MOTIVEER JOUSELF OM BYBELSTUDIE TE DOEN

Motifeer jouself om Bybelstudie te doen

As ek vandag vir jou vra waarmee jy die meeste sukkel wanneer dit by Bybelstudie kom, wat sal jy antwoord? Een antwoord wat ek baie kry wanneer ek mense dié vraag vra, is dat hulle sukkel om hulleself te motiveer om Bybelstudie te doen. Party sukkel selfs om hulleself te motiveer om die Bybel te lees.

As motivering iets is waarmee jy sukkel, dan is jy vandag op die regte plek!

Gebruik hierdie 6 wenke wanneer jy jouself wil motiveer om Bybelstudie te doen.

WENK 1: ONTHOU JOU ‘WAAROM’.

Ons dink nie altyd daaraan nie, maar die Bybel het groot waarde in ‘n mens se lewe.

Dit leer jou meer oor God en oor wie jy is in Christus. Dit leer jou hoe jy jou lewe moet leef, noudat jy ‘n kind van God is. En dis voedsel vir jou gees.

Verder vernuwe dit jou denke en verander jou sodat jy meer soos Jesus word. Dan laat dit jou ook geestelik groei en vrug dra en verdiep jou verhouding met God.

So, wanneer jy jouself wil motiveer om Bybelstudie te doen, onthou waarom die Bybel belangrik is. As jy onthou wat se waarde dit in jou lewe het, sal dit jou help om tyd opsy te sit om dit gereeld te lees en te studeer.

WENK 2: VERANDER JOU PERSPEKTIEF.

Baie mense lees of studeer die Bybel omdat hulle dink hulle ‘moet’. Hulle doen dit nie omdat hulle regtig wil nie, maar omdat hulle dink God gaan hulle straf as hulle dit nié doen nie.

Maar ons lees en studeer nie die Bybel omdat ons God probeer paai of beïndruk nie. Ons kry nie ‘ekstra punte’ wanneer ons met die Woord besig is nie.

Om tyd saam met God in Sy Woord te spandeer is ‘n voorreg en ‘n vreugde. God wil hê dat ons Hom intiem ken. En wanneer ons die Bybel lees of studeer, is dit ‘n geleentheid om Hom beter te leer ken.

Moet dus nie jou Bybel lees of Bybelstudie doen omdat jy dink jy ‘moet’ nie. Vra die Here om jou perspektief te verander. Vra Hom om jou ‘n honger te gee na Sy Woord.

As jy honger na Sy Woord, sal jy die lees en studeer omdat jy wil, nie omdat jy dink jy ‘moet’ nie.

WENK 3: WERK MET ‘N PLAN.

Dalk is jou antwoord op my vraag hierbo dat jy nie weet waar jy moet begin nie. Gelukkig is daar sommer ‘n baie maklike oplossing vir hierdie probleem.

Daar is baie Bybelleesplanne en Bybelstudie-planne op die Internet beskikbaar. Op Bybel En Gebed is daar ‘n paar wat jy HIER kan aflaai.

Só ‘n plan gaan jou help om elke dag presies te weet waar jy moet lees.

Of kry vir jou ‘n Bybelstudie-boek en werk daardeur. Die Gelykenisse Van Jesus Bybelstudie is ideaal daarvoor. Dit gaan jou meer leer oor die gelykenisse wat Jesus vertel het. En die stappe wat jy volg, gaan jou leer hoe jy vorentoe self Bybelstudie kan doen.

WENK 4: DOEN DIT IN ‘N GROEP.

‘n Goeie manier om jou te motiveer om Bybelstudie te doen, is om dit saam met iemand anders te doen.

Is daar ‘n Bybelstudie-groep by jou kerk? Val dan by hulle in en doen saam met hulle Bybelstudie.

Of vra jou beste vriend of vriendin om dit saam met jou te doen.

As julle nie elke week fisies saam kan wees om die Bybel te studeer nie, doen daardie week s’n op jou eie. Dan kan julle agterna per foon, e-pos of Whatsapp gesels oor wat julle geleer het.

WENK 5: MAAK GEBRUIK VAN TEGNOLOGIE.

Daar is allerhande hulpmiddele wat ‘n mens kan gebruik wanneer jy Bybelstudie doen. Dink aan dinge soos konkordansies, ‘n Bybelwoordeboek, kommentare, ensovoorts.

Hierdie hulpmiddele sal help om jou te motiveer vir Bybelstudie omdat dit jou studietyd interessant maak en jou help om dinge te ontdek wat jy dalk andersins sou mis.

Jy kan al die dinge wat ek hierbo genoem het, self aankoop om te gebruik. Maar jy kan hulle ook met die druk van ‘n knoppie op die internet kry.

Meeste van die hulpmiddele is in Engels, maar as dit jou nie pla nie, kan jy HIER en HIER gaan rondsnuffel.

WENK 6: GEE JOUSELF GENADE.

Dit maak nie saak hoe goed ‘n mens beplan nie, dit gaan gebeur dat iets voorval en jy nie by jou Bybelstudie uitkom nie. Of jy gaan besig wees daarmee, en dan gebeur daar iets wat veroorsaak dat jy heeltemal fokus verloor en nie verder kan aangaan nie.

As dít gebeur, wees genadig teenoor jouself. Moenie skuldig voel daaroor nie. Probeer net weer die volgende dag of volgende week. Onthou, God ken jou hart en Hy weet dat jy graag tyd in die Bybel wou spandeer, maar dat dit nie moontlik was nie.

NOG HULP MET BYBELSTUDIE.

Ek hoop dat hierdie ses wenke jou gaan help wanneer jy jouself volgende keer moet motiveer om Bybelstudie te doen of jou Bybel te lees.

As jy nog hulp nodig het, loer dan ‘n bietjie na hierdie artikels:

‘N MAKLIKE MANIER OM TYD IN DIE BYBEL TE SPANDEER

6 MANIERE OM MEER TYD IN DIE BYBEL TE SPANDEER

STILTETYD-IDEES VIR BESIGE MENSE

DOEN SELF BYBELSTUDIE – 7 MAKLIKE STAPPE

Deel hierdie blad

2 comments

  1. Dankie ek waardeur alles met my hele hart was dit nie die motiveer en aansporing bybel en gebed weet ek nou gaan ek geestelik groei

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *