
Het jy geweet dat daar verskillende seisoene op die Kerkkalender is? Daar is Advent en Kerstyd. Dan is daar Epifanie en die tyd tussen Epifanie en Lydenstyd. Volgende het ons Lydenstyd, Palmsondag, Heilige Week, Paasfees, Hemelvaart, ensovoorts.
In hierdie artikel wil ek ‘n bietjie met jou gesels oor Lydenstyd tot Paasfees, sodat jy ‘n beter idee het van waaroor dit nou eintlik gaan.
LYDENSTYD.
Lydenstyd is die weke wat Paasfees voorafgaan.
Volgens sommige denominasies is dit die 40 weeksdae en sewe Sondae voor Paasfees.
Ander denominasies tel die weeksdae en Saterdae, maar nie die Sondae nie.
Maar dit maak nie saak volgens watter een van die twee jy werk nie, Lydenstyd is altyd vanaf Aswoensdag tot en met die Saterdag voor Paasfees. Dan volg Palmsondag en Heilige Week, voor ons by Paasfees uitkom.
Hierdie is ‘n tyd van voorbereiding, waar gelowiges hulle harte voorberei vir Paasfees. Dis ook ‘n tyd van hertoewyding en baie gelowiges gebruik dan ook hierdie tyd om hulle verhouding met God te verdiep deur gebed, vas, Bybellees en die dien van andere.
ASWOENSDAG.
Aswoensdag herinner ons aan die sterflikheid van die mens. Dit herinner ons daaraan dat ons almal die behoefte het om met God versoen te word. En dit herinner ons ook daaraan dat Jesus gekom het om daardie behoefte wat ons het, te vervul.
Tydens ‘n Aswoendag-diens word as gebruik om op elkeen teenwoordig se voorkop ‘n kruis te teken. Hoewel ons nêrens in die Bybel opdrag gegee word om Aswoensdag te gedenk nie, is daar tog die gebruik in die Bybel dat mense as op hulle koppe gestrooi het wanneer hulle getreur het of wanneer hulle berou teenoor God wou wys.
PALMSONDAG EN HEILIGE WEEK.
Heilige Week is die week voor Paasfees. Dit begin op die Sondag met Palmsondag, waar ons dink aan Jesus se intog in Jerusalem.
Op die Maandag van Heilige Week dink ons aan hoe Jesus die tempel gereinig het. En op die Dinsdag aan die strydgesprekke wat Hy in Jerusalem met die leierpriesters, skrifgeleerdes en familiehoofde gehad het.
Op die Woensdag van Heilige Week dink ons aan die dag toe Jesus in Betanië gesalf is. Die Donderdag fokus ons op die laaste maaltyd wat Jesus met Sy dissipels gehad het. Tydens dié maaltyd het Hy die Nagmaal ingestel en die dissipels se voete gewas. Dis dan ook net hierna wat Jesus in Getsemane ernstig tot die Vader gebid het en gevange geneem is.
Volgende kry ons Goeie Vrydag, waar ons Jesus se kruisiging en begrafnis herdenk. Saterdag is ‘n dag van stilte, wanneer ons dink aan die tyd toe Jesus in die graf was.
Sommige gemeentes hou tydens Heilige Week elke aand ‘n diens. Ander hou slegs op die Donderdag en Vrydag ‘n diens. Tydens die Donderdagdiens word alle versierings gewoonlik uit die kerk gehaal en daar is min of geen lig tydens die diens nie.
PAASFEES.
Na Heilige Week kom ons by die hoogtepunt, naamlik Paasfees. Meeste van ons dink aan Paasfees as Goeie Vrydag en Opstandigssondag, maar volgens die Kerkkalender is Paasfees eintlik net Opstandingssondag.
Op dié dag vier ons fees omdat ons Verlosser nie meer in die graf is nie, maar opgestaan het.
Sommige gemeentes hou dan ook op die dag ‘n diens van voor sonop tot net daarna. Die lig van die opkomende son simboliseer Jesus se opstanding uit die dood.
Kerke word ook gewoonlik op Opstandigssondag met blommer versier.
ALGEMENE GEBRUIKE IN LYDENSTYD.
Daar is ‘n paar dinge wat gelowiges tydens Lydenstyd doen om hulle harte voor te berei vir Paastyd en hulle verhouding met God te verdiep.
GEBED.
In ons gebedstyd tydens Lydenstyd, fokus ons daarop dat ons God se vergifnis in ons lewens nodig het. Ons bely ons sondes en draai, met Sy hulp, daarvan weg. Ons bid ook vir diegene wat nog nie vir Jesus ken nie.
VAS.
Wanneer ons vas, herinner ons onsself aan die feit dat Jesus God se perfekte Lam was, wat vir ons geoffer is sodat ons sondes vir altyd vergewe kan word en ons weer in ‘n verhouding met God kan staan. Ons gebruik dan ook die tyd wanneer ons sou eet om meer tyd met God te spandeer. (As jy meer inligting oor vas wil hê, kan hierdie artikel jou help.)
BYBELLEES.
In Hebreërs 12:2 lees ons dat ons ons oog op Jesus gerig moet hou. Een manier om dit tydens Lydenstyd te doen, is om ‘n Bybelleesplan te volg wat spesifiek vir hierdie tyd saamgestel is. As jy so ‘n leesplan nodig het, kan jy hier een gratis aflaai.
DIEN ANDERE.
Om ander op een of ander manier te dien is ‘n manier waarop ons met blydskap en dankbaarheid reageer op God se genade, liefde en vrygewigheid teenoor ons.
DIE BELANGRIKSTE SEISOEN.
Ek vertrou dat hierdie artikel jou ‘n bietjie meer geleer het oor, na my mening, die belangrikste seisoen op die Kerkkalender – Lydenstyd tot Paasfees.
Dink net daaroor.
Sonder Jesus se dood en opstanding, sou daar vir ons as mense geen hoop gewees het nie.
Ons sou in ons sondes en ellende doodgegaan het en nooit met God versoen kon word nie.
Ons sou nooit hier op aarde ‘n verhouding met Hom kon hê nie en ook nie ‘n ewige toekoms saam met Hom nie.
En ons sou beslis nie Sy tempels kon wees, waar Hy deur Sy Gees in kon woon nie.
Dis maar net ‘n paar redes waarom ek dink hierdie is die belangrikste seisoen op die Kerkkalender!

Baie dankie vir jul onbaatsugtige deel van bronne. Dit word met die nodige erkenning gebruik.