12 BYBELVERSE OOR GOD SE SEëN

Bybelverse oor God se seën

God se seën is oral om ons sigbaar – ons moet net begin om dit raak te sien. Hierdie 12 Bybelverse sal jou herinner aan die goedheid van God.

‘n Man het ‘n ondersteuningsgroep begin bywoon. Elke week wanneer die groep bymekaar gekom het, is hulle gevra om ‘n paar dinge op te noem waarvoor hulle dankbaar was. Dit kon iets wees soos ‘n geskenk wat iemand onverwags gegee het, of ‘n gesellige aand saam met die familie by ‘n gunsteling restaurant.

Maar dit kon ook klein dingetjies wees, wat meeste mense nie eens raaksien of waardeer nie. Dinge soos ‘n goeie nag se rus, die son wat elke oggend opkom of ‘n bemoedigende woord van ‘n geliefde.

Die doel daarmee was om die mense bewus te maak van al die goeie dinge in hulle lewens; dinge wat ons baie keer as vanselfsprekend aanvaar.

Daar is baie dinge wat ons as kinders van God as vanselfsprekend aanvaar. Dit veroorsaak dat ons nie meer God se goedheid en genade in ons lewens raaksien nie. Dit is dus goed as ons so nou en dan herinner word aan alles wat God vir ons gedoen het en gegee het, en steeds doen en gee.

Hier is 12 Bybelverse om jou daaraan te herinner.

JEREMIA 17:7-8.

Dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel, die mens vir wie die Here ‘n veilige vesting is; so iemand is soos ‘n boom wat by water geplant is en sy wortels na die stroom toe uitstoot, nie die hitte voel as dit kom nie en altyd groen blare het; ‘n droë jaar raak hom nie en hy hou nie op om vrugte te dra nie.

PSALM 34:8-9.

Die Engel van die Here slaan sy laer op rondom dié wat die Here dien, en red hulle. Kom ondervind en sien self dat die Here goed is! Dit gaan goed met die mens wat by Hom skuil.

MATTHEUS 6:31-33.

Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

JOHANNES 3:16-18.

God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.

JAKOBUS 1:16-18.

Moenie julleself mislei nie, my liewe broers. Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader wat die hemelligte geskep het, maar wat self nie soos hulle verander of verduister nie.

PSALM 1:1-3.

Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie, maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink. Hy is soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak.

PSALM 103:1-5.

Ek wil die Here loof, met alles wat in my is, wil ek sy heilige Naam loof. Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie. Dit is Hy wat al my sonde vergewe, wat al my siekte genees, wat my red van die graf en my met liefde en ontferming kroon, wat my die goeie in oorvloed laat geniet, my die jeugdige krag van die arend skenk.

PSALM 103:8-12.

Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde. Hy sal ons ons sonde nie bly toereken en nie vir ewig toornig bly nie. Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie, vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie, want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien. So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.

PSALM 103:13.

Soos ‘n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien.

EFESIëRS 2:8-10.

Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.

1 PETRUS 4:6-7.

Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het. Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.

2 KORINTHIëRS 9:8-9.

En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk. Daar staan ook geskrywe: “Hy deel uit en gee aan die armes; hy bly altyd vrygewig.”

Is daar nog Bybelverse waaraan jy kan dink, wat ons herinner aan God se seën – die goeie wat Hy vir ons gee en doen? Deel met ons in die kommentaar hieronder.

Deel hierdie blad

2 comments

  1. Geseen is jy vir al jou harde werk. Dis n plesier om elke Woensdag jou boodskap te ontvang. Ek sou graag meer weet, hoe weet ek ek het die Heilige Gees. Kan jy eendag daaroor gesels asseblief. Mag jy n lekker dag verder he. Seen bede.

    1. Ellen, dankie vir jou mooi boodskap. Ek het jou vraag oor die Heilige Gees neergeskryf sodat ek een of ander tyd daaroor kan gesels.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *