HOE OM MET BYBELSTUDIE TE BEGIN: 10 WENKE

Hoe om met Bybelstudie te begin

Wil jy graag Bybelstudie doen, maar weet nie waar en hoe om te begin nie? Hier is 10 eenvoudige wenke om jou te help om met Bybelstudie te begin en die Woord van God beter te verstaan.

As jy nog nooit voorheen Bybelstudie gedoen het nie, kan net die gedagte aan Bybelstudie jou nogal oorweldig laat voel. Jy het dalk vrae soos: Waar begin ‘n mens? Hoe weet jy wat om te studeer? Wat as jy iets nie verstaan nie?

Gelukkig het al hierdie vrae eenvoudige oplossings. Onthou, die Bybel is God se Woord wat Hy vir ons gegee het. Hy wil hê dat ons dit verstaan en ook dat ons dit toepas in ons lewens. Die sleutel is om met ‘n klein bietjie op ‘n slag en met ‘n eenvoudige manier te begin.

Vandag wil ek 10 wenke met jou deel, wat jy kan gebruik as jy nog nooit voorheen Bybelstudie gedoen het nie, en graag daarmee wil begin.

BEGIN MET GEBED.

Dit maak nie saak of jy gaan Bybelstudie doen of net jou Bybel gaan lees nie, begin altyd met gebed.

Vra die Heilige Gees om jou hart en verstand oop te maak vir wat God vir jou wil wys.

Bid ook vir wysheid, insig en vir ‘n hart wat gewillig is om gehoorsaam te wees aan dit wat Hy vir jou sê.

KIES ‘N VERSTAANBARE VERTALING.

Ons het nie so baie Bybelvertalings in Afrikaans soos wat daar in Engels is nie, maar sommige van die Afrikaanse vertalings is steeds moeiliker om te verstaan as ander.

As jy byvoorbeeld sukkel met die taalgebruik in die 1953-vertaling, probeer die 1983- of die 2020-vertaling. Dit sal jou help om die teks makliker te verstaan sonder om die betekenis daarvan, prys te gee.

BEGIN MET ‘N KORT BOEK.

As jy nog nie voorheen Bybelstudie gedoen het nie, moenie met ‘n boek soos Genesis begin nie. Kies iets wat korter en meer verstaanbaar is.

Markus, Fillippense of Jakobus is goeie idees. Hierdie boeke is vol praktiese lesse en wysheid wat jy dadelik in jou lewe kan begin toepas.

LEES STADIG EN MET AANDAG.

Moenie probeer om so vinnig as moontlik deur die gedeelte wat jy wil studeer, te gaan nie. As jy te vinnig gaan, kan jy van die dinge wat God jou wil wys, mis.

Neem jou tyd en dink na oor elke vers wat jy lees. Vra jouself vrae soos: “Wat sê dit vir my? Hoe pas dit by die res van die Bybel?”

MAAK AANTEKENINGE.

Iemand het op ‘n keer gesê dit wat die Here vir ons sê moet vir ons so belangrik wees, dat ons dit altyd neerskryf. Dieselfde kan gesê word van wat die Here jou in jou Bybelstudie-tyd wys.

Skryf dus alles wat jy leer, neer. Skryf ook enige vrae wat jy oor die teks het, neer. Jy kan dan later na antwoorde op hierdie vrae soek.

VRA VRAE OOR DIE TEKS.

Die maklikste manier om Bybelstudie te doen, is om vrae oor die teks te vra. Jy kan byvoorbeeld vra:

  • Wie het dit geskryf?
  • Vir wie is dit geskryf?
  • Wat het die skrywer vir die oorspronklike lesers probeer sê?
  • Hoe pas dit wat ek nou gelees het, in by die res van die Bybel?
  • Wat beteken dit vir my lewe?

PAS TOE WAT JY LEER.

‘n Mens doen nie Bybelstudie net om meer kennis oor die Bybel te kry nie, maar sodat dit wat jy leer, jou lewe kan verander.

Onthou dus altyd om te kyk hoe jy die beginsels of waarhede wat jy geleer het, in jou daaglikse lewe kan toepas.

Vra die Heilige Gees om jou te help om die toepassing raak te sien en ook om jou te help om gehoorsaam te wees daaraan.

GEBRUIK ‘N EENVOUDIGE BYBELSTUDIE-METODE.

As jy nie weet hoe om die Bybel te bestudeer nie, probeer dan een van die eenvoudige Bybelstudie-metodes wat in ons Bybelstudie-Metodes E-boekie beskikbaar is.

Jy kry dié boekie gratis wanneer jy inteken vir ons weeklikse nuusbrief, so vul net jou besonderhede hieronder in en hou dan jou e-posbus dop vir ‘n e-pos met die skakel waar jy die boekie kan aflaai.

DOEN DIT GEREELD.

Dit is beter om gereeld vir ‘n rukkie Bybelstudie te doen as om dit net elke nou en dan te doen. Hoe meer gereeld, hoe meer gaan jy leer.

Begin met net 10 tot 15 minute ‘n dag. Jy kan met verloop van tyd elke keer ‘n paar minute byvoeg totdat jy tevrede is met die hoeveelheid tyd wat jy in ‘n week aan Bybelstudie spandeer.

MOENIE MOEDELOOS RAAK NIE.

Dit is nou maar eenmaal so dat daar party gedeeltes in die Bybel is, wat ‘n mens nie maklik verstaan nie. Maar moenie moed opgee nie. Hou aan om te leer.

Vra die Here om jou te help verstaan. Vra ook vir ander mense, wat die Bybel beter ken as jy, om jou te help verstaan.

Bybelstudie is ‘n lewenslange reis, en hoe meer jy lees, hoe meer gaan jy verstaan.

SLOTGEDAGTES.

Onthou, Bybelstudie is ‘n manier om nader aan God te groei en Sy wil vir jou lewe te ontdek.

Moenie moed verloor as jy nie alles dadelik verstaan nie. Hou maar net aan om gereeld Bybelstudie te doen en vra die Here se leiding en wysheid.

Hoe meer jy die Woord bestudeer, hoe meer sal dit jou lewe verander en jou verhouding met God verdiep.

So, gebruik hierdie wenke om jou te help om met Bybelstudie te begin, vat dit een dag op ‘n slag en geniet die reis!

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *