PSALM 46: BEDAAR EN RAAK STIL

Psalm 46: Bedaar en raak stil

Ek is seker jy het al iewers een van die prentjie-Bybelverse wat mense aanstuur gesien, wat sê: “Be still and know that I am God.”

Dit kom uit Psalm 46 en is die eerste gedeelte van vers 11.

Vandag gaan ons ‘n bietjie gesels oor hierdie vers, maar ook oor die eerste gedeelte van Psalm 46:9.

KOM KYK….

Kom ons begin by vers 9. Daar staan: “Kom kyk na die dade van die Here…” (2020-vertaling).

Die psalmdigter nooi ons uit om na die dade van God te kyk, om dit raak te sien. Dit wat Hy doen is oral om ons, maar ons mis dit soms omdat ons so besig is met ander dinge.

En dis juis hierdie ‘besig wees’ wat keer dat ons God se grootheid raaksien en herken.

Gelukkig gee die 11de vers van Psalm 46 vir ons ‘n oplossing vir hierdie probleem. Daar staan: “Bedaar en erken dat Ek God is…” (2020-vertaling).

BEDAAR EN RAAK STIL.

Om regtig die grootheid van die Here rondom ons raak te sien, moet ons bedaar en stil wees. Ons moet ophou om so gejaagd te lewe en net rustig raak.

Iemand skryf in ‘n kommentaar op hierdie psalm dat hy op ‘n dag nie vers 11 uit sy kop kon kry nie. Toe besluit hy dat hy letterlik gaan doen wat die vers sê hy moet doen en vir ‘n uur lank stilsit en kyk wat gebeur.

Hy het op sy stoep gaan sit en dinge begin raaksien wat hy nie normaalweg opgelet het nie.

Daar was miere wat besig was om kos bymekaar te maak.

‘n Ligte windjie het die blare van die bome in die tuin saggies geroer.

Daar was selfs bokkies wat tot naby hom geloop het, omdat hy so stil gesit het.

In Psalm 19:2-3 staan daar: “Die hemelruim verkondig die eer van God en die hemelkoepel maak die werk van sy hande bekend. Dag ná dag bring dit ‘n boodskap voort en nag ná nag deel dit kennis mee.”

Alles in die natuur is dus besig om God se eer, die werk van Sy hande, bekend te maak. Maar as ons dit wil raaksien, moet ons stil raak.

Vandag wil ek jou dan ook uitdaag om hierdie week tyd opsy te sit om vir ‘n rukkie buite in die natuur stil te word. Kyk wat jy om jou raaksien. Wat is daar wat God se eer en dade verkondig?

.

TYD SAAM MET GOD.

Nog ‘n manier waarop ons kan stil raak, is om tyd saam met God te spandeer.

Jy kan dit doen deur ‘n daaglikse stiltetyd. Meeste mense gebruik hulle stiltetyd om ‘n gedeelte uit die Bybel te lees en te bid. Soms lees gelowiges ook ‘n gedeelte uit ‘n oordenkingsboek. Hierdie spesiale tyd met God help ‘n mens om, al is dit net vir ‘n paar minute in die dag, rustig te raak en op die Here te fokus.

Dan kan jy natuurlik ook meer tyd opsy sit en ‘n gedeelte uit die Bybel studeer. Bybelstudie help jou om, onder andere, meer uit ‘n Bybelgedeelte te kry as wat jy kry wanneer jy net die Bybel lees.

As jy hulp nodig het met stiltetyd of Bybelstudie, kan jy gerus ‘n draai maak in ons aanlyn-winkel. Daar is drie oordenkingsboeke wat jy in jou stiltetyd kan gebruik. Daar is ook twee Bybelstudies, wat jou nie net meer oor die Bybel gaan leer nie, maar jou ook gaan help om te leer hoe om self Bybelstudie te doen. Al die boeke is in PDF-formaat, so jy laai dit sommer op jou rekenaar of selfoon af.

Hierdie week (24-30 Junie 2024) is al hierdie boeke deel van ons Middel-Van-Die-Jaar-Verkoping. So, moet dit nie misloop nie. Gaan loer watter oordenkingsboek of Bybelstudie vir jou interessant lyk. Gebruik dit dan om stil te word saam met God meer te leer oor Sy dade en grootheid.

Psalm 46
Deel hierdie blad

2 comments

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *