GOD ANTWOORD GEBED: 29 BYBELVERSE

God antwoord gebed: 29 Bybelverse

Jy het seker al iemand hoor sê dat dit vir hom voel sy gebede gaan nie verder as die plafon nie. Dalk het jy self al so gesê! ‘n Mens voel partykeer so wanneer jy vir iets bid, maar dit lyk nie of dit regtig help nie. Dit lyk nie of daar ‘n verandering is of ‘n antwoord kom nie. Dit kan ‘n mens baie moedeloos maak en selfs veroorsaak dat jy moed opgee en ophou bid oor die saak. Maar dis ‘n fout, want God antwoord gebed!

Hy hoor elke gebed wat ons bid, selfs dié wat voel of hulle nie verder as die plafon gaan nie. En Hy antwoord ook elke gebed, al neem dit soms ‘n ruk voor ons ‘n antwoord sien.

Hoe weet ek dit?

God sê so in Sy Woord.

Daar is Bybelvers op Bybelvers wat ons die versekering gee dat God ons gebede hoor. En daar is ook vers op vers waar God ons belowe dat Hy gebed antwoord.

As jy weer voel dat jou gebede verniet is, dat God jou nie hoor of jou nie antwoord nie, kom lees hierdie verse.

Laat God toe om dit te gebruik om jou geloof te versterk en jou te help om nie moed op te gee nie, maar aan te hou bid, want God antwoord gebed.

PSALM 6:10:

Die Here het my smeking gehoor; die Here aanvaar my gebed.

SPREUKE 15:8,29:

Die offer van goddeloses is afstootlik vir die Here, maar die gebed van opregtes geniet sy goedkeuring… Die Here is ver van goddeloses, maar die gebed van regverdiges hoor Hy.

PSALM 4:4:

Julle moet weet dat die Here sy getroue volgelinge uitsonderlik behandel. Die Here hoor wanneer ek na Hom roep.

2 KRONIEKE 16:9a:

Want die Here, sy oë deurkruis die hele aarde, om hulle wie se harte volkome by Hom is, kragtig by te staan.

JESAJA 58:9-10:

Dan sal jy roep en die Here sal antwoord. Jy sal om hulp roep, en Hy sal sê: “Hier is Ek!” As jy die juk uit jou midde verwyder, die vingerwysery en verderflike gepraat, as jy hulle wat honger is, jou empatie laat ervaar, die mens wat verdruk word, versadig laat word, sal jou lig in die duisternis skyn; jou donkerte sal soos helder dag wees.

2 KRONIEKE 7:14-15:

[E]n my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid, en my teenwoordigheid opsoek en terugdraai van hulle verkeerde paaie, sal Ek self uit die hemel hulle hoor. Ek sal hulle sonde vergewe en hulle land genees. My oë sal nou oop wees en my ore sal aandagtig luister na die gebede uit hierdie plek.

JESAJA 59:1:

Kyk, die hand van die Here is nie te kort om te verlos nie, sy oor is nie hardhorend, sodat Hy nie kan hoor nie.

PSALM 28:6-8:

Die Here moet geprys word, want Hy het na my smeekgebed geluister. Die Here is my krag en my skild; op Hom vertrou my hart. Ja, ek het hulp ontvang en my hart jubel, met my lied wil ek Hom prys: Die Here is vir sy volk ‘n krag. Hy is die toevlug van verlossing vir sy gesalfde.

JEREMIA 33:3:

Roep My aan, en Ek sal jou antwoord; Ek wil aan jou groot en onbegryplike dinge bekend maak wat jy nie geweet het nie.

PSALM 34:16,18:

Die oë van die Here is op die regverdiges, sy ore op hulle hulpgeroep… Regverdiges roep om hulp en die Here luister, uit al hulle benoudhede red Hy hulle.

MATTHEUS 7:7-11:

Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat vra, ontvang; en wie soek, vind; en vir wie klop, sal oopgemaak word. Wie onder julle sal, as sy seun brood vra, vir hom ‘n klip gee? Of ook, as hy ‘n vis vra, vir hom ‘n slang gee? As julle wat sleg is, dan weet om goeie geskenke aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader in die hemele goeie dinge gee vir hulle wat Hom vra!

PSALM 37:4:

Vind jou vreugde in die Here, dan sal Hy jou gee wat jou hart begeer.

JESAJA 65:24:

Nog voordat hulle roep, sal Ek hulle antwoord; hulle sal nog besig wees om te praat, dan verhoor Ek hulle al.

PSALM 50:15:

Roep My aan in ‘n tyd van nood; Ek sal jou red, en jy sal My eer.

.

MATTHEUS 18:19-20:

Verder, amen, Ek sê vir julle: As twee van julle op aarde saamstem oor enigiets wat julle vra, sal my Vader in die hemele dit aan julle toestaan. Want waar twee of drie in my Naam byeen is, daar is Ek in hulle midde.

PSALM 55:17-19:

Ek, ek roep tot God, en die Here sal my verlos. In die aand, in die oggend en in die middag het ek gekla en gesteun; maar Hy het my stem gehoor. Met vrede koop Hy my lewe vry van ‘n geveg wat teen my gerig is, al is hulle in hulle hordes teen my.

MATTHEUS 21:21-22:

Jesus het hulle geantwoord: “Amen, Ek sê vir julle, as julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle nie net kan doen wat met die vyeboom gebeur het nie, maar selfs as julle vir hierdie berg sê, ‘Tel jouself op en werp jou in die see!’ sal dit gebeur. Alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo.”

MARKUS 11:22-24:

Jesus antwoord hulle toe: “Julle moet geloof in God hê. Amen, Ek sê vir julle: Wie vir hierdie berg sê, ‘Lig jouself op en gooi jouself in die see,’ en nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, gaan gebeur, vir hom sal dit gebeur. Daarom sê Ek vir julle, alles waarvoor julle bid en vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so gebeur.”

PSALM 91:14-16:

Omdat hy My liefhet, sal Ek hom bevry; Ek sal hom beskerm omdat hy my Naam ken. Hy sal My aanroep, en Ek sal hom antwoord. Ek sal by hom wees in nood; Ek sal hom red en aan hom eer gee. Met ‘n lang lewe sal Ek hom versadig; Ek sal hom my verlossing laat ervaar.

JOHANNES 14:13-14:

En wat julle in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik mag word. As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.

PSALM 102:18:

Hy sal Hom wend na die gebed van die brandarmes; Hy sal hulle gebed nie minag nie.

JOHANNES 15:7-8:

As julle in My bly, en my woorde in julle bly, vra dan wat julle wil, en dit sal met julle gebeur. Hierdeur word my Vader verheerlik, dat julle baie vrug dra en my dissipels kan wees.

PSALM 116:1-2:

Ek het die Here lief, want Hy luister na my stem, my smeekgebed; ja, Hy draai sy oor na my, en solank ek leef, sal ek Hom aanroep.

ROMEINE 8:31-32:

Wat sal ons dan hiervan sê? As God vir ons is, wie kan teen ons wees? Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons almal oorgelewer het – hoe sal Hy nie ook saam met Hom alles aan ons skenk nie?

PSALM 138:2-3:

Ek wil in aanbidding buig na u heilige tempel; ek wil u Naam prys oor u troue liefde, oor u trou; Want U het u beloftes bo al u roem laat uitstyg. Die dag toe ek geroep het, het U my geantwoord. U maak my innerlik sterker.

FILIPPENSE 4:5-7:

Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby. Moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend. En die vrede van God, wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak.

JAKOBUS 5:13-16:

As iemand van julle swaarkry, moet hy bid. As iemand opgeruimd is, moet hy psalms sing. As iemand van julle siek is, moet hy die ouderlinge van die gemeente roep, sodat hulle vir hom kan bid, nadat hulle hom in die Naam van die Here met olyfolie gesalf het. Die gelowige gebed sal die sieke gesond laat word, en die Here sal hom weer oprig. En as hy sonde gedoen het, sal hy vergewe word. Bely dan julle sondes teenoor mekaar, en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van ‘n regverdige is baie kragtig in sy uitwerking.

1 JOHANNES 3:21-23:

Geliefdes, as ons gewete ons nie veroordeel nie, kan ons met vrymoedigheid voor God staan. En wat ons ook al vra, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie onderhou, en doen wat vir Hom aangenaam is. En dit is sy gebod: Dat ons in die Naam van sy Seun, Jesus Christus, moet glo, en mekaar moet liefhê volgens die gebod wat Hy aan ons gegee het.

1 JOHANNES 5:13-15:

Dit het ek aan julle geskryf sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Naam van die Seun van God glo. En dit is die vrymoedigheid wat ons voor Hom het: Dat Hy ons gebede verhoor as ons iets volgens sy wil vra. En as ons weet dat Hy ons verhoor in alles wat ons vra, weet ons dat ons alles ontvang wat ons van Hom vra.

GOD ANTWOORD GEBED.

Ek vertrou dat hierdie Bybelverse jou opnuut daaraan herinner het dat God gebed antwoord. Ek vertrou dat dit jou aanmoedig om aan te hou bid. Onthou, God hoor elke gebed wat jy bid. Bly op Hom vertrou, want Hy hoor nie net nie maar antwoord ook gebed.

Deel hierdie blad

3 comments

  1. Dankie Risa
    Dit help om bietjie weer net alles in perspektief te sien veral as jy struikel.
    Dit help as jy aangeval word.
    Dankie v die skrywe.
    Chris

  2. Baie dankie Risa. jy skryf so mooi en kragtig en maklik om alles te verstaan

    Groete

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *