryf? Wanneer is dit geskryf? Waar is dit geskryf? Wat is die idee wat die skrywer vir die oorspronklike lesers wou oordra?

Onthou ook om te vra hoe ‘n teks vandag toegepas kan word.

HOU ‘N BYBEL JOERNAAL.

Dit is nou maar eenmaal so dat ‘n mens dit wat jy neerskryf, beter onthou. Maak dus ‘n punt daarvan om alles wat jy in jou Bybelstudie oor ‘n gedeelte leer, neer te skryf. Jy kan dan later weer teruggaan en lees wat die Here jou op ‘n spesifieke dag geleer het.

Jy sal ook kan sien hoe jy geestelik groei en hoe jou verstaan van die Bybel, verbeter.

LEER ANDER WAT JY LEER.

Nog ‘n manier om te onthou wat jy geleer het, is om dit met iemand anders te deel.

Om iets wat jy geleer het in jou eie woorde aan iemand anders oor te dra, help jou nie net onthou wat jy geleer het nie, dit help jou ook nóg beter verstaan juis omdat jy dit in jou eie woorde moet verduidelik.

En natuurlik help dit die persoon vir wie jy dit vertel, want dit verbreed ook sy kennis van die Bybel.

Die Bybel is ‘n onuitputlike bron van wysheid. So, kies vandag nog een van die idees hierbo en probeer dit volgende keer wanneer jy Bybelstudie doen. Want hoe dieper jy delf, hoe ryker raak jou verhouding met God!

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *