
Ons gesels elke nou en dan hier by Bybel En Gebed oor agtergrond-inligting van ‘n spesifieke Bybelboek, wat vir jou van waarde gaan wees as jy oor daardie boek wil Bybelstudie doen. Dié inligting kan ‘n mens nogal help om die boek so ‘n bietjie beter te verstaan. Vandag se artikel is deel van dié agtergrond-inligting reeks. So, kom ons kyk na interessante dinge wat jy oor die boek Amos moet weet.
DIE NAAM VAN DIE BOEK.
Die boek is vernoem na die profeet Amos, wie se preke daarin saamgevat is.
WAT SE TIPE BOEK IS AMOS?
Amos is deel van ‘n groep Bybelboeke wat ons die Klein Profete noem. Dit is dus ‘n profetiese boek.
WIE HET DIE BOEK GESKRYF?
Niemand weet regtig wie hierdie boek geskryf het nie. Dit kan wees dat Amos self sy preke opgeteken het, maar dit kan ook wees dat ‘n navolger dit gedoen het.
VIR WIE IS DIE BOEK GESKRYF?
Amos se preke was gerig aan die mense van Israel en hulle nageslag. Maar, net soos met alle ander boeke in die Bybel, is dit ook op ons as Nuwe Testamentiese gelowiges van toepassing.
ONTSTAANTYD VAN DIE BOEK.
Amos het sy ontstaan in ongeveer 780 tot 760 vC gehad.
DIE DOEL VAN DIE BOEK.
Met sy preke het Amos God se oordeel aangekondig. Hy wou die mense oortuig dat ware godsdiens ‘n liefde vir jou medemens insluit. Slegs wanneer die volk hulle werklik tot God bekeer – die God wat oor die regte van eenvoudige mense waak – sou hulle die oordeel kon vryspring.
AGTERGROND VAN DIE BOEK.
Die rykes van Israel was selfvergenoegd en hulle het baie uitspattig gelewe. Die armes kon hulleself nie handhaaf teenoor die ryk mense nie en hulle posisie het al hoe meer versleg. Dit het anderhand so sleg gegaan met hulle, dat hulle hulleself moes verkoop as slawe.
BELANGRIKE KARAKTERS EN PLEKKE IN DIE BOEK.
Daar is drie belangrike karakters in hierdie boek: Amos, Amasia en Jerobeam II.
Dan is daar ook drie belangrike plekke in die boek: Samaria, Bet-El en Tekoa.
HOOFTREKKE IN AMOS.
Amos het boodskappe gebring oor vier sake:
In hoofstukke 1:1 tot 2:5 praat hy oor die verkeerde dinge wat gebeur in die lande rondom Israel.
Dan praat hy in hoofstukke 2:6 tot 6:14 oor die onregverdige dinge wat in Israel gebeur.
In hoofstukke 7:1 tot 9:10 vertel hy van vyf gesigte wat hy gesien het.
En in hoofstuk 9:11-15 bring hy die goeie nuus dat die Here weer sal heelmaak wat Hy stukkend gemaak het.
GOD SE KARAKTER IN AMOS.
Die deel van God se karakter wat ons in hierdie boek sien, is Sy geregtigheid. In Amos 5:24 lees ons: “Maar laat die reg en die geregtigheid te voorskyn kom,
laat dit aanrol soos watergolwe, soos ‘n standhoudende stroom.”
GELOOFSLESSE IN AMOS.
Amos maak ‘n mens so ‘n bietjie ongemaklik wanneer jy dit lees, want dit forseer jou amper om dieper te kyk na jou eie geloofslewe. Maar dit gee ook hoop vir elkeen wat regtig met ‘n opregte hart soek na die wil van die Here vir sy lewe.
JESUS IN AMOS.
Ons sien vir Jesus op verskeie plekke in hierdie boek. Ons sien Hom byvoorbeeld in Amos 8:11, waar daar staan: “Maar daar kom dae, sê die Here my God, dat Ek ‘n honger oor die aarde laat kom: ‘n honger nie na kos nie, ‘n dors nie na water nie, maar om die woorde van die Here te hoor.” Ek en jy moet honger na die lewende Woord, ons Here Jesus Christus.
Dan sien ons ook die herstelwerk van Jesus baie duidelik in die laaste hoofstuk van die boek. Lees gerus Amos 9:11-15 om hierdie te sien.
SLEUTELVERSE IN AMOS.
Daar is vier verse in Amos wat ons as sleutelverse kan uitlig.
In die eerste plek is daar Amos 3:3. Daar staan: “Sal twee saamloop as hulle dit nie afgespreek het nie?”
Volgende is daar Amos 3:7, waar ons lees: “Die Here God doen niks as Hy nie sy besluit bekend gemaak het aan sy dienaars die profete nie.”
Dan is daar ook Amos 5:6a: “Vra na die wil van die Here, dan sal julle lewe!”
En laastens Amos 5:15a: “Julle moet haat wat verkeerd is, julle moet liefhê wat goed is, julle moet opkom vir die reg in die howe.”
VERDERE OPMERKINGS.
Amos was nie ‘n tipiese profeet nie. Hy het nie ‘n profetiese agtergrond gehad nie, maar is geroep uit die sekulêre wêreld. Sy beroep as veeboer vorm dan ook die agtergrond van sy profesieë. Ons sien hoe hy beelde vanuit ‘n landelike agtergrond gebruik: ‘n swaargelaaide wa, ‘n brullende leeu, ‘n verskeurde skaaplam, ‘n mandjiie ryp vrugte, ensovoorts.
AMOS IN JOU LEWE.
Uit die boodskappe van Amos kan ons drie lesse haal wat ons steeds vandag in ons lewens kan toepas.
- Om in God te glo het beide ‘n onsigbare en ‘n sigbare kant. Ons glo in ons harte en dan bevestig ons dade dit wat ons sê ons glo. Daarom is dit belangrik dat ons met alles – dit wat mense kan sien en ook dit wat hulle nie kan sien nie – ons verhouding met die Here uitleef.
- God is enig in Sy soort. Hy is ‘n God wat liefhet, maar ook streng is wanneer ons dit nodig het. Hoewel Hy naby aan ons is, is Hy ook ver bo ons verhewe. In Jesus is Hy by ons, in die Heilige Gees in ons en as Vader bo ons. Hy is die ewige God wat heeltemal anders is as ons, maar wat ook ons God en Here is.
- Elke mens wat ons pad kruis gee vir ons ‘n aanduiding van wie ons is. As ons regtig mense is wat die Here ken, sal ons omgee vir ander en hulle met liefde behandel, selfs al is hulle dalk ons vyande.
AS JY MEER WIL WEET.
As jy meer wil weet oor die ander boeke van die Bybel waaroor ons reeds oor gesels het, kan jy gerus hier ‘n draai maak. Op dié blad is skakels na al die vorige artikels.
En as jy op soek is na ‘n eenvoudige metode wat jy kan gebruik om Jesus beter te leer ken en meer oor Sy Woord te leer, dan is Jesus, Die Bybel, En Jy – ons VOLG-metode e-gids wat in ons aanlyn-winkel beskikbaar is – net waarna jy op soek is. Dié e-gids leer jou nie net hoe die stappe van die VOLG-metode werk nie, maar ook hoe jy dit in jou stiltetyd en ook in jou Bybelstudietyd kan gebruik.
Saam met die e-gids kry jy ook die e-studie, Waag Dit Om Anders Te Wees, sodat jy die VOLG-metode sommer dadelik kan begin gebruik om meer te leer oor dinge wat ons as kinders van God, anders maak as die res van die wêreld.

