HANDELINGE 2: WAT ONS BY DIE EERSTE GELOWIGES LEER

Handelinge 2

Handelinge 2 is ‘n baie interessante hoofstuk in die Bybel. In die hoofstuk lees ons van die uitstorting van die Heilige Gees. Dan lees ons wat die skare se reaksie daarop was en ook hoe Petrus hulle toespreek. Hy deel die wonderlike boodskap van Jesus met hulle en drie duisend mense kom tot bekering.

In die laaste gedeelte van die hoofstuk, in verse 42-47, lees ons waarop daardie drie duisend – en ook die ander wat God by die gemeente gevoeg het – gefokus het. Kom ons kyk wat dit was en hoe ons dit in ons eie lewens kan toepas.

DIE LEER VAN DIE APOSTELS.

Handelinge 2:42a: “Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels…”

In die eerste plek het hulle hulle heelharting op die leer van die apostels toegelê.

Die woord ‘heelhartig’ beteken dat hulle dit met hulle hele hart gedoen het. Die woord ‘toelê’ beteken hulle het met volle aandag en groot ywer hulle besig gehou met die leer van die apostels.

Hierdie nuwe gelowges het uit verskillende dele van die samelewing gekom. Daar was Jode en daar was ook Nie-Jode. En almal van hulle moes meer geleer word oor Jesus.

Dis dan ook wat ons hier sien gebeur.

Die gelowiges het ‘n begeerte gehad om meer oor hulle Verlosser te leer en hulle het met hulle hele hart, volle aandag en groot ywer hulle daarmee besig gehou.

Omdat hulle dít gedoen het, het hulle gegroei in geloof en hulle verhouding met Jesus en die Vader het verdiep.

Dis dan ook presies wat ek en jy moet doen as ons nader aan God wil kom en ons geloof wil groei. Ons moet elke dag meer leer oor die Vader, oor Jesus en die Heilige Gees.

Mens kan dit op verskeie maniere doen. ‘n Daaglikse stiltetyd, om kerk toe te gaan en om na iemand wat die Bybel leer, wat jy vertrou, te luister, is van die maniere.

AKSIESTAP.

As jy nog nie elke dag tyd met God spandeer nie, dan is dit nou die tyd om daarmee te begin. Onthou dat dit ‘n manier is om aan jou verhouding met God te werk. Kyk gerus hierdie video as jy hulp nodig het om te begin stiltetyd hou.

ONDERLINGE VERBONDENHEID.

Handelinge 2:42b: “Hulle het hulle heelhartig toegelê op… die onderlinge verbondenheid…”

Die volgende saak waarmee die eerste gelowiges hulle besig gehou het, was die onderlinge verbondenheid.

Die Griekse woord wat met ‘onderlinge verbondenheid’ vertaal is, is die woord Koinonia, wat ‘gemeenskap’ beteken. Dit verwys na die verhouding wat daar is tussen ons en God en tussen ons en ons boeties en sussies in Christus.

Die vroeë Christene het, deur hulle geloof in Jesus, ‘n verhouding met God begin. En omdat hulle ‘n verhouding met God gehad het, het hulle ook ‘n verhouding met hulle mede-Christene gehad.

Hulle het hulle dan ook daarop toegelê om hierdie verhoudinge te bou.

Ek en jy het ook, deur geloof in Jesus, ons verhouding met God begin. Ons is ook, omdat ons ‘n lewe in Christus deel, in ‘n verhouding met ander gelowiges. En daarom moet ons, soos die eerste Christene, werk aan hierdie verhoudinge.

AKSIESTAP.

Jy kan die aksiestap in die gedeelte hierbo oor die leer van die apostels en die een hieronder oor die gemeenskaplike maaltyd, gebruik om aan die verhoudinge te werk.

Vra ook die Here om jou te wys wat jy, in jou spesiefieke situasie, moet doen om aan jou verhouding met Hom en met ander gelowiges, te werk.

.

DIE GEMEENSKAPLIKE MAALTYD.

Handelinge 2:42c: “Hulle het hulle heelhartig toegelê op… die gemeenskaplike maaltyd…”

In die 2020-vertaling van die Bybel word dié gedeelte vertaal as “die breek van die brood”. Dit mag jou laat dink dat daar van Nagmaal gepraat word, maar dis, soos jy uit die vertaling hierbo kan aflei, glad nie die geval nie.

Die Griekse frase wat hier vertaal is, verwys na ‘n lekker, ontspanne kuier saam met vriende waar daar natuurlik ook lekker kos geëet word.

Ons lees nie net in hierdie vers dat die gelowiges saam geëet het nie. Dit staan ook in vers 46. Daar staan boonop dat hulle hulle kos met blydskap geëet het!

Om saam te kuier en saam te eet was dus iets wat die eerste gelowiges gereeld – sommer elke dag (vs.46) – gedoen het.

Ons is vandag ongelukkig so besig dat min mense tyd het om saam met hulle vriende te kuier, wat staan nou nog saam met ander gelowiges uit hulle gemeente.

Maar tyd saam met diegene saam met wie ons Sondae in die kerk sit, is baie belangrik. Wanneer ons saam kuier, leer ons mekaar ken. Ons leer mekaar vertrou. Ons raak gemaklik genoeg met mekaar dat ons regtig ons harte met mekaar kan deel.

Dis wanneer ons tyd saam spandeer dat ons uitvind wat regtig in ander se lewens aangaan en mekaar kan ondersteun en bystaan.

AKSIESTAP.

Is daar selgroepe of kleingroepies in jou gemeente? Sluit by een van hulle aan, as jy nog nie betrokke is nie.

As jou gemeente nie so iets het nie, begin om verskillende mense, wat saam met jou in die kerk is, elke week te nooi vir ‘n ete en ‘n kuier. Nooi eers net een gesin op ‘n slag. Nooi later twee of drie gesinne op ‘n slag.

Op dié manier kan julle mekaar leer ken. Ander gaan dalk later jou voorbeeld volg en kort voor lank kuier julle as gemeente lekker saam.

GEBED.

Handelinge 2:42d: “Hulle het hulle heelhartig toegelê op…gebede.

Die volgende saak waarop die gelowiges in die vroeë kerk gefokus het, was op gebed.

Omdat daar in die teks staan ‘gebede’, en ons in vers 46 lees hulle het elke dag by die tempel bymekaar gekom, is daar sommige Bybelkenners wat dink dat die ‘gebede’ verwys na die gebede wat in daardie tyd op spesifieke tye gebid is. Ons lees van so ‘n ‘tyd van gebed’ in Handelinge 3:1.

In meeste denominasies is daar nie spesifieke tye van die dag waar gemeentelede veronderstel is om te bid nie. Maar dit beteken nie dat ons gebed kan afskeep nie!

Inteendeel, gebed is, net soos tyd met God in Sy Woord, een van dié belangrikste dinge wat ons met ons tyd kan doen.

Dis altyd ‘n goeie idee om jou dag met gebed te begin. Jy weet nie wat daardie dag vir jou voorlê nie, daarom moet jy die dag aan God opdra en Hom vra vir Sy hulp.

En dan is dit natuurlik ook nie ‘n slegte idee om jou dag met gebed af te sluit nie. Nou kan jy vir die Here dankie sê vir die dag en vir alles wat Hy vir jou gedoen het.

Bid ook sommer so deur die dag elke nou en dan. Dis ‘n manier om heeltyd met God in kontak te bly.

AKSIESTAP.

‘n Mens hoef nie ure aaneen te bid vir jou gebede om effektief te wees nie. Maar jy moet bid vir jou gebede om effektief te wees!

Dink na oor jou lewe en kyk hoe jy die drie tye wanneer jy kan bid, wat ek hierbo genoem het, in jou lewe kan insluit.

MEDEDEELSAAMHEID.

Handelinge 2:44-45: “Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte.”

Die laaste saak waarop die eerste Christene gefokus het, was om alles met mekaar te deel. Hulle het sover gegaan om grond en besittings te verkoop en dit wat hulle gemaak het, met mekaar te deel.

Volgens Bybelkenners was dit net die gelowiges in Jerusalem, wat tot hierdie uiterste gegaan het. Dus beteken dit nie dat ons nou ook alles wat ons het moet verkoop en die geld wat ons kry met almal in die gemeente deel nie.

Maar wat ons wél moet doen is om, soos hulle, mededeelsaam te wees.

Mededeelsaamheid is ‘n karaktereienskap van God. Dink maar net aan al die plekke in die Bybel waar mens lees dat God iets vir iemand gegee het. Die grootste ‘gee’ waarvan ons lees, is die feit dat die Vader vir Jesus gegee het om vir die sonde van die wêreld te betaal.

Wanneer ons dit wat God vir ons gee, met ánder deel, is ons dus besig om vir hulle te wys hoe Hy lyk.

AKSIESTAP.

Wat het God jou gegee, wat jy met iemand anders kan deel?

Onthou, ‘n mens hoef nie altyd net geld te gee om mededeelsaam te wees nie. ‘n Mens kan geld, besittings wat jy nie meer gebruik nie, jou tyd of jou talente gee.

Daar is soveel dinge wat God ons gegee het en wat ons, op ons beurt, weer vir ander kan gee om hulle te help. Dis natuurlik ook ‘n manier van verhoudingbou.

So, dink ‘n bietjie wat jy in jou lewe het, wat jy weer met iemand anders kan deel.

DOEN VERDER BYBELSTUDIE.

In hierdie artikel het ons na net ‘n paar van die sake, waarop die eerste Christene gefokus het, gekyk.

Jy kan gerus Handelinge 2:34-47 lees en kyk wat jy nog raaksien, waarop hierdie gelowiges gefokus het.

Dis ook sommer ‘n goeie onderwerp om ‘n Bybelstudie oor te doen. Jy kan die Onderwerp-studiemetode hiervoor gebruik.

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *