EFFEKTIEWE GEBED: VIER SLEUTELS

Sleutels tot effetiewe gebed

In Mattheus 6:5-15 gee Jesus ons vier sleutels tot effektiewe gebed.

Twee mans was in ‘n kroeg aan die kuier. Soos dit maar gaan het hulle oor verskillende dinge gepraat. Op ‘n stadium het die onderwerp van godsdiens dan ook onder bepreking gekom.

Die een sê toe vir die ander een: “Ek wed jou jy ken nie die Onse Vader-gebed nie!”

“Natuurlik ken ek dit!” antwoord die ander een.

Die eerste man haal ‘n R100-noot uit sy sak en sê, “Wel, dan wed ek jou jy kan dit nie opsê nie!”

“Natuurlik kan ek!” antwoord sy maat en begin ook sommer bid, “Ek is ‘n kindjie klein, maak my hartjie rein. Amen.”

“Hier’s jou geld,” sê man een met ‘n suur gesig. “Ek het nie gedink jy ken dit nie!”

(Ek hoop hierdie storietjie het jou ook laat glimlag!)

VIER SLEUTELS TOT GEBED.

Die Onse Vader-gebed is opgeteken in Mattheus 6:5-15 en is deel van die Bergrede. Dis ‘n preek van Jesus wat Hy langs die See van Galilea gelewer het.

Daar is sommer baie wat ons uit die Bergrede kan leer, want Jesus praat oor verskillende onderwerpe.

Een daarvan is dan ook gebed en die vier sleutels wat ons moet gebruik sodat ons effektief kan bid.

LEES OOK: MATTHEUS 6 – GEDAGTES OOR GEBED

SLEUTEL 1. EERS IN DIE BINNEKAMER, DAN IN DIE PUBLIEK.

Mattheus 6:6: “Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.”

Onthou jy nog die tyd toe daar op weeksaande bidure gehou is? In die gemeente waarvan ek deel was, het die gemeentelede tydens sulke bidure geleentheid gekry om hardop te bid. As jy tydens so ‘n biduur gebid het, het jy dus in die publiek gebid.

Ons bid ook in die publiek wanneer ons by ‘n restaurant eet en voor ete vir God dankie sê vir die kos. So, dis nie verkeerd om in die publiek, waar ander jou sien en selfs hoor, te bid nie.

Maar dis belangrik om seker te maak ons het die gewoonte om gereeld te bid wanneer niemand ons kan sien nie. As ons net bid wanneer ander ons kan sien of hoor, kan hulle die idee kry dat ons ‘bidders’ is. Hulle kan dink dat gebed een van die geestelike dissiplines is wat ons gereeld beoefen. En as dit nié so is nie, dan is ons besig om ons voor te doen as iets wat ons nie is nie. En dis skynheiligheid.

Die woord wat vertaal is met ‘binnekamer’, ‘kamer’, of ‘binneste kamer’ – afhangende van die vertaling wat jy lees – beteken letterlik ‘n private plek.

Jesus het gereeld alleen gaan bid (Markus 1:35). Ons lees ook dat mense soos Elisa en Daniël dit gedoen het (2 Konings 4:32; Daniël 6:19).

In die eerste plek moet ons dus die gewoonte aanleer om gereeld te bid wanneer dit net ons en God is.

SLEUTEL 2. ONS GEBEDE MOET OPREG WEES.

Mattheus 6:7-8: “Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ‘n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik. Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.”

My pa vertel altyd die storie van ‘n omie wat tydens huisgodsdiens vir sy familie die Bybel gelees en dan gebid het. Die kinders het die gewoonte gehad om, wanneer almal oë toemaak, uit die sitkamer te sluip en te gaan speel. Een kind het agtergebly sodat hy die ander kon waarsku wanneer oupa se gebed naby aan klaar was. Die omie se gebed was altyd dieselfde en die kind het geweet as oupa vir die heidene begin bid, dan is hy amper klaar.

Iemand skryf dat ons almal eintlik dieselfde probleem as hierdie omie het. Ons het ‘n gebed wat by ons monde uitborrel sonder dat ons eers dink oor wat ons sê. Ons is só gewoond aan hierdie gebed, dat iemand wat ons gereeld hoor bid sal weet wanneer ons naby die einde is.

Dis teen hierdie tipe gebed wat Jesus ons waarsku.

So ‘n gebed kom nie uit die hart nie. Dis nie opregte gebed nie. En God antwoord nie gebede wat nie uit die hart kom nie.

Dink dus ‘n bietjie oor jou gebede. Bid jy altyd dieselfde gebed, met dieselfde woorde, sonder om te dink wat jy bid? Ek weet dat ek dit soms doen.

As jy ook daardie probleem het, vra die Here om jou te help om ontslae te raak van jou ‘roetine-gebed’ en regtig uit jou hart te begin bid.

GEBED OOR DIESELFDE SAAK.

Daar is sommige mense wat leer dat Jesus met hierdie vers ook sê dat ons nie meer as een keer vir dieselfde ding mag bid nie. Maar dis nie waar nie.

Jesus het meer as een keer met dieselfde versoek na die Vader toe gegaan (Mattheus 26:36-46). Paulus het dit ook gedoen (2 Korinthiërs 12:7-8).

En in Lukas 18:1-8 lees ons die gelykenis wat Jesus vertel het om te illustreer dat ons moet aanhou bid oor ‘n saak sonder om moedeloos te raak.

Ons sien dus dat om te bly bid oor ‘n saak, omdat jy nog nie ‘n antwoord gekry het nie, nie ‘n ‘ydele herhaling van woorde’ is nie (Mattheus 6:7, OAV). Dis iets wat ons kan en mag en moet doen.

.

SLEUTEL 3. BID GOD SE WIL.

Mattheus 6:9-13: “So moet julle bid: ‘Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.'”

Daar is baie gebede in die Bybel opgeteken, maar hierdie een is seker die bekendste.

Dis jammer dat daar in al die Afrikaanse vertalings staan: “So moet julle bid…”. Dit kan die idee skep dat ons hierdie gebed moet leer en opsê. En dis presies waarteen Jesus in die vorige verse gewaarsku het.

In die Engelse vertalings staan daar: “Pray after this manner…”. Met ander woorde, gebruik hierdie gebed as die patroon vir gebed, die model vir gebed.

Die doel van gebed is om God se Naam te verheerlik en Sy hulp te vra om Sy wil op aarde te doen.

Die model-gebed begin dus deur te fokus op dit wat vir God belangrik is: Sy Naam, Sy Koninkryk en Sy wil. En dis dan ook presies hoe ons gebede sal begin as ons hier die model daarvoor gebruik.

Na ons gebid het oor die dinge wat vir God belangrik is, kan ons bid vir onsself en ons behoeftes.

Onthou, jou behoeftes is vir God belangrik, en gebed is die manier waarop jy dit by Hom neersit sodat Hy kan voorsien.

LEES OOK: GOD ANTWOORD GEBED – 29 BYBELVERSE

SLEUTEL 4. BID MET ‘N HART VAN VERGIFNIS.

Mattheus 6:14-15: “As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”

In die verse hierbo brei Jesus ‘n bietjie op vers 12.

Daar is mense wat dink Jesus sê ons verdien God se vergifnis deur ander te vergewe. Maar dis nie waar nie. Ons ontvang vergifnis wanneer ons in Jesus as die Seun van God glo. En as ons regtig God se vergifnis ervaar het, dan sal ons ook harte hê wat bereid is om ander te vergewe.

Ons is ook, deur geloof in Jesus, nou in ‘n verhouding met God. Maar as ons nie bereid is om ander te vergewe nie, dan kan ons nie sê ons verhouding met God is reg nie. En as ons verhouding met Hom nie reg is nie, dan kan ons ook nie effektief bid nie.

Die vierde sleutel is dus om te onthou dat God ons vergewe het. Ons moet dan ook seker maak dat ons ander so gou as moontlik vergewe.

Want sonder ‘n hart wat bereid is om te vergewe, gaan ons nie effektiewe gebede kan bid nie.

WATTER SLEUTEL HET JY NODIG?

Dit is dan die vier sleutels tot effektiewe gebed wat ons in Mattheus 6:5-15 kry.

Daar gaan dae wees waar ons die pad van gebed byster raak. Dan kan ons terugkom na hierdie sleutels en met God se hulp bepaal waar ons afgedwaal het. Ons kan dan ook hierdie sleutels gebruik om ons te help om weer op die regte pad te kom, sodat ons effektiewe gebede kan bid.

Ek weet nie aan watter sleutel jy vandag herinner moes word nie, maar ek vertrou dat die Here jou sal wys watter een dit is. Ek vertrou ook dat Hy jou gaan help om daardie sleutel in jou lewe toe te pas, sodat jy gebede kan bid wat deur Hom beantwoord word!

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *