WAAROM GEBED VOOR BYBELTYD BELANGRIK IS

waarom gebed voor bybeltyd belangrik is

Het jy al ooit jou Bybel oopgemaak, begin lees…. en na ‘n rukkie besef jy het nie ‘n idee wat jy gelees het nie? Jou het aan ander dinge begin dink, begin dagdroom, of – as jy jou foon gebruik om Bybel te lees – is jou aandag afgetrek deur elke geluid wat jou laat weet daar is iets wat op een van jou apps gebeur. Jou hart is op die regte plek en jy wil graag tyd saam met die Here spandeer, maar daar is soveel dinge wat jou aandag kan aftrek van dit waarmee jy eintlik besig is.

Dis een van die redes waarom dit so belangrik is om, voor jy jou Bybel lees, eers tyd met die Here in gebed te spandeer. Want tyd saam met Hom begin voor jy jou Bybel oopmaak. So, kom ons kyk ‘n bietjie na ‘n paar redes waarom dit belangrik is dat jy, voor jy jou Bybel lees, eers tyd met die Here in gebed spandeer.

BYBELTYD = VERHOUDINGSTYD.

Tyd saam met die Here gaan altyd oor verhouding. Hy wil jou help om Hom beter te leer ken en Hy wil hê jy moet jou hart teenoor Hom oopmaak, selfs al weet Hy reeds wat jy vir Hom gaan sê. Dis in daardie tyd wat jy saam met die Here aan julle verhouding bou en waar julle verhouding al hoe intiemer word.

Wanneer jy jou Bybeltyd met gebed begin, herinner jy jouself daaraan dat jou Bybeltyd nie ‘n inligtingssessie is nie. Dis ‘n ontmoeting met die lewende God. En Hy belowe keer op keer in die Bybel dat Hy daar is wanneer ons met ‘n opregte hart kom om tyd met Hom te spandeer.

DIE WOORD GAAN OOR GOD, NIE OOR JOU NIE.

‘n Mens vergeet maklik dat die Here die Woord laat opteken het omdat Hy Homself daardeur aan ons wil openbaar. Ons lees die Bybel en dink baie keer God het dit vir ons gegee sodat ons antwoorde kan kry, bemoedig kan word, herinner kan word aan Sy beloftes, ensovoorts. En dis waar, ‘n mens kry al daardie dinge ook uit die Bybel. Maar dis in die eerste plek ‘n boek oor God.

Wanneer ‘n mens jou Bybeltyd met gebed begin, skuif jy jou fokus van ‘Wat kan ek hier kry vir myself?’ na ‘Wat wil die Here my leer sodat ek Hom beter kan leer ken?’

En ja, die Here gebruik die Woord om met ‘n mens te praat oor jouself, maar die belangrikste onderwerp waaroor Hy praat, is oor Homself – wie Hy is, wat Hy doen, wat Hy nog gaan doen, ensovoorts.

MAAK JOU HART OOP VIR DIE HERE.

Jy sal met my saamstem dat die tyd waarin ons leef ‘n tyd is waar mense jaag, altyd besig is, en waar jou gedagtes gewoonlik teen 100km ‘n uur beweeg. Al hierdie dinge veroorsaak dat ons nie maklik hoor wat die Here sê nie. Ons sit nooit lank genoeg stil om van Sy Teenwoordigheid bewus te raak nie. En as ons nie eers weet Hy was daar nie, het ons meeste van die tyd ook nie gehoor wat Hy vir ons wou sê nie.

Daarom begin ‘n mens jou tyd met die Here in gebed. Dit help jou om stil te word sodat jy bewus kan raak daarvan dat Hy by jou is. Dan bring dit ook jou gedagtes tot rus sodat jy kan luister na wat Hy vir jou wil sê.

AFHANKLIK VAN DIE HEILIGE GEES.

In Johannes 14:26 lees ons Jesus sê dat die Heilige Gees ons alles sal leer en ons sal herinner aan wat Hy voorheen vir ons gesê het. En in Johannes 16:13 sê Jesus dat die Heilige Gees ons in die waarheid sal lei. Jy sien, ons het die Heilige Gees se hulp nodig om te verstaan wat die Bybel sê en beteken, sodat ons niks uit verband ruk en verkeerd interpreteer nie. Ons het Hom ook nodig om ons te help verstaan wat God vir elkeen van ons in ‘n gedeelte wil sê, want wat Hy vir my uitlig, gaan nie noodwendig dieselfde wees as wat Hy vir jou uitlig nie.

En dan het ons die Heilige Gees nodig om ons te wys hoe ons die Woord moet toepas. Omdat ons unieke mense met unieke omstandighede is, gaan elkeen van ons dit wat ons leer op ‘n ander manier toepas. Ons begin dus ons Bybeltyd met gebed om ons nie net daaraan te herinner dat ons die Heilige Gees se hulp nodig het nie, maar om Hom ook te vra om ons te help.

OM GEHOORSAAM TE WEES.

In sy tweede brief aan Timotheus skryf Paulus dat die Woord van God ons in die waarheid onderrig, dwaling in ons lewens bestry, verkeerdhede regstel en ‘n regte lewenswyse kweek, sodat ons voorberei en toegerus sal wees vir die goeie werk wat Hy vir ons het. Maar vir enige van hierdie dinge om ‘n werklikheid in ons lewens te wees, moet ons nie net die Bybel lees nie, maar dit ook gehoorsaam. Dis dan ook waarom Jakobus vir ons sê ons moenie net hoorders van die Woord wees nie, maar doeners.

Wanneer ‘n mens jou Bybeltyd met gebed begin, bring jy jou hart voor God sodat Hy dit sag kan maak en jy gewillig kan wees om te gehoorsaam. Want dis wanneer jy gehoorsaam is dat daar ‘n verandering in jou plaasvind en jy al meer soos Jesus word.

AL DIE AFLEIDINGS.

Ek het aan die begin genoem dat ‘n mens maklik nie weet wat in jou Bybeltyd aangaan nie, omdat jou aandag op een of ander manier afgetrek word van wat jy doen. Die ou duiwel weet hoe kragtig tyd saam met God is en hy sal alles in sy vermoë doen om daardie tyd by jou te steel.

Daarom is dit belangrik om eers by die Here stil te word voor jy jou Bybel oopmaak. Gebed help jou om te fokus. Dit bring jou in ‘n ruimte waar jy veilig in God se hand is en waar die vyand nie so maklik sy ‘sneaky’ aanvalle op jou kan loods en jou tyd met die Here in die wiele ry nie.

VREDE EN VERWAGTING.

Wanneer jy tyd met die Here in die Woord spandeer, is dit belangrik dat jy verwag dat Hy met jou gaan praat. Dis ook belangrik dat jy rustig is, want dan gaan jy Hom beter hoor.

Om te bid voor jy lees gaan jou help om rus en vrede van die Here in te gaan. Dit gaan jou help om met verwagting uit te sien na wat Hy vir jou wil sê. En dit gaan jou help om dit wat Hy vir jou sê, in geloof te ontvang.

Hierdie is maar net ‘n paar redes waarom dit belangrik is om jou Bybeltyd met gebed te begin. Ek wil jou dus vandag aanmoedig om altyd eers jou hart oop te maak voor jy jou Bybel oopmaak. Gebed kan die verskil wees tussen net die Bybel lees en ‘n ware ontmoeting met God!

HULP VIR JOU GEBEDSLEWE.

As jy enigsins hulp met gebed nodig het, loer dan gerus in ons aanlyn-winkel na ons gebedsgids, Hart Tot Hart.

In dié e-gids gaan jy die basiese beginsels van gebed leer. Dié beginsels is nie net belangrik vir iemand wat nog nie veel gebid het en ‘n gebedslewe wil begin nie. Dis ook belangrik vir almal wat al lank bid, want dis op die basiese beginsels wat ons ons gebedslewens bou en wat ons gebruik om ons gebedslewens te laat groei.

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *