DIE GESKENK VAN VREDE

die geskenk van vrede

Ons is besig met ‘n reeks oor die laaste woorde wat Jesus vir Sy dissipels gesê het voor Hy gekruisig is, spesifiek dit wat Hy in Johannes 14 gesê het. As jy die vorige artikels in die reeks gelees het, sal jy weet dat die dissipels ontsteld was oor dinge wat Jesus vir hulle gesê het.

Maar Jesus sê vir hulle dat hulle harte nie ontsteld moet wees nie. Dié idee is soos twee boekstutte, want die hoofstuk begin en eindig daarmee. En in die middel gee Jesus vir hulle, en vir ons, ses ankers om aan vas te hou wanneer die lewe moeilik raak.

As ons aan hierdie ankers vashou, sal ons rustige en kalm harte in plaas van ontstelde harte hê.

Die eerste anker is die feit dat ons, as kinders van God, die versekering het dat ons gered is en hemel toe gaan.

Anker twee is die wete dat ons die Vader ken, reeds in die hier en nou.

Die derde anker is die feit dat ons die voorreg het om tot die Vader te bid.

Anker nommer vier is die waarheid dat ons nooit alleen is nie, want ons het die Heilige Gees in ons en Hy het gekom om te bly.

Die vyfde anker, waaroor ons verlede keer gesels het, is die anker van die Vader se liefde vir ons.

Vandag kom ons dan by die laaste anker, naamlik die geskenk van vrede wat Jesus vir ons gegee het.

Voor ons egter daaroor gesels gaan ons eers lees wat Jesus daaroor gesê het.

JOHANNES 14:25-31.

“Dit sê Ek vir julle terwyl Ek nog by julle bly;
en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.
Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.
Julle het gehoor dat Ek vir julle gesê het: Ek gaan weg, maar Ek kom weer na julle toe. As julle My liefgehad het, sou julle bly gewees het dat Ek na die Vader toe gaan, omdat die Vader groter as Ek is.
En nou sê Ek dit vir julle voordat dit gebeur, sodat julle kan glo wanneer dit gebeur.
Ek sal nie meer lank met julle kan praat nie, want die owerste van die wêreld is aan die kom. Hy het geen mag oor My nie,
maar die wêreld moet weet dat Ek die Vader liefhet en daarom doen wat die Vader My beveel het. Staan op, laat ons hiervandaan weggaan.”

HOE ‘N JOOD ‘VREDE’ VERSTAAN.

Shalom is die Hebreeuse woord vir ‘vrede’. Dis ‘n spesiale woord, want dit beteken meer as net die afwesigheid van oorlog of beproewing. Vir ‘n Jood beteken die woord Shalom heelheid, gesondheid, sekuriteit en selfs voorspoed.

Wanneer jy dus God se vrede ervaar, dan is daar vreugde en ‘n sin van tevredenheid in jou lewe.

GOD SE VREDE TEENOOR DIE VREDE VAN DIE WêRELD.

In die gedeelte hierbo lees ons dan ook dat Jesus sê die vrede wat Hy gee, is anders as die vrede wat die wêreld gee. Die wêreld grond sy vrede op hulpmiddele en besittings. God se vrede het te doen met verhouding, want as ons in ‘n verhouding met Hom is, dan sal ons Sy vrede ervaar.

Die wêreld fokus op dit waartoe ‘n mens in staat is, dit wat jy kan doen. ‘n Christen vertrou dat Christus vir hom genoeg is. Hy weet dat hy nie nodig het om allerhande dinge te doen en te bereik voor God hom aanvaar nie. Nee, hy word aanvaar omdat hy in Christus is.

Mense wat nog nie vir God ken nie werk vir vrede of hoop maar dat daar op een of ander manier vrede gaan wees. Die gelowige, daarenteen, aanvaar in geloof die vrede wat God gee as ‘n geskenk uit Sy hand.

‘n Ongelowige ervaar vrede wanneer alles in sy lewe maanskyn en rose is. Die gelowige ervaar God se vrede, deur die Heilige Gees, ongeag die omstandighede waarin hy hom bevind.

Die Gees leer ons die Woord en lei ons in die waarheid. Hy herinner ons ook aan dit wat Hy ons voorheen geleer het, sodat ons daaraan kan vashou wanneer die lewensstorms om ons woed. Hy gebruik die Woord om ons Sy vrede, Sy liefde, en Sy vreugde te gee (Johannes 14:27; Johannes 15:9-10; Johannes 15:11).

En as dit nie ‘n ontstelde hart kan kalmeer nie, dan sal niks dit kan doen nie!

JESUS ALLEEN GEE VREDE.

Jesus het altyd ten volle vrede gehad. Hy het nooit toegelaat dat die vyand, die mense rondom Hom, die wêreld, of die omstandighede waarin Hy Hom bevind het, Sy vrede steel nie.

Hy was altyd in beheer van elke situasie en Hy stel ons ook in staat om selfbeheersing te hê wanneer ons ons aan Hom onderwerp en Sy vrede, wat Hy in Sy groot genade vir ons nagelaat het, in geloof aanvaar.

JOU AKSIESTAP VIR DIE WEEK.

Ek het netnou genoem dat die vrede van die wêreld gegrond is op dit wat jy besit en die hulpmiddele wat jy tot jou beskikking het. Dalk het jy nog altyd ook gedink dat jy meer vrede sal hê as jy net meer geld, meer goed, ‘n beter werk, ensovoorts het. Maar dis nie op hierdie uiterlike dinge waarop die vrede van God gegrond is en waaruit dit bestaan nie.

Vandag wil ek jou uitdaag om stil te word by die Here en stadig deur Johannes 14:25-31 te werk, sodat Hy jou meer oor Sy vrede kan leer. Soek ook ander Bybelverse oor God se vrede en werk daardeur.

Jy kan sommer die VOLG-metode daarvoor gebruik, want dis ideaal vir kort gedeeltes. Die stappe van dié metode is ook nie moeilik om te volg nie en sluit in dat jy die Here vra om met jou te praat en jou te leer.

As jy meer oor die metode wil weet, maak dan ‘n draai in ons aanlyn-winkel en kyk na Jesus, Die Bybel, En Jy. Dis ons VOLG-gids wat jou alles gaan leer wat jy oor die metode moet weet sodat jy dit in jou stiltetyd of Bybelstudietyd kan gebruik.

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *