PREDIKER – AGTERGROND-INLIGTING VIR BYBELSTUDIE

Prediker

Prediker is die een-en-twintigste boek in die Ou Testament. Die skrywer van die boek wou die sin van die lewe ontdek. Om dit te doen, het hy oral gaan soek. Maar op die ou end het hy besef dat ‘n mens die lewe nooit regtig sal kan verstaan nie.

In hierdie artikel gaan ons kyk na van die agtergrond-inligting wat vir jou van waarde gaan wees wanneer jy ‘n Bybelstudie oor Prediker wil doen.

DIE NAAM VAN DIE BOEK.

Die naam is afgelei van die eerste twee woorde in die oorspronklike opskrif van die boek, naamlik: “Die woorde van Prediker….” (Prediker 1:1).

WIE HET PREDIKER GESKRYF?

Volgens kerklike tradisie is dit deur Salomo geskryf, maar dit word nêrens in die boek bevestig nie.

Daar is ook sommige Bybelkenners wat sê dis geskryf deur ‘n filosoof, wat ongeveer twee eeue voor Christus, geleef het.

Niemand is dus regtig seker presies wie die skrywer van Prediker was nie.

WANNEER HET DIE BOEK ONTSTAAN?

As Salomo die skrywer van Prediker was, dan was dit laat in sy lewe, want die ontstaantydperk is waarskynlik 935 vC.

Andersins was dit ongeveer twee eeue voor Christus.

Ook wat die ontstaantydperk aan betref, lyk dit of niemand regtig presies seker is wanneer dit gebeur het nie.

.

WAT SE TIPE BOEK IS PREDIKER?

Net soos Spreuke, waarna ons al voorheen gekyk het, is Prediker een van die wysheidsliteratuurboeke, ‘n populêre skryfvorm in die tyd van die Ou Testament.

DIE DOEL VAN DIE BOEK.

Daar is ‘n paar dinge wat die skrywer van die boek mense wou leer.

Hy wou hulle leer dat alles, buiten God, nutteloos en sinneloos is.

Hy wou hulle ook leer dat hulle alles wat hulle kan moet geniet, maar dat hulle ook moet onthou dat God rekenskap van hulle gaan eis.

En dan wou hy hulle leer dat ‘n mens respek vir die Here moet hê.

HOOFTEMAS IN PREDIKER.

Daar is vier hooftemas in die boek.

  1. Soeke – Die skrywer soek na die sin van die lewe. Hy ontdek dat ‘n lewe sonder God ‘n lang, vrugtelose soeke na genot, betekenis en vervulling is.
  2. Leegheid – Die skrywer wys ons daarop hoe leeg dit is om plesier in die lewe na te jaag in plaas daarvan om aan ‘n verhouding met God te bou.
  3. Dood – Die dood is onafwendbaar. Dit het tot gevolg dat ‘n mens se prestasies op niks uitloop. Maar God het ‘n plan vir elke mens se lewe wat verder strek as lewe en dood.
  4. Wysheid – Mense het nie al die antwoorde nie. Kennis en opvoeding help ook net soveel. Daarom het ons God se wysheid nodig. Dit help ons ongeag die situasie waarin ons ons bevind.

JESUS IN PREDIKER.

Hierdie boek wys baie duidelik vir ons hoe leeg die lewe is sonder ‘n verhouding met Jesus. Hy alleen is die bron van alle wysheid, van vreugde en van ‘n doel in hierdie lewe.

SLEUTELVERSE IN PREDIKER.

Ons kry die sleutel-, of kernverse, in Prediker 12:13-14. Daar staan: “Die slotsom is, nadat alles gehoor is: Betoon ontsag vir God en kom sy gebooie na; dit geld immers die hele mensdom. Want oor elke daad sal God self oordeel, oor alles wat verborge is, of dit goed is of kwaad.”

VORIGE ARTIKELS.

Ek vertrou dat hierdie agtergrond-inligting jou gaan help wanneer jy ‘n Bybelstudie oor Prediker wil doen.

As jy ‘n studie oor een van die Bybelboeke, wat voor Prediker in die Bybel is, wil doen, kan jy HIER kyk vir agtergrond-inligting wat jou kan help.

Deel hierdie blad

2 comments

  1. Goeie môre Risa
    Het jy ń spesifiek bybelstudie handleiding vat jy kan, of ek kan download oor Prediker en Spreuke?

    1. Hallo Letitia. Ek het ongelukkig nie op die oomblik iets oor Prediker of Spreuke nie. Jammer hoor!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *