
As jy ‘n agtergrond-studie oor ‘n boek van die Bybel wil doen, is daar sekere inligting wat jy nodig het. Dit sluit dinge in soos die geografie van die land, die geskiedenis, die kultuur, ensovoorts. Hoewel dié dinge belangrik is, is daar ook ander dinge wat jy oor ‘n boek moet weet, om jou te help om dit te verstaan. In hierdie artikel gaan ons kyk na van hierdie dinge wat jy oor 1 en 2 Kronieke moet weet.
1 EN 2 KRONIEKE.
Die Ou Testament is oorspronklik in Hebreeus geskryf en later in Grieks vertaal.
In die Hebreeuse Bybel is Kronieke net een boek. Dit staan by die Geskrifte, volg net na Esra en Nehemia en is die laaste boek van die Hebreeuse Bybel.
Toe die Ou Testament in Grieks vertaal is, is die boek in twee verdeel, naamlik 1 en 2 Kronieke.
1 en 2 Kronieke vorm saam een verhaal. As jy reeds 1 en 2 Samuel en 1 en 2 Konings gelees het, sal jy sien dat 1 en 2 Kronieke baie dieselfde geskiedenis dek as hierdie boeke. Maar die skrywer bekyk die geskiedenis vanuit ‘n heel ander hoek. Hy sien dit vanuit ‘n priesterlike hoek en laat die klem val op die tempel en die godsdienstige hervormings in Juda.
DIE NAAM VAN DIE BOEKE.
In Hebreeus staan Kronieke bekend as Dibre Hajjamim, wat’ die dinge wat toe gebeur het’ beteken.
Die naam in Grieks is Paraleipomenon en beteken ‘dit wat uitgelaat is’.
WIE HET 1 EN 2 KRONIEKE GESKRYF?
Vir ‘n lang tyd het Bybelskoliere aangeneem dat Esra die skrywer van 1 en 2 Kronieke was. Maar dit het naderhand duidelik geword dat wie ookal die boeke geskryf het, eers later daaraan gewerk het.
Daar kan dus nie met sekerheid gesê word wie die boeke geskryf het nie.
Daar bestaan wel ‘n teorie dat dieselfde persoon of persone wat 1 en 2 Kronieke geskryf het, ook vir Esra en Nehemia geskryf het.
DOEL VAN DIE BOEKE.
Die tabernakel en die tempel was die middelpunt van Israel se identiteit as ‘n volk. En die tempel is dan ook die belangrikste saak in 1 en 2 Kronieke.
Die skrywer vertel van Saul, Dawid en Salomo, maar hy vertel net dié gedeeltes van hulle verhale wat verband hou met die tempel.
Dan fokus hy ook op ander konings, soos Asa, Josafat en Josia, wat die tempel versorg het en die tempeldiens bevorder het.
Na die tempel vernietig en later weer herbou is, skryf die skrywer hierdie boeke om die mense te herinner waar die tempel vandaan kom. Hy herinner hulle aan hoe belangrik die tempel vir hulle geloof is. Verder herinner hy hulle ook aan die roeping wat God vir hulle het en aan Sy getrouheid teenoor hulle.
HOOFTREKKE VAN 1 EN 2 KRONIEKE.
Soos ek reeds gesê het, vorm 1 en 2 Kronieke een verhaal.
1 Kronieke begin met ‘n lang lys name. Die skrywer gaan haal Israel se geskiedenis by Adam en kom dan langs die lyn van die stamme van Israel af. Hy vorder tot by die Israeliete, wat uit ballingskap teruggekeer het en op daardie stadium in Jerusalem is.
Volgende gaan die skrywer terug na die geskiedenis van Saul, voor hy aanbeweeg na Dawid, wat alles reggekry het sodat Salomo, sy seun, die tempel kon bou.
In 2 Kronieke lees ons dat Salomo die tempel bou en dit inwy. Dan vertel die skrywer die geskiedenis van die konings van Juda. Daar was goeie konings, maar ook ‘n paar wat nie sulke goeies was nie. En daarom loop dinge al hoe meer skeef.
Die skrywer eindig die geskiedenis met Juda wat in ballingskap weggevoer word. En die laaste wat ons lees, is die opdrag van Kores, dat hulle na die beloofde land kan teruggaan. Hierdie woorde van die Persiese koning begin dan die boek Esra.
BELANGRIKE KARAKTERS IN DIE BOEKE.
Daar is sommer heelwat karakters in 1 en 2 Kronieke wat as belangrik beskou kan word, maar ek wil stilstaan by twee konings.
Die eerste koning is Hiskia. Hy het met die hulp van die priesters en Leviete weer die tempel aan die gang gekry. Hy het ook die volk oorgehaal om elke dag daar vir God offers te bring.
Die ander koning is Josia. Die skrywer van Kronieke gee inligting oor sy werk by die tempel, wat nie op ander plekke in die Bybel staan nie. Josia laat die tempel opknap en, toe die priester Gilkija die wetboek van Moses in die tempel kry, laat hy die werk by die tempel volgens die aanwysings daarin organiseer.
BELANGRIKE SAKE IN 1 EN 2 KRONIEKE.
- Soos ek reeds gesê het, vertel die skrywer van Kronieke dieselfde geskiedenis as wat ons in 1 en 2 Samuel en in 1 en 2 Konings lees. Hy gebruik die sienings van priesters en gedagtes wat in Deuteronomium staan en vertel die geskiedenis op ‘n unieke manier. Die idee is dat almal wat die verhaal hoor, waardering moet kry vir die tempel en graag daar vir God wil kom aanbid.
- Die eerste tempel, wat Salomo gebou het, is vernietig omdat die konings van Juda nie die godsdiens in Israel in stand gehou het nie. Nou word die tweede tempel gebou en dit word presies bedryf volgens die voorskrifte van Moses, Dawid en Salomo.
- God se wet en die reëls vir tempeldiens moet getrou gevolg word. Alles moet ordelik wees. En die voorskrifte wat in Moses, Dawid en Salomo se tyd geskryf is, moet nagevolg word.
- By die tempel sit niemand ledig rond nie. Daar is iets vir elkeen om te doen. Die Leviete het byvoorbeeld reeds in Dawid en Salomo se tyd belangrike werk gekry om in die tempel te doen. Die verskillende tempelwerkers en die volk kom by die tempel bymekaar om God te loof en prys.
SLEUTELVERSE IN 1 EN 2 KRONIEKE.
In 1 Kronieke kry ons die sleutelverse in hoofstuk 17. In verse 11-14 staan: “Wanneer jou tyd aangebreek het om na jou voorvaders te gaan, sal Ek jou nakomeling ná jou, een van jou eie seuns, na vore laat tree, en Ek sal sy koningskap vestig. Hy is die een wat vir My ‘n huis sal bou, en Ek sal sy troon vir altyd laat vasstaan. Ek sal vir hom ‘n vader wees, en hy sal vir My ‘n seun wees. My troue liefde sal Ek nie aan hom onttrek soos wat Ek dit aan jou voorganger onttrek het nie. Ek sal hom vir altyd in my huis en koninkryk aanstel, en sy troon sal altyd bestendig wees.”
Die sleutelvers in 2 Kronieke staan in hoofstuk 15. In vers 2 staan: “…en hy het uitgegaan na Asa toe en vir hom gesê: ‘Luister na my, Asa en die hele Juda en Benjamin! Die Here is met julle wanneer julle met Hom is. As julle Hom soek, sal Hy Hom deur julle laat vind, maar as julle Hom verlaat, sal Hy julle verlaat.'”
Leer meer oor die gelykenisse wat Jesus vertel het deur die Gelykenisse Van Jesus Bybelstudie te gebruik. Die stappe wat jy in die studie volg, gaan jou ook leer hoe om self Bybelstudie te doen.

JESUS IN 1 EN 2 KRONIEKE.
God het Dawid belowe: “Ek sal hom vir altyd in my huis en koninkryk aanstel, en sy troon sal altyd bestendig wees” (1 Kronieke 17:14). Hierdie belofte is ‘n heenwysing na Jesus, wat vir altyd op die troon sal sit.
Dan is Dawid en Salomo beide tipes van Jesus. (‘n Tipe is ‘n Ou Testamentiese figuur wie se persoon of werk ‘n skadubeeld van Christus se persoon of werk vertoon.)
Salomo se wysheid is ‘n heenwysing na Jesus, wat vir ons die wysheid geword het, wat van God kom (1 Korinthiërs 1:30).
Dan lees ons ook in die Nuwe Testament, in Johannes 2:19, dat Jesus Sy Liggaam vergelyk met die tempel. Daar staan: “Jesus het hulle geantwoord: ‘Breek hierdie tempel af, en binne drie dae sal Ek dit opbou.'”
NET VIR INTERESSANTHEID.
- God het aanhoudend boodskappers gestuur om vir die volk te sê hulle moet na Hom luister. Hulle waarsku die volk om nie van Hom te vergeet nie en nie sy diens by die tempel af te skeep nie. Hulle roep die mense op om vir die Here te lewe. Hierdie oproep bly vandag nog staan.
- Die gedagte dat ‘n mens saai wat jy maai loop deur die geskiedenis. Ons sien keer op keer dat die koning en die volk slegte dinge doen. Dan kom dit later op hulle eie koppe neer. Onthou, ‘n mens kry terug wat jy aan ander gedoen het!
1 EN 2 KRONIEKE IN ONS LEWENS.
Daar is ‘n paar dinge wat ons uit 1 en 2 Kronieke leer, wat ons in ons lewens kan toepas.
- Ons moet altyd onthou dat God die belangrikste in ons lewens moet wees. Ons moenie toelaat dat iets die aandag van Hom aftrek en veroorsaak dat ons op onbelangrike dinge fokus nie.
- Dis baie belangrik om saam met ander gelowiges bymekaar te kom om die Here te aanbid. Ons moet ons dienste inrig volgens die voorskrifte in God se Woord. Daar moet orde wees. Elkeen teenwoordig moet ook weet wat van hom of haar verwag word.
- Uit Salomo se gebed, by die wyding van die tempel, leer ons dat ons God al die eer moet gee. Ons moet Hom vertrou met ons lewens en altyd onthou om vir Hom dankie te sê vir wie Hy is en vir wat Hy vir ons doen.
VORIGE ARTIKELS.
Ons het reeds in vorige artikels oor boeke soos Genesis, Eksodus, Deuteronomium, 1 en 2 Konings, ensovoorts gesels.
As jy van hierdie artikels gemis het, kan jy dit HIER lees.
