DIE ELEMENTE VAN GEBED

Die elemente van gebed

Jesus se dissipels het elke dag gesien hoe Hy eenkant toe gaan om tyd met God in gebed te spandeer. Hulle het geweet dis waar Sy bonatuurlike krag en vrede vandaan kom. En hulle wou dit ook hê. Daarom lees ons in Lukas 11:1 dat hulle Hom vra om hulle te leer bid. In antwoord gee Hy hulle ‘n modelgebed, wat ons ken as die Onse Vader. In die Onse Vader sien ons die verskillende elemente van gebed, wat ons in gedagte moet hou wanneer ons bid.

Kom ons kyk na elkeen van dié elemente.

AANBIDDING.

Die eerste elemente van gebed is aanbidding, lofprysing en danksegging.

Ons maak baie keer die fout dat ons dink gebed is om met ons lysie dinge wat ons nodig het, voor God te kom staan. En dis reg om te vra vir dit wat ons nodig het. Dis presies wat ons moet doen.

Maar voor ons vra, moet ons eers in aanbidding na God toe kom, want Hy alleen is dit waardig om aanbid te word. Ons sien dit byvoorbeeld in Openbaring 4:11: “U is waardig, ons Here en God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, omdat U alle dinge geskep het; deur u wil het alles ontstaan, is dit geskep.”

Wanneer ons God aanbid, fokus ons op Hom en op wie Hy is.

Ons fokus op Sy heiligheid: “Gee eer aan die Here vir die heerlikheid van sy Naam! Buig in aanbidding voor die Here in sy glansryke heiligheid” (Psalm 29:2).

Ons fokus op Sy mag: “…hulle sal sing oor wat die Here gedoen het, want die mag van die Here is groot” (Psalm 138:5, 1983-Vertaling).

Aanbidding fokus ook op God se heerlikheid: “…aan Hom, die enigste en alwyse God, kom toe die heerlikheid deur Jesus Christus, vir ewig! Amen” (Romeine 16:27).

Aanbidding fokus op God se majesteit: “Majesteit en luister straal van Hom uit, krag en glans vul sy heiligdom” (Psalm 96:6, 1983-Vertaling).

In aanbidding fokus ons ook op God se genade en barmhartigheid: “Hy het bewerk dat sy wonders onthou word. Genadig en barmhartig is die Here” (Psalm 111:4).

En laastens fokus ons in aanbidding op God se trou: “Sy dade is vol majesteit en luister, sy trou staan vir altyd vas” (Psalm 111:3).

VERSE VIR BYBELSTUDIE: Openbaring 5:8-14; Psalm 96:9.

LOFPRYSING EN DANKSEGGING.

Soos jy hierbo gesien het, is aanbidding om te fokus op wie God is.

Lofprysing en danksegging fokus weer op dit wat God vir ons doen en beteken.

Daar is soveel dinge wat ons elke dag uit God se hand ontvang. En dis belangrik dat ons erken dis Hý wat dit vir ons gee. Dis ook belangrik om vir Hom dankie te sê daarvoor.

Ons moet byvoorbeeld vir Hom dankie sê vir Jesus, en dat ons vrygemaak is deur geloof in Hom.

Ons moet ook vir Hom dankie sê dat Hy elke dag vir ons sorg, ons beskerm en ons help.

As jy wil sien hoe ander God aanbid, loof en prys, dan is Psalms ‘n goeie boek om te lees. Daar is ook lofliedere van byvoorbeeld Moses, Dawid, Asaf en Maria in die Bybel opgeteken. Hierdie lofliedere gee ons ‘n ideel hoe om God te loof en prys. (Moses – Eksodus 15:1-18; Dawid – 2 Samuel 22:2-51; Asaf – 1 Kronieke 16:8-36; Maria – Lukas 1:46-55).

VERSE VIR BYBELSTUDIE: Efesiërs 5:19-20; Filippense 4:6; Kolossense 4:2; Psalm 30:1-6; Psalm 124:5-8; Psalm 40:1-5; Psalm 1-3:1-5.

Is jy op soek na ‘n Bybelstudie om hierdie jaar te doen? Kyk dan gerus na die Bybelstudie oor Jesus se gelykenisse. Dit gaan jou nie net meer oor Sy gelykenisse leer nie, maar ook hoe om self Bybelstudie te doen.

SONDEBELYDENIS.

‘n Mens kan nie met jou sonde in God se Teenwoordigheid verskyn nie. Daarom moet ons eers daarvan ontslae raak voor ons met Hom praat.

Hoe doen ‘n mens dit?

Deur jou sonde voor Hom te bely.

Dis ‘n belangrik element van gebed, want dit sorg dat ons verhouding met God sterk en suiwer bly.

As jy bewus is van enige iets wat jy verkeerd gedoen het, bely dit voor die Here. Vra Hom ook om jou te wys waar jy dalk gesondig het, maar nie weet jy het dit gedoen nie. Wanneer Hy jou iets wys, bely dit. Vertrou Hom dan dat Hy jou vergewe.

VERSE VIR BYBELSTUDIE: Psalm 51:1-12; Psalm 66:18-19; 1 Johannes 5:9.

VRA GOD VIR DIT WAT JY NODIG HET.

Ons weet almal dat gebed insluit om dinge wat jy nodig het, van God te vra. Wat ons egter soms ‘n bietjie vergeet, is dat dit wat ons vra in lyn moet wees met God se wil vir ons.

In 1 Johannes 5:14-15 staan: “En dit is die vrymoedigheid wat ons voor Hom het: Dat Hy ons gebede verhoor as ons iets volgens sy wil vra. En as ons weet dat Hy ons verhoor in alles wat ons vra, weet ons dat ons alles ontvang wat ons van Hom vra.”

Hier het ons die versekering dat God ons hoor, en ook ons gebede verhoor, wanneer ons iets volgens Sy wil vra. Maar hoe weet ons wat God se wil vir ons is?

Ons lees die Bybel. Jy sien, God se algemene wil vir alle mense op aarde is vir ons in die Bybel neergeskryf.

Dit is byvoorbeeld God se wil dat ons in Jesus glo en gered word. Dis ook Sy wil dat ons heilig lewe, liefde uitleef, ander vergewe, ensovoorts.

As jy dus vir God vra om jou te help om meer soos Jesus te wees en heilig te lewe, sal Hy jou verseker daarmee help. Of as jy Hom vra om jou te help om jou kollega, wat jou so irriteer, met liefde te behandel, kan jy ook weet dat Hy jou sal help.

GOD SE SPESIFIEKE WIL.

God se algemene wil vir alle mense is dus in die Bybel opgeteken. Maar wat van Sy spesifieke wil vir elkeen van ons? Hoe weet ons wat dít is, sodat ons daarvolgens kan bid?

Ons vra Hom om ons deur Sy Gees te lei. Wanneer ons voel dat Hy ons in ‘n spesifieke rigting lei, dan bid ons weer daaroor. Ons vra Hom ook om, as ons iewers misverstaan en op die verkeerde pad is, ons terug te bring na die regte pad.

VERSE VIR BYBELSTUDIE: Mattheus 7:7-11; Filippense 4:6-8; 1 Thessalonisense 5:17; Johannes 15:7; Genesis 24:12-14; Jesaja 38:1-16; 1 Samuel 1:10-11; Psalm 28:1-9.

BID VIR ANDER.

In die Bybel lees ons ‘n hele paar keer van een persoon wat vir ‘n ander gebid het. Dis omdat dit God se wil is dat ons vir mekaar intree.

Wanneer ons bid, moet ons dus nie net vir onsself bid nie, maar ook vir andere.

Almal van ons het min of meer dieselfde behoeftes. Ons het almal byvoorbeeld God se hulp, leiding, voorsiening en beskerming nodig. Daarom kan ons, selfs al weet ons nie wat iemand se spesifieke behoeftes is nie, vir mense in die algemeen voorbidding doen.

En, as ons weet wat iemand spesifiek nodig het, kan en moet ons natuurlik ook daarvoor bid.

VERSE VIR BYBELSTUDIE: Efesiërs 6:18; 1 Thessalonisense 5:25; Mattheus 5:44; Handelinge 7:60; Hebreërs 13:18-19; 1 Johannes 5:16.

WEES STIL EN LUISTER.

As daar nou een element van gebed is wat meeste van ons van vergeet, dan is dit om stil te wees en te luister. Hoewel gebed is om met God te praat, is dit ook om na Hom te luister.

Dit is dus belangrik om iewers in jou gebedstyd vir ‘n rukkie stil te bly en te luister.

As jy nie gewoond is daaraan om dit te doen nie, gaan jy dalk aan die begin ongemaklik raak. Jy gaan dalk ook nie veel hoor nie. Maar moenie moed opgee nie. Doen dit elke keer wat jy bid. Vra die Here om met jou te praat en om jou te help om te hoor wat Hy sê.

Dis ‘n goeie idee om ‘n notaboekie en pen byderhand te hou en neer te skryf wat jy hoor. Aan die begin gaan jy dalk alles wat in jou gedagtes opkom, neerskryf, en dis goed so. Jy kan dan agterna met die Here daaroor praat en Hom vra om jou te wys watter van daardie gedagtes van Hom af kom. Later van tyd gaan jy makliker kan onderskei watter gedagtes van Hom is, en jy sal dan net daardie neerskryf.

VERSE VIR BYBELSTUDIE: Johannes 10:27; Jesaja 30:21; Johannes 16:13.

AMEN.

As kinders is ons geleer dat ‘n mens jou gebede eindig met die woord ‘amen’.

Dis ‘n Hebreeuse woord wat basies beteken: Laat dit so wees. So wanneer ons ons gebed eindig met ‘amen’ is dit nie sommer ‘n stopwoord of ‘n aanduiding dat ons nou klaar gebid het nie. Nee, dis ‘n bevestiging van ons gebede.

VERSE VIR BYBELSTUDIE: Romeine 15:33; Galasiërs 6:18; Filippense 4:23; Openbaring 22:20-21.

Gebed is ‘n voorreg, wat ons nie sommer ligtelik moet opneem nie. Dis ook deel van God se wil vir ons, dat ons moet bid. Daarom het Hy die Onse Vader vir ons laat opteken, sodat ons kan sien wat die elemente van gebed is en dit gebruik wanneer ons bid.

Ek wil jou aanmoedig om hierdie elemente te gebruik wanneer jy bid. Dit sal jou help om te groei in jou verhouding met God, in jou geloof en in jou geestelike lewe.

Deel hierdie blad

1 comment

  1. Baie dankie dat julle God se woord so aan ander oorgee. Mag julle geseend word vir dit.
    Baie dankie

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *