JOHANNES 3:5-8 – ‘N VOLG-STUDIE

Johannes 3:5-8 - 'n VOLG-studie

Om die Bybel te lees is een ding, maar om dit regtig te verstaan en dit wat jy leer in jou lewe toe te pas, is iets anders. Dis presies waarom die VOLG-metode so waardevol is. Dit help ons om stadig deur ‘n paar verse in die Bybel te lees, vrae te vra, die teks te ondersoek, lesse raak te sien en uiteindelik te leef wat God vir ons wys.

In hierdie studie gaan ons die VOLG-stappe gebruik om te kyk wat ons uit Johannes 3:5–8, waar Jesus praat oor wedergeboorte, kan leer. Elke stap bou op die vorige een, so dis belangrik dat ons hulle in volgorde gebruik. Dis dan ook waarom VOLG ‘n akroniem is, wat ons help om die stappe en die volgorde daarvan, te onthou. So, kom ons val weg.

V – VRA GOD SE LEIDING.

Ons gaan ons studie van Johannes 3:5-8 begin deur eers die Here te vra om ons te help om te verstaan wat Hy vir ons deur Sy Woord wil sê. So, kom ons bid saam.

Hemelse Vader, baie dankie vir U Woord. Dankie dat U die Heilige Gees vir ons gegee het om ons te help om U Woord te verstaan. Wys asseblief vir ons wat die lesse is wat ons uit hierdie gedeelte moet leer en wys ons ook hoe ons dit wat ons leer, elkeen in ons eie lewens kan toepas. Ons bid dit in Jesus se heilige Naam. Amen.

O – ONDERSOEK DIE TEKS.

Die volgende stap wat ons gaan neem, is om die paar verse waarna ons gaan kyk, te lees. As jy self ‘n VOLG-studie oor ‘n gedeelte doen, dan is dit ‘n goeie idee om ook die verse waarna jy kyk in jou notaboek of joernaal neer te skryf. Dit help jou om stadiger deur die verse te lees en al te begin raaksien watter lesse jy daaruit kan leer.

Johannes 3:5-8:

Jesus het geantwoord: “Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie.
Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees.
Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie.
Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.”

L – LET OP DIE LESSE.

Die verse hierbo is deel van die bekende verhaal van Nikodemus, wat in die nag na Jesus toe gekom het. Jesus begin met hom gesels oor wedergeboorte. Dis ‘n kosep wat Nikodemus nie so mooi verstaan nie. Hy dink Jesus praat van ‘n natuurlike geboorte en vra hoe ‘n man wat al oud is, weer gebore kan word.

Jesus is baie geduldig en verduidelik vir hom dat Hy nie praat van ‘n tweede natuurlike geboorte nie, maar van ‘n geestelike geboorte. Hierdie geboorte is die werk van die Heilige Gees.

DIE LES OOR WEDERGEBOORTE.

Om in die Koninkryk van God in te gaan, moet ‘n mens weergebore word. Jesus sê baie uitdruklik dat geen mens God se Koninkryk kan ingaan as hy nie uit water en Gees gebore word nie.

Water verwys na die natuurlike geboorte, wat met elke mens gebeur sodat hy of sy in hierdie wêreld kan inkom. Gees verwys na die werk van die Heilige Gees om diegene wat in Jesus as Verlosser glo, ‘n nuwe gees te gee wat een is met God en vir Hom lewe.

Jesus se antwoord weerlê die idee wat baie mense het dat ‘n mens net genoeg goeie werke moet doen om in die Koninkryk van God in te gaan. Om die waarheid te sê, in Jesaja 64:6 lees ons: “Ons het almal geword soos mense wat onrein is, ons beste dade is soos vuil klere; ons is almal soos verdroogde blare, ons word deur ons sondes weggewaai soos deur ‘n wind.” Daar is dus niks wat enige een van ons kan doen, wat goed genoeg is om ons in die hemel te bring nie.

Wedergeboorte is ‘n innerlike verandering, ‘n hartsverandering. Die dinge wat ons doen, wat ons as goeie dade beskou, is uiterlike dinge. Op die oog af mag dit lyk of iemand wat iets goed doen ‘n goeie mens is, maar dit beteken nie hy het ‘n hartsverandering ondergaan net omdat hy iets doen wat lyk of dit goed is nie. Dit is die hartsverandering wat die Heilige Gees te weeg bring, wat gelowiges weer in ‘n verhouding met God plaas.

GOD SE BETROKKENHEID.

Uit die gedeelte leer ons dus dat ons verlossing, ons wedergeboorte, nie ons werk is nie. Dit is van begin tot einde God se werk.

Jesus, Self God, het die prys vir ons sondes kom betaal.

Dit is God se goedheid wat ons tot bekering lei (Romeine 2:4).

Dit is God wat ons, deur die boodskap van Jesus in die Woord, ons na Hom toe aantrek.

En wanneer ons die dag erken dat ons sondaars is en vir Jesus nodig het, dan is dit God wat vir ons die geloof gee om in Jesus te glo (Romeine 10:17).

Dan is dit ook God se werk, deur die Heilige Gees, om ons nuut te maak van binne af.

Al wat ek en jy in hierdie hele proses doen, is om te erken ons is sondaars, wat ver van God af is, dat ons nie self iets daaraan kan doen nie en dat ons vir Jesus nodig het.

Die res is alles God!

G – GAAN EN WEES ‘N DOENER VAN DIE WOORD.

Die laaste deel van die VOLG-metode is om dit wat ons geleer het, te gaan uitleef.

As jy nog nie vir Jesus aangeneem het as Verlosser nie, dan is dit vandag jou kans. Onthou, niks wat jy doen kan jou red nie. Jesus is die enigste manier om by die God die Vader uit te kom. Geloof in Hom is die enigste manier om die Koninkryk van God binne te gaan, want dis deur geloof in Hom wat jy weergebore word. As jy dit glo, bid dan sommer nou en erken dat jy ‘n sondaar is wat Jesus as jou Verlosser nodig het.

Of dalk is jy iemand wat reeds lankal vir Jesus vertrou het vir jou redding. Onthou dan wat Jesus vir jou gedoen het. Onthou wie jy was voor jy Hom in jou lewe gehad het en hoe Hy jou lewe verander het. Word vir ‘n rukkie stil by Hom en sê opnuut vir Hom dankie vir jou verlossing.

SLOTGEBED.

Here Jesus, baie dankie dat U vir ons aan die kruis gesterf het en die prys betaal het wat ons nooit self sou kon betaal nie. Vader, dankie vir U Woord en die Heilige Gees in ons lewens, wat ons meer leer oor Jesus en dit wat Hy vir ons kom doen het. Dankie dat ons nie verantwoordelik is vir ons eie verlossing en wedergeboorte nie, maar dat alles van U af kom en U werk is. Ons eer U daarvoor! Amen.

GAAN ‘N BIETJIE DIEPER.

As hierdie studie vir jou interessant was en jy wil graag die VOLG-metode ook in jou stiltetyd of Bybelstudietyd gebruik, dan is die e-gids – Jesus, Die Bybel, En Jy – net waarna jy op soek is.

Die e-gids lei jou stap-vir-stap om die VOLG-metode te gebruik om Jesus deur die Skrif te VOLG, die lesse wat Hy jou wil leer te ontdek en dit dan prakties in jou lewe toe te pas.

Saam met die gids ontvang jy ook die VOLG-studie Waag Dit Om Anders Te Wees, wat jou help om te ontdek hoe ‘n kind van God anders leef as die wêreld om Hom te verheerlik.

Maak dus sommer nou ‘n draai in die aanlyn-winkel en kry dié twee hulpmiddele om in jou tyd saam met die Here te gebruik.

Jesus, die bybel en jy
Deel hierdie blad

1 comment

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *