‘N MAKLIKE MANIER OM TYD IN DIE BYBEL TE SPANDEER

Maklike manier om tyd in die bybel te spandeer

Ek het verlede week met jou gesels oor die nuwe lewe wat ek en jy het omdat ons glo in Jesus Christus.

Ons het ook gesels oor al die ander nuwe dinge, soos ‘n nuwe Vader en ‘n nuwe familie, ‘n nuwe manier van dink, praat en doen.

Al hierdie dinge, en nog meer, is nou ons s’n as deel van ons nuwe lewe in Christus.

Maar, daar is ‘n vangplek.

Soveel mense loop rond met hierdie nuwe lewe, maar hulle leef dit nie regtig nie.

Hoekom?

Want hulle weet nie wat hierdie nuwe lewe alles behels nie.

HANDLEIDING VIR DIE NUWE LEWE.

As jy ‘n nuwe selfoon koop, kry jy ‘n handleiding (manual) daarmee saam.

Hierdie handleiding is veronderstel om jou te help om jou nuwe foon te verstaan.

Jy kan kies om die handleiding te ignoreer, en op jou eie probeer uitvind hoe die foon nou eintlik werk, of jy kan die handleiding byderhand hou, en, as jy iets nie verstaan nie, die inligting in die handleiding soek.

God het ook vir ons ‘n handleiding gegee vir hierdie nuwe lewe wat ons nou het.

Sonder die handleiding sal dit maar moeilik gaan om op ons eie te probeer uitvind wat nou alles ons s’n is, en hoe ons veronderstel is om te leef as nuwe mense.

Jy kan seker raai dat God se Woord die handleiding is wat ons leer oor hierdie nuwe lewe.

Waarom is daar dan, as God vir ons ‘n handleiding gee, steeds mense wat nie weet wat hierdie nuwe lewe wat hulle het, behels nie?

Daar is verskeie redes daarvoor, maar ons gaan vandag oor net een gesels.

Hoewel mense weet dat God vir hulle ‘n handleiding gegee het, en dat hulle dit moet lees en bestudeer, weet almal nie altyd hoe om dit te doen nie.

Vandag wil ek vir jou drie maklike stappe gee wat jy kan volg om elke dag tyd in die Woord deur te bring, sodat die Here jou kan help om te verstaan waaroor hierdie nuwe lewe nou eintlik gaan.

‘N LEESPLAN VIR ELKE MAAND.

Daar is min dinge wat so frustrerend is as om ‘n projek aan te pak en nie lekker te weet waar jy moet vat en waar jy moet los nie.

As jy egter ‘n plan het waarvolgens jy kan werk, raak dinge sommer baie makliker.

Dieselfde is waar as dit by die Bybel kom.

Dit kan nogal ‘n probleem wees as jy met die Bybel in jou hande sit, maar jy weet nie regtig waar jy moet lees nie. Dan is dit maklik om sommer op te gee, en dit maar liewer te los vir later.

‘n Goeie oplossing vir hierdie probleem is om ‘n eenvoudige leesplan te kry.

Leesplanne is oral op die Internet beskikbaar.

Sou jy graag die Bybel wil deurlees, is daar planne beskikbaar wat jou lei om die Bybel in ‘n jaar se tyd deur te lees. As jy voel dat jy meer tyd nodig het, gebruik ‘n leesplan wat vir drie of vyf jaar bedoel is.

Jy kan ook leesplanne aflaai wat oor ‘n spesifieke onderwerp gaan. Hierdie planne is ‘n goeie idee as jy met een of ander probleem sukkel, en jy wil weet wat God in Sy Woord oor daardie onderwerp sê.

Wat jy ookal kies om te gebruik, kies een wat vir jou gaan werk.

As jy een kies, en na ‘n tyd sien dat dit nie heeltemal is wat jy in gedagte gehad het nie, moenie sleg voel om dit eenkant te sit, en ‘n ander leesplan te kies nie.

.

MOENIE JAAG NIE.

‘n Projek wat stadig en met presisie gedoen word, is ‘n projek wat goed vorder en op die ou end reg uitkom.

Onthou die ou gesegde – Rome is nie in ‘n dag gebou nie!

Net so gaan jy nie alles omtrent die nuwe lewe in een dag se tyd leer nie. Om die waarheid te sê, daar is só baie wat ons daaroor moet leer, dat ons dit nie eens in ‘n jaar of selfs vyf jaar se tyd gaan leer nie.

Daarom is dit belangrik dat jy nie jaag nie.

Neem jou tyd wanneer jy met die Bybel besig is.

As iets vir jou uitstaan, moenie verder lees nie.

Laat die Here toe om met jou deur daardie gedeelte te praat.

HOU DIT EENVOUDIG.

Jy het nou jou leesplan, maar wat nou?

Hou dinge eenvoudig.

Lees die voorgestelde gedeelte vir die dag ‘n paar keer deur. Doen dit hardop, as jy kan.

Merk frases, woorde, of verse wat vir jou uitstaan en skryf dit in jou notaboek neer.

Skryf enige gedagtes wat in jou kop kom oor die gedeelte, ook in jou notaboek neer.

‘n Eenvoudige manier om bietjie dieper in die gedeelte in te gaan, is om vrae te vra. Vrae soos:

Wat leer dit my oor God?
Wat leer dit my oor myself?
Sien ek iets van die nuwe lewe hierin raak?
Hoe moet ek my sienswyse oor die lewe verander, sodat ek dinge sien soos God dit sien?
Hoe moet ek my gedrag of my woorde verander, sodat ek soos God optree en praat?

Jy sal dalk met ‘n ander stel vrae vorendag kom, want ons is almal uniek, en jou kop werk anders as myne.

Maar ongeag wat se vrae jy oor die teks vra, maak seker dat jy die Here vra om jou te help om die antwoord op hierdie vrae raak te sien.

En onthou om alles neer te skryf. ‘n Mens onthou nie alles sommer net so nie, en oor ‘n dag of drie onthou jy dalk nie meer wat jy vandag geleer het nie. Dan kan jy jou notaboek neem, en dit weer deurgaan.

GEBRUIK JOU HANDLEIDING.

Jesus het gesterf sodat ons ‘n nuwe lewe saam met God kan leef.

Kan jy dink hoe hartseer dit is as jy hierdie nuwe lewe het, maar jy leef dit nie, want jy weet nog nie so mooi waaroor dit gaan nie, maar jy lees ook nie die handleiding sodat jy kan uitvind nie?

Maak vandag die keuse om elke dag tyd in die handleiding wat God gegee het, te spandeer, en meer te leer oor wie God is, oor wie jy is as een van Sy kinders, en oor die nuwe lewe wat jy in Hom het.

Hou dit eenvoudig en skryf alles wat jy leer iewers neer, sodat jy dit oor en oor kan deurgaan.

God wil jou graag meer leer, maar jy moet tyd opsy sit om met Hom in Sy Woord te verkeer.

Die nuwe lewe is joune. Gaan leer nou wat dit alles behels en hoe jy dit moet leef!

Deel hierdie blad

3 comments

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *