
In die vorige twee artikels het ons gekyk na die eerste twee stappe van die ‘Inductive’ Bybelstudie-metode. Vandag gaan ons ‘n bietjie stilstaan by die derde stap, naamlik toepassing van die Woord.
Maar net eers gou ‘n oorsig.
Stap een het ons gebruik om die teks waar te neem, of te sien presies wat daar staan.
Met stap twee het ons die teks geïnterpreteer, of gekyk wat die teks beteken.
En nou terug na stap 3 – toepassing van die Woord.
DIE DOEL VAN BYBELSTUDIE.
In enige goeie Bybelstudie sal jy ‘n belangrike vraag raakloop oor die teks wat jy studeer.
Die vraag kan op verskeie maniere gevra word, maar dit kom altyd hiérop neer: Hoe gaan jy dit wat jy geleer het, in jou lewe toepas?
Jy sien, die Bybel is nie net daar om ons vir ons kennis te gee nie. Dit moet ons ook verander.
In Mattheus 7:24-27 lees ons van die wyse man, wat sy huis op die rots gebou het. Die storms het gekom, maar die huis het bly staan.
Daar is egter ook ‘n onverstandige man, wat sy huis op die sand gebou het. Sy huis is deur die storms verwoes.
Jesus vergelyk die wyse man met die mens wat Sy woorde hoor en daarvolgens. Die onverstandige is dié een wat hoor, maar nie doen nie.
Ons lees dieselfde konsep in Jakobus 1:22: “Wees doeners van die woord, en nie slegs hoorders wat julleself mislei nie.”
Een van die redes waarom ons die Bybel lees en bestudeer is dus sodat ons verander kan word om meer soos Jesus te wees.
Ons sal egter nooit verander as ons nie dit wat ons geleer het op een of ander manier toepas in ons lewens nie.
HOE PAS EK DIE WOORD TOE?
Soms sal jy vind dat die toepassing van die Woord voor die hand liggend is.
Die Heilige Gees sal amper dadelik vir jou wys waar en hoe jy ‘n spesifieke teks in jou lewe moet toepas.
Ander kere gaan dit egter nie so maklik wees nie.
Dit gaan vra dat jy langer tyd met God te spandeer en dink oor wat jy geleer het. Maar die Heilige Gees sal jou altyd wys waar en hoe jy die teks kan toepas.
DIE LYS IN 2 TIMOTHEUS 3:16-17.
In 2 Timotheus 3:16-17 staan: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.”
Hierdie is ‘n goeie wegspringplek om jou te help om te bepaal hoe jy ‘n teks in jou lewe moet toepas.
ONDERRIG IN DIE WAARHEID.
Die Woord leer ons wat ons moet weet oor ‘n spesifieke onderwerp. Dit leer ons hoe ons moet optree en hoe ons nié moet optree nie.
Wanneer jy ‘n teksvers raakloop wat jou iets leer, vra altyd die volgende drie vrae:
Op wie is hierdie van toepassing?
Het wat die Bybel in die teks leer te doen met die kultuur van die dag?
Is daar ‘n oorkoepelende lering in die Bybel wat die plek inneem van dit wat ek hiér leer?
Een só ‘n voorbeeld is die gedeeltes in die Ou Testament, wat met die bring van offers te doen het. Dit is nie meer op ons van toepassing nie. Jesus is die volmaakte offer, en ons hoef nie meer offers vir ons sondes te bring nie.
Die lering aangaande Jesus, dat Hy die vervulling van die Ou Testamentiese wet is, is dus ‘n oorkoepelende lering. En in die Nuwe Testament neem hierdie lering die plek in van wat in die Ou Testament geleer is oor wat ‘n mens moet doen om in die regte verhouding met God te leef.
BESTRY DWALING.
Hier het ons te doene met verse wat ons wys op iets in ons manier van dink of doen wat nie in lyn is met God se Woord nie.
Wanneer jy só ‘n vers raakloop, is jou toepassing van die Woord om te erken dat jou denke of dade nie in lyn is met die Woord nie. Dan moet jy verander wat jy dink of doen sodat dit wel in lyn is met die Woord.
Vra jouself: Wys hierdie vers my op iets wat verkeerd is met my manier van dink of doen?
STEL VERKEERDHEDE REG.
Ons kan alleenlik die dinge wat ons verkeerd doen of die verkeerde gedagtes wat ons dink verander deur aktiewe stappe te neem.
Die vraag wat jy hier kan vra: In die lig van die waarheid wat ek nou geleer het, watter instruksie gee die Here my?
KWEEK DIE REGTE LEWENSWYSE.
God het ons Sy Woord gegee om ons toe te rus en voor te berei sodat ons gereed is vir enige iets.
Ons weet almal jy kan nie ‘n maraton hardloop sonder om voor die tyd te oefen nie. En dit help nie jy oefen net vir ‘n dag of twee nie. Jy gaan tyd daaraan moet spandeer en dit kan nogal ‘n lang tyd neem voor jy gereed is.
Die Bybel sal die regte lewenswyse by jou aankweek, maar dit gaan tyd en oefening van jou vra.
As jy egter gehoor gee aan wat God jou leer, en saam met Hom daaraan werk, sal jy verander.

KOM ONS OEFEN.
Ons het in die vorige twee artikels die eerste 7 verse van Spreuke 1 gebruik om waarneming en interpretasie te oefen.
Nou gaan ons dieselfde verse gebruik en kyk hoe ons dit in ons lewens kan toepas.
Hoewel elkeen van ons naastenby dieselfde waarneming en interpretasie van die teks gaan hê, gaan ons toepassing egter verskil.
Ons is almal verskillend en leef unieke lewens, so ons gaan nie dieselfde toepassing kan hê nie.
Een area van my lewe waar ek altyd wysheid nodig het, is in die bediening en wat ons hier by Bybel En Gebed doen.
Ek kan dus die verse in Spreuke 1 só in my lewe toepas:
Ek kan bid vir wysheid en die Here se leiding in wat ek in die bediening moet doen.
Verder kan ek my oopstel vir wat die Here my ookal wys om te doen, en dit dan in geloof gaan doen.
En, as ek agter kom dat dit wat ek beplan het, is nie wat die Here wil hê ek moet doen nie, dan moet ek my planne opsy skuif en inval by die Here s’n.
‘N LAASTE GEDAGTE.
Die ‘Inductive’ Bybelstudie-metode het net drie stappe. Maar onder elkeen is daar ‘n hele paar dinge wat ons in gedagte moet hou.
Dis daarom maklik te gefokus te raak op al die stappe wat jy moet doen en dan naderhand moed te verloor en op te hou met jou studies.
Onthou dus dat hierdie net ‘n metode is.
Dit is veronderstel om jou te help om God beter te leer ken en om te verander sodat jy meer soos Hy word.
Probeer dit ‘n paar keer. Jy sal sien dat die stappe naderhand soort van gaan begin vloei hoe langer jy dit doen. Jy sal amper onbewustelik die stappe toepas.
En moenie vergeet om elke keer te bid en die Heilige Gees te vra om jou te help nie.
Ons het almal Sy hulp met ons Bybelstudies nodig!