DIE VOORREG OM TE KAN BID

Die voorreg om te kan bid

Ons is besig met ‘n reeks geselsies oor Johannes 14. Dit is van Jesus se laaste woorde aan Sy dissipels voor Sy kruisiging, so dis verseker belangrike woorde waaruit ons baie kan leer.

Johannes 14 begin en eindig met die idee dat ons harte nie ontsteld moet wees nie. Ek weet nie van jou nie, maar ek sien soveel dinge in die lewe en in die wêreld wat kan veroorsaak dat ‘n mens se hart ontsteld raak. Gelukkig gee Jesus vir die dissipels, en ook vir ons, ses dinge wat soos ankers is waaraan ons kan vashou wanneer die lewe moeilik raak.

Die eerste anker wat Jesus gegee het, is die waarheid dat almal wat kinders van God is, hemel toe gaan.

Die tweede anker is die waarheid dat ons nie hoef te wag tot ons in die hemel is voor ons die Vader kan leer ken nie, maar dat ons Hom nou al kan ken.

Vandag se anker het met gebed te doen – die voorreg om te kan bid – so kom ons gesels daaroor.

ANKER 3: JY HET DIE VOORREG DAT JY KAN BID.

Voor ons gesels oor wat ons uit die gedeelte kan leer, kom ons lees dit eers.

Johannes 14:12-15:

Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan.
Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word.
As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.
As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer.

BRING DIT NA JESUS.

In hierdie paar verse gee Jesus vir ons die anker van gebed. Hy nooi ons uit om enige iets na Hom toe te bring en om dan ook te verwag dat Hy ons gebede gaan antwoord.

Dis waar dat ons gebede nie altyd beantwoord word soos ons gehoop het nie, maar net omdat dit nie gebeur soos ons gedink het dit gaan nie, beteken nie God antwoord nié.

Ongelukkig is die tweede deel van vers een van die lied, Wat ‘n Vriend Het Ons In Jesus, in baie gevalle waar van ons:

Hoe verbeur ons tog die vrede,
Ag hoe dikwels ly ons smart;
Net omdat ons nie ons node
Uitstort in Gods Vaderhand.

Ons gebede word baie keer nie beantwoord nie juis omdat ons hulle in die eerste plek nooit bid nie! Om die anker van gebed dus ‘n ware anker in ons lewens te maak, gaan van ons vra dat ons regtig alles na God toe bring in gebed.

Maar in hierdie verse gee Jesus ook vir ons sekere voorwaardes waaraan ons moet voldoen wanneer ons ons probleme en behoeftes in gebed na Hom toe bring. Hierdie voorwaardes is nie negatief nie, maar is elkeen op hulle eie ‘n voorreg en ‘n seën.

VOORWAARDE 1: BID IN GELOOF.

Die eerste voorwaarde kry ons in vers 12, waar Jesus sê ‘wie in My glo’.

Baie mense in hierdie wêreld bid. Sommige bid selfs meer as een keer op ‘n dag. Maar nie almal glo in Jesus nie en daarom bid nie almal deur Hom tot die Vader nie.

En as jy nié deur geloof in Jesus tot God die Vader in gebed nader nie, is jou gebede heeltemal nutteloos.

Jesus verseker ons egter dat dié wat in Hom glo, wat daarom deur geloof in Hom tot die Vader nader, se gebede gehoor word. En hulle word nie net gehoor nie, hulle word ook verhoor.

Ons lees dieselfde belofte in 1 Johannes 5:14, waar Johannes ons versekering dat die Vader ons gebede verhoor wanneer ons volgens Sy wil bid.

Nou wonder jy dalk, “Ja, maar hoe weet ek wat is God se wil sodat ek daarvolgens kan bid?” Dis eintlik baie eenvoudig. God het Sy wil vir ons in Sy Woord laat opteken. Wanneer ons dus weet wat die Woord sê, dan weet ons ook wat God se wil is.

AS DIE BYBEL NIE DAAROOR PRAAT NIE.

Maar wat nou gemaak met dié dinge waaroor God nié in die Woord praat nie? Hy sê byvoorbeeld nie vir ons in die Bybel met wie ons moet trou, wat se werk ons moet doen, waar ons moet bly, ensovoorts nie.

Vir daardie dinge is daar ook ‘n eenvoudige antwoord. In Jakobus 1:5 lees ons dat ons, wanneer ons wysheid kortkom, dit van God moet vra, wat dan vir ons die nodige wydheid sal gee.

Wanneer jy dus nie weet wat God se wil omtrent ‘n situasie is nie, vra vir Hom om vir jou wysheid daaroor te gee.

Onthou ook dat die Heilige Gees vir ons intree, want ons weet nie altyd mooi waarvoor ons behoort te bid nie (Romeine 8:26). Ons kan dus op Hóm vertrou om God se wil namens ons te bid, wanneer ons self nie seker is wat Sy wil is nie.

VOORWAARDE 2: BID IN DIE NAAM VAN JESUS.

Baie van ons dink dat, as ons aan die einde van ons gebede net byvoeg, ‘Ek bid dit in die Naam van Jesus’, dat ons daarmee seker maak ons gebede gaan beanwoord word.

Maar om in die Naam van Jesus te bid beteken dat ons dié dinge vir die Vader vra wat Jesus vir Hom sou vra. Ons sou vra vir Sy wil, vir dit wat Hom verheerlik en wat Sy Koninkryk laat uitbrei.

Wanneer Jesus sê wat ons ookal in Sy Naam vra sal Hy doen, dan gee Hy ons nie carte blanche, dat ons nou maar vir enige iets onder die son kan vra en dit kry nie. Nee, die feit dat ons in Sy Naam vra, is belangrik.

Net soos ons God se wil deur Sy Woord leer ken, leer ons Hom ook Sy Name deur die Woord ken. En Sy Name leer weer vir ons meer oor Sy karakter – wie Hy is en wat Hy doen.

God antwoord altyd gebede wat Sy Naam eer en verheerlik. Enige iets wat dus nié Sy Naam gaan eer en verheerlik nie, moenie in Sy Naam gevra word nie. Ons moet ook nie verwag dat daardie gebede verhoor gaan word nie.

VOORWAARDE 3: BID IN GEHOORSAAMHEID.

Die laaste voorwaarde kry ons in vers 15, wat sê: “As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer.”

Nie alles wat ons van God vra, gaan ons kry sonder dat ons ook van ons kant af iets moet doen nie. Soms gaan God vir ons iets gee om te doen om ons op die regte plek of in die regte posisie of die regte hartspostuur te kry om dit wat Hy wil gee, te ontvang. Wanneer dít gebeur, moet ons aan die opdrag gehoorsaam wees.

Dit kan ook gebeur dat ons vir iemand anders bid, en dan gee die Here vir óns iets om te doen sodat Hy die gebed kan beantwoord deur ons op een of ander manier te gebruik. Ook in hierdie geval moet ons gehoorsaam wees.

Iemand het op ‘n keer gesê ‘n mens moet soms bid en spit. Daarmee het hy probeer sê dat ons moet bid, en wanneer die Here na aanleiding van ons versoek vir ons iets gee om te doen, dan moet ons gehoorsaam wees.

MAAK IN ALLES JOU VERSOEKE AAN GOD BEKEND.

Ek het netnou genoem dat daar soveel dinge is waaroor ‘n mens jou kan bekommer en wat kan veroorsaak dat jou hart ontsteld raak.

Maar in Filippense 4:6 lees ons dat ons oor niks bekommerd moet wees nie, maar in alles ons versoeke deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend moet maak.

Gebed is ons anker wanneer dinge moeilik raak en ons harte benoud en ontsteld is.

Gebed hou ons oë op God gerig, want ons weet dis van Hom alleen waar ons hulp vandaan kom.

En gebed gee ons die geleentheid om alles wat ons ontstel en bang maak, in God se hande te plaas en Hom in geloof te vertrou om dit te hanteer op ‘n manier wat Sy Naam gaan verheerlik.

JOU AKSIESTAP VIR DIE WEEK.

Hierdie week wil ek jou uitdaag om regtig alles in jou lewe na die Here toe te bring.

Stort jou hart voor Hom uit. Hy weet in elk geval wat in jou hart en lewe aangaan, maar dis belangrik dat jy met Hom daaroor praat.

Onthou, jy kan nie ‘n antwoord op gebed verwag as jy in die eerste plek nie bid nie!

Bid in geloof, met die vertroue dat die Here jou hoor.

Bid in die Naam van Jesus en vra vir dié dinge wat jy weet volgens Sy wil is en wat Hom gaan verheerlik.

En as Hy jou ‘n opdrag gee, wees daaraan gehoorsaam. Jy is immers lief vir Hom en Jesus sê as jy Hom liefhet, sal jy Sy opdragte uitvoer!

En as jy enigsins nog hulp met gebed nodig het, loer dan gerus in ons aanlyn-winkel na ons gebedsgids, Hart Tot Hart. In dié gids gaan jy die basiese beginsels van gebed leer.

Dié beginsels is nie net belangrik vir iemand wat nog nie veel gebid het en ‘n gebedslewe wil begin nie.

Dis ook belangrik vir almal wat al lank bid, want dis op die basiese beginsels wat ons ons gebedslewens bou en wat ons gebruik om ons gebedslewens te laat groei.

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *