DIE WOORDE VAN JESUS

Die woorde van Jesus

Ek het ‘n boek op my boekrak met die naam, The Greatest Words Ever Spoken deur Steven K. Scott. Dis ‘n versameling van die woorde van Jesus wat ons in die verskillende Evangelies en in Handelinge kry. Wat dié boek so besonders maak, is dat die skrywer al die verskillende dinge wat Jesus byvoorbeeld oor liefde gesê het, bymekaar gesit het. Wanneer ‘n mens die verskillende verse so saam lees, kry jy ‘n heel ander beeld van wat Jesus oor die onderwerp gesê het.

Vandag wil ek ook ‘n paar van die woorde wat Jesus gesê het, met jou deel en in oordenkingstyl daaroor gesels. Nie al die verse gaan oor dieselfde onderwerp, soos in my boek nie, maar dit waaroor ons gaan gesels is belangrike dinge, wat ons moet onthou.

MATTHEUS 4:18-22.

Terwyl Jesus langs die See van Galilea loop, het Hy twee broers gesien, Simon, wat Petrus genoem word, en Andreas, sy broer. Hulle was besig om ‘n treknet in die see uit te gooi, want hulle was vissers.
Hy sê vir hulle: “Volg My, en Ek sal julle vissers van mense maak!”
Hulle het onmiddellik hulle nette gelos en Hom gevolg.
Hy het van daar af verder geloop en twee ander broers gesien: Jakobus, die seun van Sebedeus, en sy broer Johannes. Hulle was saam met hulle vader Sebedeus in die boot besig om hulle nette heel te maak, en Hy het hulle geroep.
Hulle het onmiddellik die boot en hulle vader verlaat en Hom gevolg.

ONMIDDELLIKE GEHOORSAAMHEID.

Daar is een woord wat twee keer in hierdie gedeelte gebruik word, waarop ek jou aandag wil vestig. Dis die woord ‘onmiddellik’.

Jesus sê eers vir Petrus en Andreas dat hulle hom moet volg, en onmiddellik doen hulle wat Hy van hulle vra.

Dan roep Hy vir Jakobus en Johannes. En weereens los hulle alles en voer onmiddellik Sy opdrag uit.

Hulle vra nie vrae nie. Hulle bied nie allerhande verskonings aan nie. Nee, hulle doen eenvoudig onmiddellik wat Jesus sê.

Hoeveel keer is ek en jy só gehoorsaam?

Doen ons elke keer dadelik wat God vir ons sê om te doen?

Of wag ons partykeer ‘n paar dae, net om seker te maak dis regtig wat God wil hê ons moet doen?

Ons moet by hierdie vier manne leer hoe gehoorsaamheid aan God lyk.

Onthou, uitgestelde gehoorsaamheid is steeds ongehoorsaamheid. So, maak vandag, en elke dag, ‘n punt daarvan om onmiddellik te doen wat God vir jou sê om te doen.

MATTHEUS 10:34-39.

Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard.
Want Ek het gekom om ‘n wig in te dryf, ” ‘tussen ‘n man en sy vader en tussen ‘n dogter en haar moeder, en tussen ‘n skoondogter en haar skoonmoeder;
en ‘n mens se vyande sal sy eie huismense wees.’
Wie sy vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie, en wie sy seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie.
En wie nie sy kruis opneem en My volg nie, is My nie waardig nie.
Wie sy lewe behou, sal dit verloor, en wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit behou.

ANDERS AS DIE WêRELD.

In dié gedeelte sien ons dat om Jesus te volg ‘n mens dalk van jou familie en vriende gaan vervreem.

Nie almal gaan kies om Hom te volg nie. Dit beteken dat van ons familie en vriende dalk van dié gaan wees wat nié vir Jesus kies nie. En dit kan konflik veroorsaak.

Jy sien, as ons ons kruis dra, gaan ons waardes, doelwitte, optrede, woorde, ensovoorts anders wees as dié van die wêreld. Dit kan ons van mense vervreem.

Maar ons moet bereid wees om onsself volkome aan God oor te gee. Ons moet bereid wees om enige iets vir Hom te verduur. Dit sluit in vervolging, lyding, en dalk selfs die dood.

Ek wil jou dan ook aanmoedig om nie jou gesin en jou familie te verwaarloos nie. Maar moet ook nie jou verhouding met God verwaarloos nie. Hy moet altyd jou eerste prioriteit wees, maak nie saak wat dit van jou vra nie.

MATTHEUS 16:13-20:

Toe Jesus in die gebied van Caesarea-Filippi kom, het Hy sy dissipels gevra: “Wie sê die mense is die Seun van die Mens?”
Hulle het geantwoord: “Sommige sê Johannes die Doper, ander Elia, en ander weer Jeremia, of een van die profete.”
Hy sê toe vir hulle: “Maar julle, wie sê julle is Ek?”
Simon Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.”
Jesus antwoord hom: “Gelukkig is jy, Simon Barjona, want vlees en bloed het dit nie aan jou bekend gemaak nie, maar my Vader in die hemele.
En Ek sê vir jou, jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou; en die poorte van Hades sal dit nie oorweldig nie.
Ek sal vir jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee, en wat jy ook al op aarde toesluit, sal in die hemele toegesluit wees, en wat jy ook al op aarde vrylaat, sal in die hemele vrygelaat wees.”
Daarop het Hy die dissipels beveel om vir niemand te vertel dat Hy die Christus is nie.

JOU BELYDENIS OOR JESUS.

Baie mense dink dat Jesus met hierdie woorde aan Petrus vir hom gesê het dat hy, Petrus, die rots is waarop Jesus Sy kerk gaan bou. Hulle het dié idee omdat rots in Grieks die woord ‘petra’ is, wat ‘n woordspeling op die naam Petrus is.

Maar dis nie wat Jesus gesê het nie.

Die rots waarna Hy verwys, waarop Hy die kerk bou, is Petrus se belydenis dat Jesus die Christus, of Messias, die Seun van die lewende God is.

Dis dan ook wat elke mens moet glo om gered te word.

In Romeine 10:9-10 lees ons: “Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en jy glo met jou hart dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word. Want met die hart glo ons, en word so regverdig verklaar; met die mond bely ons, en word so verlos.”

Glo jy dat Jesus die Messias is? Glo jy dat Hy die Seun van die lewende God is? En glo jy dat Hy vir jou sondes gesterf het, maar dat God Hom uit die dood opgewek het?

Dan kan jy verseker weet dat jy gered is.

Want ‘elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie’! (Romeine 10:11)

.

MARKUS 9:33-37.

Hulle het in Kapernaum aangekom, en toe Jesus by hulle in die huis was, vra Hy hulle: “Waaroor het julle op pad geredeneer?”
Hulle het egter stilgebly, want hulle het op pad onder mekaar geredekawel oor wie die belangrikste is.
Nadat Hy gaan sit het, roep Hy die twaalf en sê vir hulle: “As iemand eerste wil wees, moet hy laaste van almal en almal se dienaar wees.”
Hy het ‘n kindjie geneem en hom tussen hulle laat staan. Hy neem hom toe in sy arms en sê vir hulle:
“Wie een van hierdie kindertjies in my Naam ontvang, ontvang My, en wie My ontvang, ontvang nie My nie, maar Hom wat My gestuur het.”

ONBAATSUGTIGE DIENS.

Iemand skryf in ‘n kommentaar oor hierdie gedeelte dat die persoon wat ‘n klein kindjie laat welkom voel, ook vir Jesus laat welkom voel. En iemand wat vir ‘n arme iets gee om te drink, gee in effek oor vir Jesus iets.

Die ander kant van die saak is ook waar.

Dis nie reg om ander te na te kom nie. Dis ook nie reg om te weet iemand het ‘n behoefte en dan nie, as jy kan, daarin te voorsien nie.

In die oë van die wêreld is sekere mense belangrik. Maar dit beteken nie hulle is ook in God se oë belangrik nie.

Jy sien, dis nie wat jy alles bereik en die suksesse wat jy behaal wat in God se oë belangrik is nie. In Sy oë is onselfsugtige diens aan ander dié dinge wat jou belangrik maak.

Dink so ‘n bietjie aan almal wat vandag jou pad gaan kruis. Wie is daar vir wie jy iets kan doen, ‘n onbaatsugtige diens voor kan lewer?

Gaan dan, en doen dit!

MARKUS 10:35-45.

Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, het na Hom gekom en gevra: “Meester, ons wil hê dat wat ons ook al van U vra, U vir ons moet doen.”
Jesus vra hulle: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?”
Hulle antwoord Hom: “Beskik dat, in u heerlikheid, een van ons aan u regterhand en een aan u linkerhand mag sit.”
Maar Jesus antwoord hulle: “Julle besef nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek drink of met die doop gedoop word waarmee Ek gedoop word?”
Hulle sê vir Hom: “Ons kan.” Jesus sê toe vir hulle: “Die beker wat Ek drink, sal julle drink, en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word.
Maar om aan my regterhand of linkerhand te sit, is nie vir My om te beskik nie, maar dit is vir hulle vir wie dit voorberei is.”
Toe die tien dit hoor, het hulle verontwaardig geword oor Jakobus en Johannes.
Jesus het hulle na Hom toe geroep en vir hulle gesê: “Julle weet dat hulle wat as heersers oor die nasies beskou word, oor hulle baasspeel en dat hulle maghebbers oor hulle gesag uitoefen.
So is dit egter nie by julle nie; maar wie belangrik onder julle wil wees, moet julle dienaar wees,
en wie eerste onder julle wil wees, moet almal se slaaf wees.
Want ook die Seun van die Mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie.”

DOOD VIR SONDE, LEWEND VIR GOD.

Jesus se dissipels het, soos meeste ander Jode van daardie tyd, ‘n wanopvatting van die Messias gehad. Hulle het gedink Hy sou ‘n aardse koninkryk tot stand bring en hulle van die Romeine bevry.

In hierdie gedeelte sien ons dat Jakobus en Johannes dan ook in daardie aardse koninkryk belangrike posisies wou hê.

Maar Jesus help hulle reg en verduidelik dat Hy nie gekom het om hulle van die Romeinse regering te bevry nie. Nee, Hy het gekom om Sy lewe te gee om die mens vry te koop van sonde.

Dink ‘n bietjie daaroor. Die Jode het gedink die slawebande van die Romeine was erg, maar die sondebande, wat elke mens bind, is baie erger.

Dankie tog ons hoef nie langer deur die sonde gebind en beheer te word nie. Ons kan, deur geloof in Jesus, bevry word. Wanneer ons in Hom glo is ons dood vir sonde en kan ons lewe vir God.

Ek weet nie van jou nie, maar vir my is hierdie sommer baie goeie nuus!

DIE WOORDE VAN JESUS.

Ek vertrou dat die woorde van Jesus waaroor ons vandag gesels het, jou aanspoor om Hom beter te leer ken deur tyd met Hom in Sy Woord te spandeer.

As jy hou van die styl waarin ons gesels het, dan gaan jy ook hou van die oordenkingsboek oor die Evangelie Volgens Markus, wat in ons aanlyn-winkel beskikbaar is. Daar is ook ‘n oordenkingsboek oor Vroue In Die Bybel, as dit iets is waaroor jy meer wil weet.

So, maak sommer vandag nog ‘n draai in die aanlyn-winkel en kyk wat daar alles beskikbaar is, wat jou in jou stiltetyd of jou Bybelstudie-tyd kan help.

Deel hierdie blad

2 comments

  1. Baie dankie vir die teksverse van gebed dit gaan my baie help om dit te bid en die Here te vertrou met Sy onveilbare woord mag die Here jou meer en meer gebruik in Sy aker en mag jou liefde vir die werk van Hom van hoogte, krag en sterkte gaan die Here seen.????

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *