
Sukkel jy soms om aan te hou met die Bybelstudie-roetine wat jy begin het? Jy is nie alleen nie. Baie kinders van die Here begin so ‘n roetine met groot opgewondenheid. Maar nie almal van ons bly opgewonde nie. Soms raak ons moedeloos, oorweldig of onseker. Dit gebeur selfs met mense wat al jare lank Bybelstudie doen. Dalk voel jy vandag lus om sommer op te hou met Bybelstudie. As jy só voel, dan is vandag se artikel net vir jou.
Ons gaan gesels oor tien van die algemeenste redes waarom Christene sukkel met Bybelstudie, asook praktiese maniere om dit te oorkom.
NOMMER 1: WEET NIE WAAR OM TE BEGIN NIE.
Die Bybel is ‘n groot boek. Daar is 39 boeke in die Ou Testament en 27 in die Nuwe Testament, ‘n totaal van 66 boeke. As jy besluit om die Bybel te studeer sonder dat jy ‘n plan het van hoé jy dit gaan doen, dan kan dinge nogal oorweldigend raak. Baie mense kies sommer ‘n plek in die Bybel om te begin. Maar, omdat hulle nie ‘n plan het nie, verloor hulle vinnig fokus of belangstelling.
OPLOSSING.
Begin met ‘n eenvoudige en gestruktureerde leesplan. Jy kan byvoorbeeld een van die baie leesplanne wat op die internet beskikbaar is, gebruik. Of jy kan besluit om met ‘n boek van die Bybel te begin en dit deur te werk voor jy aanbeweeg na iets anders. Jy kan ook tema-gebaseerde studies probeer deur te kyk na temas waaroor jy meer wil leer. Dink aan dinge soos hoop, geloof of gebed. Op dié manier het jy ‘n definitiewe fokus vir jou studietyd.
NOMMER 2: VERSTAAN NIE WAT JY LEES NIE.
Nie alle Bybelvertalings is maklik om te lees en te verstaan nie. En as jy boonop nie weet wat die konteks van ‘n gedeelte is of verstaan wat die skrywer vir sy oorspronklike lesers wou sê nie, dan raak dinge nog moeiliker. Die simboliek wat in die Bybel gebruik word, maak dinge ook nie juis makliker nie. Al hierdie dinge veroorsaak dat ‘n mens baie keer nie verstaan wat jy lees nie en dan sommer lus voel om op te gee.
OPLOSSING.
Gebruik ‘n maklik leesbare vertaling soos die Nuwe Lewende Vertaling of die 1983-vertaling. Jy kan selfs van die Engelse Bybelvertalings probeer – daar is heelwat van hulle wat maklik leesbaar en verstaanbaar is. Gebruik ook ‘n eenvoudige hulpmiddel soos ‘n Bybelstudie-vorm of metode wat jou vrae gee om jou deur die teks te help. Moenie bang wees om vrae te vra of notas te maak nie.
NOMMER 3: MOET EK ELKE KEER IETS ‘DIEP’ ONTDEK?
Dit is ongelukkig so dat ‘n mens baie keer dink jy moet elke keer wat jy jou Bybel lees of studeer, iets ontdek wat jy nie voorheen geweet het of verstaan het nie. En as dit nie gebeur nie, dan voel ‘n mens jy jou tyd in die Woord is nutteloos of dat jy dalk op die verkeerde manier Bybelstudie doen.
OPLOSSING.
Geestelike groei is iets wat jy jou hele lewe lank aan gaan werk. En om alles wat die Bybel jou wil leer te ontdek, gaan ook ‘n leeftyd vat. Soms gaan jy dae kry waar jy goed gaan raaksien wat jou asem gaan wegslaan. Jy gaan skielik iets verstaan en wonder waarom het jy dit nie voorheen raakgesien nie. Ander dae gaan jy nie veel leer wat nuut is nie, maar eerder herinner word aan dit wat jy reeds geleer het, wat jy dalk weer moet onthou. En dit is reg so. Jy doen nie verkeerde Bybelstudie as jy nie elke keer iets nuuts leer nie. Die Heilige Gees weet wanneer jy iets moet leer of verstaan en wanneer jy net weer aan ‘n waarheid herinner moet word. Vertrou Hom om te doen wat Hy weet jy daardie dag nodig het.
NOMMER 4: ONREALISTIESE VERWAGTINGE.
Het jy ook al besluit jy gaan ernstig begin Bybelstudie doen en ‘n uur of twee opsy gesit om met God in Sy Woord te spandeer, net om agter te kom jy weet nie wat om met al daardie tyd te doen nie? Dis maklik om ‘n doelwit vir Bybelstudie te stel en dan moedeloos te raak wanneer jy dit nie behaal nie.
OPLOSSING.
Stel realistiese doelwitte. As jy nog nooit voorheen Bybelstudie gedoen het nie, begin met net 10-15 minute op ‘n slag. Jy kan dit mettertyd langer maak, maar moenie voel jy mors tyd as jy nie vir ure op ‘n slag jou Bybel studeer nie. Begin klein en bou ‘n Bybelstudie-roetine wat jy maklik sal kan volhou.
NOMMER 5: TE VEEL METODES EN HULPMIDDELE.
As jy bietjie op die internet rondsnuffel, sal jy agterkom daar is ‘n magdom verskillende Bybelstudieplanne, tegnieke en metodes. Al hierdie dinge is veronderstel om ‘n mens te help. Maar omdat daar so baie is, kan dit ‘n mens eerder hinder omdat jy nie weet watter een om te kies of hoe om dit volhoubaar te gebruik nie.
OPLOSSING.
Kies ‘n eenvoudige metode en gebruik dit vir ‘n maand lank. Gebruik dan ‘n ander een vir ‘n maand lank. Werk so deur al die verskillende metodes en tegnieke wat vir jou interessant lyk. Jy sal vinnig agterkom watter vir jou werk en watter nie. Gebruik dan net die metodes en tegnieke wat jou help om regtig die Bybel te studeer en los die ander. (Probeer die eenvoudige Bybelstudie-metodes in ons gratis e-boek. Dis ideaal vir beginners!)
NOMMER 6: WAT AS EK ‘N DAG OORSLAAN?
Nie almal van ons het hierdie probleem nie, maar sommige gelowiges voel soos ‘n mislukking as dit gebeur dat hulle ‘n dag van Bybelstudie oorslaan. Meeste van die tyd mis ‘n mens nie jou studietyd met opset nie. Daar gebeur eenvoudig iets wat veroorsaak dat jy die tyd wat jy vir Bybelstudie opsy gesit het, nie daarvoor kan gebruik nie en dan maak dit jou moedeloos.
OPLOSSING.
Jy hoef nie Bybelstudie-roetine by die deur uit te gooi wanneer jy ‘n dag mis nie! Kies daardie week net ‘n ander tyd of dag en doen dit dan. En as dit gebeur dat jy ‘n week glad nie kan Bybelstudie doen nie, gaan dan net die volgende week weer aan. Maar moenie ophou net omdat jy ‘n dag of ‘n week nie by jou Bybelstudie uitgekom het nie.
NOMMER 7: NIE ‘N DUIDELIKE DOEL NIE.
‘n Mens moet weet waarom jy Bybelstudie doen. God het die Bybel vir ons gegee om Homself aan ons te openbaar, so dalk wil jy Bybelstudie doen omdat jy Hom beter wil leer ken. Of dalk wil jy dit doen omdat jy wil verstaan wat Sy wil vir die mens is en hoe om dit in jou lewe toe te pas. Dalk wil jy jou geloof versterk en geestelik groei. Die rede waarom ‘n mens Bybelstudie doen is belangrik. As jy nie weet waarom jy dit doen nie, gaan jy vinnig motivering verloor.
OPLOSSING.
Skryf neer waarom jy Bybelstudie wil doen – bv. “Ek wil Jesus beter leer ken” of “Ek wil leer om in geloof te groei.” Hou die stuk papier waarop jy jou doel geskryf het in jou Bybel of joernaal. Lees dit elke keer voor jy Bybelstudie doen. Op dié manier herinner jy jouself aan die rede waarom jy met jou Bybel gaan sit en wat jy daaruit wil kry.
NOMMER 8: ALLEEN IN PLAAS VAN SAAM MET ANDER.
Om op jou eie Bybelstudie te doen is nie vir almal maklik nie. Sommige mense het ander nodig om hulle aan te moedig, hulle vrae te antwoord, of om sommer net mee te gesels oor wat hulle leer.
OPLOSSING.
As jy sukkel om op jou eie Bybelstudie te doen, kry vir jou ‘n Bybelstudiemaat. Julle hoef nie noodwendig altyd saam Bybelstudie te doen nie, maar deel gereeld met mekaar wat julle leer of waarmee julle sukkel. Of dalk is ‘n Bybelstudiegroep iets wat beter vir jou gaan werk. Meeste gemeentes het sulke groepe waarby ‘n mens kan aansluit. En as jou gemeente nie een het nie, begin een! Jy mag dalk net verbaas wees oor hoeveel mense graag deel wil wees van so ‘n groep.
NOMMER 9: ‘N TAAK EERDER AS ‘N ONTMOETING MET GOD.
Wanneer Bybelstudie net iets op jou doen-lysie vir die week is, wat jy so vinnig as moontlik wil afmerk, dan raak dit leeg en vervelig. Maar as jy jou studietyd sien as ‘n ontmoeting met die Here, dan bring dit lewe en groot vreugde.
OPLOSSING.
Begin elke sessie met gebed. Nooi die Heilige Gees om jou te lei en te leer. Sien dit as tyd saam met Jesus, nie net ‘n geestelike plig nie. Dit help nogal om ‘n spesifieke plek te hê waar jy altyd Bybelstudie doen. Dit kan in jou tuin wees of ‘n spesiale plek in die huis. Sommige mense doen selfs Bybelstudie in hulle gunsteling koffiewinkel, maar ek moet erken, dis iets wat glad nie vir my gaan werk nie.
NOMMER 10: HOE PAS EK DIT WAT EK LEER, PRAKTIES TOE?
Baie mense sukkel met Bybelstudie omdat hulle dink die Bybel is ‘n ou boek wat eintlik nie meer in vandag se tyd van toepassing is nie. Ander weet dat die Bybel altyd van toepassing is, maar hulle weet nie so mooi hoe om dit wat hulle leer, toe te pas nie.
OPLOSSING.
Daar is ‘n paar vrae wat jy aan die einde van jou Bybelstudie kan vra, wat jou kan help om dit wat jy geleer het, in jou lewe toe te pas. In Die Bybelstudiehoek is ‘n gratis PDF met vrae, wat jy kan aflaai.
Bybelstudie hoef nie ingewikkeld of moeilik te wees nie. Die Here nooi jou om ‘n verhouding met Hom te hê. Dit gaan dus nie net oor wat jy leer wanneer jy Bybelstudie doen nie, maar eintlik oor die Een saam met wie jy tyd spandeer. Begin dus met ‘n eenvoudig roetine, wees getrou, en jy sal sien hoe jou hart begin brand vir die Here en Sy Woord.
