HOE OM VERSOEKING TE OORWIN

Hoe om versoeking te oorwin

Adam en Eva was die eerste mense wat toegegee het aan versoeking en daarna sukkel die mens nog daarmee. Ook ons as Christene is nie uitgesluit nie. Keer op keer kom die vyand om ons te versoek om op een of ander manier teen God te sondig. Dit kan op ‘n baie subtiele manier wees, maar dit kan ook meer intens wees. Gelukkig leer die Bybel ons wat ons moet doen wanneer ons voor versoeking staan. Vandag gaan ons ‘n bietjie kyk na 7 teksverse, wat vir ons meer leer oor versoeking en hoe ons dit kan oorwin.

VERSOEKING KOM NIE VAN GOD NIE.

Jakobus 1:13-14: “Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: ‘Ek word deur God versoek’ nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie. Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep.”

Die eerste groot les wat ons oor versoeking moet onthou, is dat dit nie van God af kom nie. Jy kan dus nooit vir God blameer wanneer versoeking jou pad kruis nie.

Die probleem lê in onsself, in ons eie begeertes, wat ons probeer verlei en mislei. Dit beteken dat ‘n mens se innerlike stryd jou grootste uitdaging is. Met die hulp van die Heilige Gees moet ons leer om ons gedagtes en begeertes te beheer, sodat hulle nie tot sonde lei nie.

DIE DUIWEL HOU AAN SOEK VIR GELEENTHEDE.

Lukas 4:13: “Nadat die duiwel met al die versoekings klaar was, het hy Jesus ‘n tyd lank met rus gelaat.”

Aan die begin van Jesus se bediening is Hy deur die Gees die woestyn ingelei, waar die duiwel Hom versoek het nadat Hy vir 40 dae gevas het.

Anders as Adam en Eva (en ek en jy!) gee Jesus nie toe aan die versoekings nie. Dan lees ons in vers 13 dat die duiwel, ha hy klaar was met die versoekings, Jesus vir ‘n tyd lank met rus gelaat het.

Dit beteken dat hy nie klaar was met sy versoekings nie. Nee, hy het net ‘n bietjie op die kantlyn gesit en gewag vir ‘n beter tyd om Jesus weer te versoek. Ons lees dan ook dat dit nog ‘n paar keer gebeur het, onder andere toe Petrus vir Jesus berispe het nadat Hy gesê het Hy gaan doodgemaak word en op die derde dag weer opstaan (Mattheus 16:21-23).

Hieruit leer ons dat versoeking nie iets is wat maar net een keer gebeur nie. Die duiwel kan ‘n mens dalk vir ‘n rukkie alleen los, maar ook net tot hy ‘n beter geleentheid kry om weer te probeer.

Daarom moet ons altyd op die uitkyk wees en regstaan om enige versoeking wat ons kant toe kom, te weerstaan.

JESUS VERSTAAN ONS STRYD.

Hebreërs 4:14-16: “Terwyl ons dan nou ‘n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.”

Jesus het nou wel nie toegegee aan versoeking nie, maar Hy is in elke opsig net soos ons versoek. Hy weet dus presies hoe dit voel om versoek te word en dit te moet teenstaan.

Daarom kan ons altyd, wanneer ons versoek word, na Hom toe draai sodat Hy ons kan help. Ons kan Hom vertrou om vir ons krag en leiding te gee, sodat ons die versoeking kan oorwin.

BID VIR BESKERMING TEEN VERSOEKING.

Mattheus 6:13: “…en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.”

In die Onse Vader leer Jesus dat ons gereeld die Vader moet vra om ons van die Bose te verlos deur ons te help om nie aan versoeking toe te gee nie.

Dit herinner ons aan twee belangrike lesse.

Die eerste les is dat ons nie in eie krag weerstand kan bied teen versoeking nie. Ons kan dit ook nie in eie krag oorwin nie. Daarom moet ons gereeld die Here vra om ons daarmee te help.

Die tweede les is dat die wêreld vol dinge is wat ons kan versoek, maar ons begeerte moet wees om sover as moontlik daarvan weg te bly. Want wanneer ons wegbly van versoekings en dit oorwin, eer ons die Here.

(Net so terloops, ons het in Jakobus 1:13-14 gesien dat God ‘n mens nie versoek nie, maar Hy laat wel toe dat ons beproef word. Sulke beproewings gee ons die geleentheid om ons liefde en toewyding vir Hom te wys.)

WAAK EN BID OM STAANDE TE BLY.

Mattheus 26:41: “Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is gewillig, maar die vlees is swak.”

Net voor Jesus gevange geneem is, vat Hy vir Petrus, Johannes en Jakobus saam met Hom na die Tuin van Getsemane. Hy vra hulle om saam met Hom te waak terwyl Hy bid, maar die drie raak aan die slaap. Wanneer Jesus sien hulle slaap, sê hy vir hulle om te waak en bid, sodat hulle nie in versoeking kom nie.

Dit herinner ons weereens aan die belangrikheid van gebed, wanneer dit by versoekings kom. Maar dit herinner ons ook daaraan dat geestelike waaksaamheid noodsaaklik is om nie deur ons swakhede oorweldig te word nie.

Later skryf Petrus in sy brief aan die gelowiges: “Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind” (1 Petrus 5:8).

Daarmee herinner hy ons dat ons op die uitkyk moet wees vir versoekinge. Soms gaan ons hulle maklik raaksien. Ander kere gaan dit so subtiel wees dat ons dit kan mis. Daarom moet ons nugter en wakker wees sodat die duiwel ons nie aan die slaap gevang en ons, soos die spreekwoordelike leeu, verslind nie.

GOD SAL ALTYD ‘N UITWEG GEE.

1 Korinthiërs 10:13: “Geen versoeking wat meer is as wat ‘n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan.”

Daar mag tye wees wat ‘n mens voel jy kan nie anders as om toe te gee aan versoeking nie. Maar dis nie waar nie.

In hierdie vers belowe die Here dat ons nooit met ‘n versoeking gekonfronteer sal word, wat ons nie kan hanteer nie.

Hy belowe dat Hy altyd ‘n manier sal gee wat ons kan gebruik om die versoeking te weerstaan. Ons hoef dus nooit te voel asof ons hopeloos in sonde vasgevang is nie, want die Here bied altyd ‘n uitkoms.

Ons moet egter ook onthou dat dit ons keuse is of ons die uitkoms gaan vat of nie. Die Here forseer ons nooit om dit te doen nie. Hy gee die uitkoms en wat ons daarmee maak, is ons keuse.

DAAR IS VERGIFNIS WANNEER ONS STRUIKEL.

1 Johannes 2:1-2: “Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie. En as een van ons sondig – ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader. Hy is die versoening vir ons sondes; en nie net vir óns sondes nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.”

Jesus het nooit sonde gedoen nie, maar dieselfde kan nie van ons gesê word nie.

Ons grootste begeerte mag wees om versoeking te oorwin, maar dit beteken nie ons kry dit perfek reg nie.

Daarom herinner Johannes ons daaraan dat, as ons toegee aan versoeking en sondig, Jesus ons voorspraak by die Vader is. Hy het die prys vir ons sondes betaal en daarom kan ons altyd na die Vader toe gaan en eerlik wees met Hom oor ons sondes. Ons kan dit teenoor Hom bely en in geloof aanvaar dat Hy ons nie net vergewe nie, maar ook reinig van alle ongeregtigheid.

SLOTGEDAGTES.

Versoeking is ‘n werklikheid in die lewe van elke gelowige, maar die Bybel leer ons hoe ons dit moet hanteer.

Ons moet bid vir beskerming en om staande te bly teen versoekings.

Ons moet nugter en wakker wees sodat versoekings ons nie onverhoeds oorval nie.

Dan moet ons ook onthou dat die Here altyd ‘n uitweg gee en dit aangryp wanneer dit gebeur.

En as ons struikel en toegee aan versoeking, moet ons onthou daar is genade en vergifnis beskikbaar in Christus.

Met God se krag kan ons staande bly en oorwinning behaal oor versoeking.

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *