
Ons is steeds besig om te gesels oor Jesus se laaste woorde aan Sy dissipels, spesifiek oor dit wat Hy vir hulle in Johannes 14 gesê het. Die dissipels was ontsteld oor sommige van die dinge wat Jesus reeds vir hulle gesê het en daarom begin Hy deur vir hulle te sê dat hulle nie ontstelde harte moet hê nie. Dan gee Hy vir hulle ses ankers waaraan hulle kan vashou, want onthou, die kruisiging lê nog voor en dit kon hulle nog meer ontstel het.
Hierdie ankers was nie net bedoel vir die dissipels nie, maar is ook daar vir ons om aan vas te hou wanneer dinge moeilik gaan en dit lyk asof alles rondom jou in duie stort.
Die anker waaroor ons vandag gaan gesels, is die anker van die Vader se liefde.
Maar voor ons daaroor gesels, kom ons lees eers wat Jesus daaroor sê.
JOHANNES 14:19-24.
“Nog net ‘n klein rukkie, en dan sien die wêreld My nie meer nie, maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe.
Daardie dag sal julle weet dat Ek in my Vader is en julle in My en Ek in julle.
Wie my opdragte het en dit uitvoer – dit is hy wat My liefhet. En wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar.”
Judas, nie Judas Iskariot nie, vra toe vir Hom: “Here, hoe kom dit dat U U aan ons gaan openbaar en nie aan die wêreld nie?”
Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.
Wie My nie liefhet nie, neem my woorde nie ter harte nie; en die woorde wat julle hoor, is nie Myne nie, maar die Vader s’n wat My gestuur het.”
DIE VADER BEWYS SY LIEFDE.
As jy Johannes 14:19-24 in konteks gaan lees, sal jy sien in vers 18 staan: “Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe.”
‘n Weeskind is iemand wat gewoonlik voel dat niemand hom wil hê nie en niemand vir hom lief is nie. Maar Jesus kom verseker ons dat Hy ons nie as weeskinders sal agterlaat nie, met ander woorde, ons is nie mense waarvoor God nie lief is nie en wat Hy nie wil hê nie.
Inteendeel, Hy het Sy liefde vir ons op soveel maniere kom wys dat ons eintlik nie daaraan hoef te twyfel dat Hy ons liefhet en dat Hy ons gekies het om deel van Sy familie te wees nie.
Jesus verduidelik in die gedeelte wat ons netnou gelees het, drie manifestasies van die liefde van God.
DIE VADER SE LIEFDE EN DIE DISSIPELS.
Die eerste manifestasie van die Vader se liefde sien ons in Jesus se opstanding en Sy verskyning aan die dissipels en ander gelowiges. Dis waarna Jesus verwys in vers 20.
Die laaste keer wat die wêreld vir Jesus gesien het, was toe Josef en Nikodemus Hom van die kruis afgehaal en gaan begrawe het. En die volgende keer wat die wêreld Hom sal sien, is wanneer Hy terugkom om verlore sondaars te oordeel.
Die Heilig Gees het gekom om alle gelowiges saam te verenig in Christus, die Hoof van die Kerk. Ons het nie, soos die dissipels, vir Jesus gesien na Sy opstanding nie, maar deur die Heilge Gees is ons een met Hom.
DIE VADER SE LIEFDE VIR ONS.
Sleutelwoorde is baie belangrik in die verstaan van die Bybel. ‘n Sleutelwoord is ‘n woord wat oor en oor in ‘n gedeelte herhaal word. In die verse wat ons vandag gelees het, word ‘liefhet’ en ‘liefhê’ ‘n paar keer herhaal.
Jesus sê as ons Hom liefhet, sal ons Hom gehoorsaam. Maar om Hom te gehoorsaam, moet ons in die eerste plek weet wat Hy gesê het. Daarom is dit belangrik dat ons Sy Woord gereeld lees en studeer, sodat ons weet waaraan ons gehoorsaam moet wees.
As ons weet wat Jesus gesê het en ons is gehoorsaam aan Sy woorde, dan sal Hy en die Vader na ons toe kom en by ons woon. Jy sien, wanneer ‘n sondaar vir Jesus vertrou as Verlosser, dan word hy weergebore en die Heilige Gees kom dadelik en vul hom met Sy Teenwoordigheid en getuig saam met sy gees dat hy ‘n kind van God is (Romeine 8:16).
Ons het in die vorige artikel gesien die Heilige Gees het gekom om te bly. Hy sal ons nooit verlaat nie. Maar ons het ook ‘n deel wat óns moet doen. Ons moet ons onderwerp aan die Vader, die Woord liefhê en dit gehoorsaam en ons moet bid. Hoe meer ons dit doen, hoe dieper en intiemer gaan ons verhouding met die Vader, die Seun en die Heilige Gees word.
Iemand het gesê verlossing beteken ons gaan hemel toe; om ons aan God te onderwerp beteken die hemel kom na ons toe!
Ons ondervinding met God moet dus heeltyd besig wees om dieper te gaan. Dis sal gebeur as ons ons onderwerp aan die Heilige Gees en Hom toelaat om ons te lei en te leer. As ons God liefhet en Hom gehoorsaam, dan sal ons Sy liefde elke dag meer en meer ervaar.
DIE VADER SE LIEFDE EN DIE TOEKOMS.
Jesus se woorde verwar vir Judas, nie Judas Iskariot nie, so ‘n bietjie. Hy onthou dinge wat Jesus voorheen gesê het en nou lyk dit vir hom asof Jesus besig is om Homself te weerspreek (kyk byvoorbeeld na Mattheus 24:30). Daarom vra hy: “Here, hoe kom dit dat U U aan ons gaan openbaar en nie aan die wêreld nie?” Sou die plan wat God gehad het dan nou intussen verander het?
Jesus se eie mense, die volk van Israel, het Hom verwerp. Hy kon Homself dus nie aan hulle openbaar nie. En Hy kon Hom nie op daardie stadium aan die wêreld openbaar nie, want dit sou die oordeel beteken het. Maar Hy het Homself aan die kerk openbaar. En Hy het die kerk hier op aarde agtergelaat om God se liefde teenoor die wêreld uit te leef.
Daar gaan ‘n dag kom wat Jesus terugkom en wat die hele wêreld Hom gaan sien en gaan erken dat Hy God is. Maar solank as wat dit nog nie gebeur het nie, het ons die geleentheid om God se liefde aan mense bekend te maak deur dit teenoor hulle uit te leef. Ons moet daardie geleentheid met albei hande aangryp.
‘N ANKER VIR ‘N ONTSTELDE HART.
Wanneer jy weer ‘n ontstelde hart het of soos ‘n weeskind voel, laat die Heilige Gees toe om die liefde wat die Here vir jou het, op ‘n dieper manier aan jou bekend te maak.
Word net stil by Hom en maak jou hart oop vir Hom. Hy sal die res doen.
JOU AKSIESTAP VIR DIE WEEK.
Jesus het gesê as ons Hom liefhet, sal ons Sy woorde gehoorsaam. Maar hoe kan ‘n mens gehoorsaam wees as jy nie weet wat Hy gesê het nie?
Om uit te vind wat die Here gesê het, is een van die redes waarom dit belangrik is om elke dag tyd saam met Jesus in die Woord te spandeer. As jy nog nie ‘n gereelde stiltetyd het nie, dan wil ek jou uitdaag om sommer hierdie week tyd in jou skedule in te ruim om daarmee te begin.
En as jy hulp nodig het daarmee, kyk dan gerus na Die Stiltetyd Skatkis, wat in ons aanlyn-winkel beskikbaar is. In dié skatkis is daar drie e-gidse wat jou gaan help om te begin om gereeld tyd met Jesus te spandeer. So, maak sommer nou ‘n draai en kry jou Stiltetyd Skatkis.

VORIGE ARTIKELS IN DIE REEKS.
Lees die vorige artikels in hierdie reeks:
