PSALM 119:105 – DIE WOORD, JOU LIG…

Psalm 119 is die langste psalm in die Bybel. Dié psalm is ‘n lied wat die Woord van God besing. Dis ook ‘n uitnodiging om dieper in die waarhede daarin te delf. Ons gaan vandag daardie uitnodiging aanneem en die VOLG-metode gebruik om te kyk wat ons uit een vers van die psalm kan leer. Die vers waarna ons gaan kyk, is Psalm 119:105.

V – VRA GOD SE LEIDING.

Ons gaan begin met die V van VOLG en vir die Here vra om ons oë oop te maak vir lesse in die vers en om ons te help om dit wat Hy ons wil leer, te verstaan. So, kom ons bid saam.

Hemelse Vader, ons wil vandag vir U kom dankie sê vir U Woord. Dankie vir Psalm 119, waarin Dawid U Woord besig. Ons weet dat daar baie is wat ons uit die psalm kan leer, selfs al kyk ons net na een vers daarvan. Ons kom vra dat U vir ons die Woord sal oopbreek en dat ons sal raaksien wat ons moet raaksien in die vers. Help ons om te verstaan wat U vir ons wil sê. Wys ook vir ons hoe elkeen van ons dit wat U ons leer, in ons eie lewens kan toepas. Ons bid dit in Jesus se Naam. Amen.

O – ONDERSOEK DIE TEKS.

Ons volgende stap is om te lees wat staan in die vers waarna ons gaan kyk. As jy self die VOLG-metode in jou stiltetyd of jou Bybelstudietyd gebruik, dan sal jy nie net die vers lees nie, maar dit ook woord-vir-woord in jou notaboek neerskryf. Om die vers of verse waarna jy kyk neer te skryf, help jou om stadiger deur dit te lees, sodat jy kan begin raaksien wat regtig in die vers of verse staan.

Jy kan selfs die vers of verse in meer as een Bybelvertaling lees. Dit gaan jou baie keer help om dinge raak te sien wat jy sou gemis het as jy in net een vertaling gelees het.

Ons gaan vandag Psalm 119:105 uit die 2020-vertaling lees. Daar staan: “U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my lewenspad.”

L – LET OP DIE LESSE.

Noudat ons gesien het wat staan in die vers, is dit tyd om te kyk na lesse wat ons daaruit kan leer. Ons gaan ook sommer na elke les kyk na die G van VOLG, sodat ons kan sien hoe ons elke les in ons lewens kan toepas.

LES 1: DIE WOORD GEE LEIDING.

Google is seker een van die nuttigste dinge wat mense nog uitgedink het. Jy hoef net ‘n vraag in te tik en binne ‘n oogwink het jy ‘n antwoord daarop. Wil jy weet hoe om lasagne in die lugbraaier te maak? Google kan vir jou honderde resepte gee. Wil jy weet wat in ‘n episode van jou gunsteling storie op Netflix gebeur het voor jy daarna kyk? Google is weereens klaar op hoogte.

Dit maak nie eintlik saak wat jy wil weet nie, Google het vir jou ‘n antwoord. Ongelukkig gebruik ons dit ook wanneer ons raad wil hê oor ernstiger dinge in die lewe, en dis nie altyd ‘n goeie idee nie.

Maar gelukkig hoef ons nie op Google staat te maak om vir ons te sê hoe ons die lewe moet leef of probleme hanteer nie. Al wat ons moet doen is om tyd met God in Sy Woord te spandeer, sodat Hy daaruit vir ons kan wys wat ons moet doen en hoe ons moet leef.

G – GAAN EN WEES ‘N DOENER.

Vra jy soms vir Google wat jy moet doen in ‘n situasie of hoe jy ‘n probleem moet oplos? Onthou, elke artikel, video of webblad waarheen Google jou neem, is geskryf deur mense. Dis die opinie van mense en nie altyd volgens die wil en weë van God nie. Wanneer jy volgende keer raad of leiding nodig het, word stil by die Here en vra Hom om deur Sy Woord met jou te praat en jou te wys wat jy moet doen. En wanneer Hy jou deur Sy Woord die antwoord gee, gaan dan en doen wat Hy sê.

LES 2: EEN TREE OP ‘N SLAG.

Ek weet nie van jou nie, maar ek wil, voor ek met ‘n projek begin, presies weet wat ek alles nodig het daarvoor en presies wat ek alles moet doen om dit te voltooi. Maar dis nie hoe God werk nie en dis ook nie hoe Hy die Woord in ons lewens gebruik nie.

Ons vers sê die Woord is ‘n ‘lamp vir my voet’. ‘n Lamp gee nie baie lig nie. Jy kan hoogstens een of twee treë voor jou sien. Wanneer jy in die donker in die veld loop, kan dit nogal ‘n probleem wees, want ‘n mens wil mos graag ver kan sien sodat jy betyds enige ongediertes kan raaksien. Maar wanneer dit by ons lewens kom, dan gee die Here gewoonlik vir ons net een tree op ‘n slag. Wanneer ons gehoorsaam is, gee Hy die volgende tree. En so hou dit aan, tree vir tree.

Nou wonder jy dalk waarom die Here nie sommer van die begin af vir ons die hele padkaart gee nie? Dis eintlik eenvoudig. Hy wil hê ons moet Hom genoeg vertrou om die tree wat Hy vir ons gee gehoorsaam uit te voer, selfs al weet ons nie wat die volgende tree is nie en al verstaan ons dalk nie waarom die tree wat ons nou gee, nodig is nie.

G – GAAN EN WEES ‘N DOENER.

Wat is die laaste ding wat die Here vir jou gesê het om te doen? Het jy dit al gedoen? Dis dalk juis omdat jy nog nie daardie tree geneem het nie, dat jy voel jy sit vas en jy weet nie wat om volgende te doen nie. As jy weet van iets wat die Here vir jou gesê het jy moet doen en jy het nog nie, maak sommer vandag nog ‘n plan om gehoorsaam te wees.

Onthou, fokus op die tree wat die Here vir jou gee en doen wat Hy vir jou sê. Moenie begin dink oor die volgende tree of treë voor jy nie die een geneem het wat die Here vandag vir jou gegee het nie!

LES 3: ‘N LIG IN DIE DONKER.

‘n Lampie se liggie raak amper weg wanneer die son helder skyn. Maar wanneer dit so donker is om jou dat jy nie jou hand voor jou oë kan sien nie, is daardie selfde liggie baie welkom.

God se Woord is soos daardie lampliggie, wat die donker om ‘n mens verdryf sodat jy kan sien waarheen jy moet loop. Wanneer ‘n mens dus onseker, bang of deurmekaar voel, is die Bybel noodsaaklik. Dit wys jou nie net die pad wat jy moet stap nie, maar bemoedig jou, vertroos jou en hef jou op. Dit voed jou gees en herinner jou aan wie God is en waartoe Hy in staat is.

G – GAAN EN WEES ‘N DOENER.

Die volgende keer wat jy bang, benoud of angstig voel, word stil by die Here en spandeer tyd met Hom in Sy Woord. Jy sal verbaas wees hoeveel beter jy na die tyd gaan voel!

LES 4: DIE REGTE PAD.

Ek het in ‘n tyd grootgeword toe daar nog nie dinge soos ‘n GPS of Google Maps was nie. Wanneer jy iewers heen moes ry en jy het nie die pad geken nie, moes jy ‘n padkaart gebruik. Of iemand moes vir jou verduidelik presies hoe jy moes ry om te kom waar jy wil wees. Nie almal was goed hiermee nie en soms het ‘n mens die aanwysings tot op die letter gevolg en steeds nie uitgekom waarheen jy op pad was nie. Gelukkig bestaan Google Maps nou en dis baie maklik om veilig en vinnig te kom waar jy wil wees.

Die Woord van God is soos Google Maps. Dit wys ons presies watter pad ons moet stap sodat ons die regte pad stap. Deur die Woord leer die Here vir ons wat Sy wil is. En as ons dit volg, dan stap ons die regte pad. Hy gebruik dit ook om vir ons te wys wat Sy karaktereienskappe is. Wanneer ons Hom toelaat om deur die Gees en die Woord ons te verander sodat ons ook daardie karaktereienskappe het, dan stap ons die regte pad. Verder gebruik die Here Sy Woord om ons te vul met Sy wysheid. As ons in enige situasie daardie wysheid toepas, is ons besig om die regte pad te stap.

G – GAAN EN WEES ‘N DOENER.

Die Bybel help ons om reg te leef en van die verkeerde paaie af weg te bly. Wanneer jy weer ‘n keuse moet maak of ‘n besluit moet neem, maak seker dit wat jy wil doen strook met wat die Woord sê. Vra jouself: Gaan hierdie keuse my nader aan die Here bring of my wegtrek van Hom af? Gaan dit my help om Hom te verheerlik of gaan ek daarmee Sy Naam deur die modder sleep?

LES 5: DIS PERSOONLIK.

Die woordjie ‘my’ kom twee keer in die vers voor, wat vir ons sê die Woord van God is vir elkeen van ons persoonlik. Ons moet dit self lees en self studeer. Ons moet self by die Here stil word, sodat Hy ons kan leer wat ons vir daardie dag moet weet en verstaan. Dis nie ‘n slegte idee is om by ander mense te hoor wat die Here hulle leer nie, maar dit moet nie die enigste manier wees waarop ons die Woord inneem nie. Elkeen van ons moet tyd maak elke dag om tyd met die Here in die Woord te spandeer sodat Hy ons kan voed, ons geloof versterk, ons Hom beter kan leer ken en Hy ons die regte pad kan leer.

G – GAAN EN WEES ‘N DOENER.

Spandeer jy elke dag tyd met die Here in Sy Woord en in gebed? Laat jy Hom toe om jou te leer wat jý moet weet? As jou antwoord ‘nee’ is, dan wil ek jou aanmoedig om sommer vandag nog die keuse te maak om elke dag tyd met Hom te spandeer. Onthou, ‘n mens kan nie sê jy ken iemand of dat julle ‘n intieme verhouding het as julle nooit tyd saam spandeer nie. Dieselfde is waar van jou verhouding met die Here. Jy is so na aan Hom as wat jy wil wees en dit begin by tyd saam met Hom in Sy Woord en in gebed.

SLOTGEBED.

Here, baie dankie dat U die Woord vir ons gegee het om ons te lei. Dankie dat dit vir ons lig gee vir vandag, rigting vir môre, en vrede vir elke tree wat ons neem. Help ons om nie toe te laat dat U Woord op die rak lê en stof vergaar nie, maar dat ons moeite sal doen om elke dag tyd met U daarin te spandeer. Ons vra dit in Jesus se Naam. Amen.

HULP VIR JOU TYD MET GOD.

As jy nog nooit regtig tyd met die Here gespandeer het nie, dan weet jy dalk nie so mooi hoe om dit te doen nie. Gelukkig het ons die Stiltetyd Skatkis in ons aanlyn-winkel beskikbaar, wat jou hiermee kan help. In dié skatkis is daar drie e-gidse:

By Jesus Se Voete – ons stiltetydgids wat jou gaan help om te leer hoe om stil te word by die voete van Jesus.

Hart Tot Hart – ons gebedsgids wat jou help om die basiese beginsels van gebed te verstaan en te begin toepas.

Jesus, Die Bybel, En Jy – ons gids waarin jy leer hoe om die VOLG-metode te gebruik om tyd in jou Bybel te spandeer sodat jy dit beter verstaan en ook kan toepas in jou lewe.

So, maak sommer vandag nog ‘n draai in die aanlyn-winkel en kry vir jou Die Stiltetyd Skatkis sodat jy kan begin om gereeld tyd met Jesus te spandeer.

Deel hierdie blad

2 comments

  1. Liewe Risa
    Ek waardeer jou omgee en uitreiking na my op die regte tyd. Baie dankie. Ek wil baie graag Johannes 3:5-8 N Volg-Studie, Jesus die Bybel en By die voete van Jesus ,Bybelstudie en Metodes bestel.Dankie dat jy my die procedure vir betaling sal voorsien.

    1. Hi Engela. Dit is sommer ‘n groot plesier. Kliek op die Shop link aan die bokant van die bladsy. Dit sal jou na die aanlyn-winkel toe neem. Al die e-boeke asook die twee maniere waarop jy daarvoor kan betaal, is daar.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *