JY KEN GOD DIE VADER

Jy ken God die Vader

Ons is besig met ‘n reeks geselsies oor Johannes 14. Dié gedeelte begin en eindig met die idee dat ons harte nie ontsteld moet wees nie.

In die vorige artikel het ons gesien dat die dissipels ontsteld was omdat Jesus vir hulle gesê het Hy gaan weg, dat een van hulle hom gaan verraai en dat Petrus Hom gaan verloën.

Dan het hulle boonop ‘n klomp vrae gehad waarop hulle op daardie stadium nie antwoorde gehad het nie. Dis dus te verstane dat hulle ontsteld was!

Maar Jesus gee vir hulle ses dinge om hulle gerus te stel sodat hulle harte nié meer bang en ontsteld is nie. Dié ses dinge was soos ‘n anker waaraan hulle kon vashou in die moeilike tye wat voorgelê het.

Elkeen van die dinge is ook vir ons as kinders van God ‘n anker wat ons kan vasgryp in tye van onsekerheid. Die eerste anker is die feit dat ons, omdat ons in Jesus glo, hemel toe gaan. Vandag gaan ons dan nou ook gesels oor die tweede anker.

ANKER 2: JY KEN GOD DIE VADER NOU AL.

Voor ons gesels oor wat ons uit hierdie gedeelte kan leer, kom ons lees dit eers.

Johannes 14:7-11:

“As julle My ken, sal julle my Vader ook ken. En van nou af ken julle Hom en sien julle Hom.”
Toe sê Filippus vir Hom: “Here, wys vir ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.”
En Jesus sê vir hom: “Ek is al so lank by julle, en ken jy My nie, Filippus? Wie My sien, sien die Vader. Hoe kan jy dan sê: ‘Wys vir ons die Vader’?
Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek met julle praat, praat Ek nie uit my eie nie; maar dit kom van die Vader wat in My bly en sy werke doen.
Glo in My omdat Ek in die Vader is en die Vader in My; of anders, glo op grond van die werke self.”

VERSKILLENDE VLAKKE VAN ‘KEN’.

In Johannes 14:7 lees ons hierdie woorde van Jesus: “As julle My ken, sal julle My Vader ook ken. En van nou af ken julle Hom en sien julle Hom.”

Johannes gebruik die woord ‘ken’ omtrent 141 keer in sy Evangelie, maar dit beteken nie elke keer dieselfde ding nie. Volgens Johannes is daar vier vlakke van ‘ken’. Die eerste vlak is om bewus te wees van ‘n feit. Die volgende vlak is om die waarheid agter die feit te verstaan. ‘n Mens kan egter bewus wees van ‘n feit en ook die waarheid daaragter verstaan en steeds verlore wees in jou sonde.

Dan is daar die derde vlak van ‘ken’. Hierdie vlak dui op verhouding. Hier beteken ‘ken’ om in ‘n persoon te glo en familie te word van hom of haar. Dit is hoe die woord ‘ken’ in Johannes 17:3 gebruik word. Dis ook hoe die woord ‘ken’ in die Bybel gebruik word wanneer daar verwys word na die intieme verhouding tussen ‘n man en vrou.

En dan is daar die vierde vlak van ‘ken’, wat beteken om ‘n dieper verhouding, ‘n dieper gemeenskap met iemand te hê. Paulus praat van hierdie vlak van ‘ken’ in Filippense 3:10. Jesus beskryf ook hierdie vlak van ‘ken’ in Johannes 14:19-23.

OM DIE VADER TE KEN.

Toe Filippus hoor dat hulle die Vader ken en sien wanneer hulle vir Jesus ken en sien, is daar net een ding wat hy vra: “Here, wys vir ons die Vader.” Sy begeerte was om God die Vader beter te leer ken.

Ek en jy moet hierdie selfde begeerte hê. Dis juis omdat ons die Vader beter wil leer ken, dat ons die Bybel lees en studeer. Dis in die Woord van God waar ons die God van die Woord beter leer ken!

In antwoord op Filippus se woorde, vra Jesus hom: “Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie?” Die manier hoe hierdie vraag in Grieks gestel is, wys vir ons dat Jesus verwag het Filippus moet ‘ja’ antwoord. As Filippus dít geglo het, dan het hy verstaan dat Jesus se woorde en alles wat Hy gedoen het, van die Vader af gekom het en ook die Vader aan hulle bekendgemaak het.

Ek en jy het nooit vir Jesus in die vlees gesien nie, maar ons sien Hom en dit wat Hy doen in die Woord. Die waarheid is dat ons nooit Jesus se woorde en werke van mekaar kan skei nie, want altwee kom van die Vader en maak Hom aan ons bekend.

GLO EN BLY GLO.

Die Griekse woord ‘glo’ in vers 10 is ‘n enkelvoudige woord. Dit beteken hier praat Jesus spesifiek met Filippus. Maar dan gebruik Hy in vers 11 die meervoudige woord, wat beteken Hy praat met al die dissipels. Albei woorde dra egter die idee van iets wat aanhou – met ander woorde, hou aan glo!

Hierdie woorde van Jesus is dus op jou en my ook van toepassing. Ons moet tyd in die Woord spandeer, sodat ons die Vader beter kan leer ken en sodat ons geloof in Hom kan groei.

JOU HART HOEF NIE ONTSTELD TE WEES NIE.

Vierhonderd jaar voor Jesus se geboorte het Plato geskryf dat dit ‘n amper onmoontlike taak is om die Vader en Skepper van die heelal te leer ken. Maar hy was verkeerd, want Jesus het Hom aan ons bekendgemaak. Ons kan reeds hier op aarde God die Vader leer ken, deel word van Sy familie en ‘n intieme verhouding met Hom bou. En dít is ‘n anker waaraan ons kan vashou wanneer die lewe druk en dit lyk of alles rondom ons in duie stort.

Die Skepper van die heelal, die Een wat in beheer is van alles, is ons eie Vader deur ons geloof in Jesus. Ons hoef dus nie onstelde, bang harte te hê nie, want ons ken Hom reeds hier en nou as Vader en deur Jesus behoort ons aan Hom vir altyd.

JOU AKSIESTAP VIR DIE WEEK.

Ek het netnou genoem dat ons die Woord van God lees en studeer sodat ons die God van die Woord beter kan leer ken. Jou aksiestap vir hierdie week is om gereeld tyd met Jesus in die Woord te spandeer. Laat Hom toe om die Woord te gebruik om die Vader aan jou bekend te maak sodat jy Hom nie net beter kan leer ken nie, maar sodat jou geloof in Hom ook kan groei.

As jy hulp nodig het daarmee om te begin om tyd met Jesus te spandeer, kyk dan gerus na die Stiltetyd Skatkis, wat in ons aanlyn-winkel beskikbaar is.

In hierdie skatkis kry jy drie e-gidse wat jou gaan help om stil te word by Jesus se voete, die VOLG-metode te gebruik om te hoor wat Hy deur Sy Woord vir jou wil sê en om met Hom in gebed te praat.

Maak dus sommer vandag nog ‘n draai in die aanlyn-winkel, kry jou Stiltetyd Skatkis en begin om gereeld tyd met Jesus te spandeer.

stiltetyd skatkis
Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *