
Daar is ‘n Engelse spreekwoord wat lui: “Sticks and stones may break my bones, but words will never hurt me.” Dit klink na ‘n oulike ding om te sê, veral as jy dit vir iemand sê wat nou net iets vir jou gesê het waarvan jy nie hou nie.
Maar hierdie sêding is eintlik glad nie die waarheid nie.
Woorde het baie krag. Dit kan mense opbou of hulle afbreek. Dit kan lewens in die regte of in die verkeerde rigting stuur.
Die woorde wat van jou tong af rol kan die waarheid wees, maar dit kan ook ‘n leuen wees.
Dis omdat woorde krag het, dat die Bybel op meer as een plek leer dat ‘n mens moet oplet na hoe jy jou tong gebruik.
Die bekendste verse daaroor kry ons in Jakobus 3:1-12. Kom ons kyk wat ons daaruit kan leer.
WERK EERS AAN JOUSELF.
Jakobus 3:1: “Moenie almal leermeesters wil wees nie, my broers, omdat julle weet dat ons strenger geoordeel sal word.”
Die mens kommunikeer op verskillende maniere. ‘n Mens kan praat of jy kan skryf. Jy kan selfs met jou lyftaal kommunikeer.
Jakobus verstaan dat ‘n mens eers aan jou eie kommunikasievermoë moet werk voordat jy ander kan leer. Daarom skryf hy dat nie almal leermeesters moet wil wees nie.
Hoekom nie?
Want as jy nog nie jou eie tong onder beheer het nie, kan jy nie ander mense se lewens met jou tong wil stuur nie.
DIE VOLMAAKTE MENS.
Jakobus 3:2: “Almal van ons struikel tog dikwels. As iemand nie met woorde struikel nie, is hy ‘n volmaakte man, en ook daartoe in staat om sy hele liggaam in toom te hou.”
Jakobus draai nie doekies om wanneer hy skryf dat almal van ons steeds struikel nie.
Niemand van ons is in staat daartoe om nooit iets wat verkeerd is, aan ander te kommunikeer nie.
Wanneer Jakobus skryf dat iemand wat dit wél kan regkry, ‘n volmaakte mens is, is sy punt dat dit onmoontlik is om dit in eie krag te doen.
DIE STANG EN DIE ROER.
Jakobus 3:3-4: “Ons sit stange in perde se bekke, sodat hulle ons gehoorsaam, en daarmee stuur ons hulle hele liggaam. Kyk, selfs skepe, hoewel hulle so groot is en deur hewige winde aangedryf word, word met ‘n baie klein roer gestuur na waar die stuurman wil.”
In hierdie verse gebruik Jakobus die beeld van ‘n stang en ‘n roer.
‘n Stang word in ‘n perd se bek gesit om sy liggaam te beheer. Net so word ‘n roer gebruik om ‘n skip te stuur.
Met hierdie twee beelde wys Jakobus ons dat die tong mag het om ‘n mens se hele liggaam te beheer.
DIE MAG VAN DIE TONG.
Jakobus 3:5: “So is die tong ook ‘n klein ledemaat wat op groot dinge roem. Kyk watter klein vuurtjie steek ‘n groot hoop hout aan die brand!”
Hier wys Jakobus ons weer daarop dat woorde, of dan die tong, baie mag het.
‘n Mens kan jouself met woorde motiveer. Maar ‘n mens kan jouself ook met woorde negatief maak.
Woorde kan vrede en versoening bring, maar dit kan ook rusie en haat veroorsaak.
Jou woorde kan die kollig op die mooi dinge van die lewe laat val. Maar dit kan ook die kollig plaas op alles wat lelik en negatief is.
Woorde kan hoop bring, maar dit kan mense ook moedeloos maak en hoop laat verloor.
Sien jy wat se mag jou tong en dit wat jy kommunikeer het?
JOU WOORDE SKEP ‘N WêRELD.
Jakobus 3:6: “Die tong is ook ‘n vuur, ‘n wêreld van ongeregtigheid. Die tong is deel van ons ledemate, maar besoedel die hele liggaam. Dit steek die hele lewensloop aan die brand, en word uit Gehenna aangesteek.”
In vers 6 fokus Jakobus ‘n bietjie meer op die negatiewe sy van die mag van die tong.
Hy herinner ons daaraan dat ‘n mens met jou tong ‘n wêreld skep.
As jy die tong se mag reg gebruik, skep jy ‘n goeie wêreld. Maar as jy dit verkeerd gebruik, skep jy ‘n slegte wêreld.
NIE IN EIE KRAG.
Jakobus 3:7-8: “Want elke soort wilde dier en voël, en kruipende dier en seedier, word en is getem deur die mensdom. Maar geen mens kan die tong tem nie; dit is ‘n onbestendige kwaad, vol dodelike gif.”
In vers 2 het Jakobus ons daarop gewys dat ‘n mens nie in eie krag jou tong in toom kan hou nie. Hier herhaal hy die idee.
Jy sien, ons word elke dag gekonfronteer met die waarheid dat ons gereeld struikel in ons kommunikasie met onsself en ook met ander.
‘n Mens gebruik jou tong om ander te komplimenteer en goed van hulle te praat. En jy gebruik daardie selfde tong om hulle sleg te sê en van hulle te skinder.
Jy gebruik jou tong om vrede te maak. Maar jy gebruik dit ook om rusie te maak.
‘n Mens het dus ‘n dubbelslagtige of gesplete tong wat jy nie self kan beheer nie.
DIE DUBBELE ROL WAT DIE TONG SPEEL.
Jakobus 3:9-12: “Daarmee loof ons die Here en Vader, en daarmee vervloek ons mense wat na die beeld van God geskep is. Uit dieselfde mond kom seën en vervloeking. Dit, my broers, behoort nie so te wees nie. ‘n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars én bitter water uitborrel nie? ‘n Vyeboom, my broers, kan tog nie olywe dra, of ‘n druiwestok vye nie? ‘n Brak fontein kan ook nie soet water gee nie.”
Hier gebruik Jakobus weer ‘n paar beelde om vir ons te illustreer hoe dubbelslagtig die tong kan wees. Maar dan skryf hy ook dat ons, as gelowiges, dit nie moet toelaat nie.
‘n Fontein kan nie gelyktydig vars en bitter water laat uitborrel nie. En ‘n brak fontein gee ook nie soet water nie.
‘n Vyeboom dra vye en ‘n druiwestok druiwe. Die een kan nie ‘n ander se vrugte dra nie.
Die implikasie is dat ons nie maar net moet aanvaar wat by ons monde uitkom nie.
As ons in ‘n verhouding met God is, dan moet daar ‘n verandering wees in hoe ons ons tonge gebruik.
DIE HULP VAN DIE HEILIGE GEES.
Hoewel Jakobus dit nie pertinent hier sê nie, weet ons uit ander dele van die Bybel dat God ons Sy Gees gegee het om ons met ons Christelike lewe te help.
Hy is dan ook daar om ons te help om ons tonge in toom te hou.
Onthou jy ons het netnou daaroor gesels dat die tong die mag het om ons hele liggaam te beheer?
Dis die Heilige Gees wat ons tonge in staat stel om daardie beheerwerk te doen.
Hy maak dat die tong van die gelowige nie meer ‘n slaaf van die vlees is nie, maar onder Sy beheer staan.
WIE BEHEER JOU TONG?
Luister vandag so ‘n bietjie na jouself. Hoe gebruik jy jou tong?
As jy dink dat jou tong nog nie onder die beheer van die Gees is nie, word dan stil by God en praat met Hom daaroor.
Vra Hom om deur Sy Gees beheer oor jou tong te neem en jou te help om net woorde te sê wat opbouend is en wat goed is vir ander om te hoor.
Onthou, jy gaan nie in eie krag jou tong kan beheer nie, maar jy het die Gees van God binne jou om jou daarmee te help!

x wil uk deel wees vn dii bybel groep
Goeie naand Ek Wil ook graag deel wees van die bybel studies.
Cliresa, jy is welkom om in te teken vir ons nuusbriewe. Dit is waar ons meeste van die tyd saam Bybelstudie doen.
Goeie naand ek wil ook graag deel wees vd bybel group asb
Ek wil ook graag deel wees en meer leer oor God se woord
Die Woord word so mo verduidelik. ek sal graag deel wil wees van die bybelstudie groep
Ek wil graag deel wees van hierdie Bybelstudie groep, wil so graag meer leer van DIE WOORD om alles beter te verstaan en ook ander te kan help om nader aan ons HEMELSE VADER, KONING HERE JESUS CHRISTUS TE LEEF, GEVUL WEES MET DIE HEILIGE GEES. Dankie, ek sal dit opreg waardeer. Liefde Petro.
Wil graag deel wees van hierdie bybelstudie groep.
Welkom by ons, Martie! Onthou om jou inligting in enige van die vorms op die webblad in te vul, sodat jy ons weeklikse nuusbrief kan kry.