
Ons leef in ‘n tyd waar baie mense bang en bekommerd is. Maar wat sê die Bybel oor bekommernis? Hoe moet ons dit hanteer?
KOMMER OOR JOU LEWE.
In Mattheus 6:24-34 praat Jesus met ons oor die basiese dinge wat elke mens in sy lewe nodig het – kos, water en klere.
In vers 25 staan daar: “Daarom sê Ek vir julle, moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle sal eet, of oor wat julle sal drink, of oor julle liggaam, wat julle sal aantrek nie. Is die lewe dan nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie?”
In hierdie vers sê Jesus baie duidelik vir ons dat ons ons nie moet bekommer oor die basiese dinge nie. Hy herhaal hierdie opdrag weer in vers 31 en ook in vers 34:
“Moet julle daarom nie bekommer en vra, ‘Wat sal ons eet?’ of ‘Wat sal ons drink?’ of ‘Wat sal ons aantrek?’ nie” (vs.31).
“Moet julle dus nie bekommer oor die dag van môre nie, want môre sal hom oor homself bekommer. Elke dag het genoeg van sy eie kwaad” (vs.34).
En dan voeg Hy by: “Dit is immers alles dinge waarna die heidennasies soek. Julle hemelse Vader weet tog wat julle alles nodig het” (vs. 32).
Wat sê die Bybel oor bekommernis?
Moet jou nie bekommer oor die basiese dinge wat jy nodig het om van te leef nie. Dis dinge waaroor mense, wat nie vir God ken nie, bekommerd is en al hulle kragte inspan om te kry.
Die Vader weet ons het hierdie dinge nodig. Hy het ons immers so geskep, dat ons moet eet en drink om te leef. En daarom sal Hy sorg dat ons het wat ons nodig het.
WAT MOET ONS DOEN?
Jesus beveel ons nie net om ons nie te bekommer nie.
Hy sê ook vir ons wat ons wel moet doen.
In vers 33 staan: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”
In Romeine 14:17 lees ons die definisie van die koninkryk van God.
Daar staan: “Die koninkryk van God is tog nie ‘n saak van kos en drank nie, maar van geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees.”
Ons moet dus nie bekommerd wees oor ons basiese behoeftes nie. Ons fokus moet nooit wees op al die dinge wat ons kan doen om te sorg dat ons genoeg het om van te leef nie.
Nee, ons moet fokus op God. Ons moet onthou dat Hy sorg vir die voëls en die lelies. Hulle doen niks om na hulleself te kyk nie – God voorsien in hulle behoeftes.
Ons moet Hóm vertrou en Hom gehoorsaam (geregtigheid). En ons moet toelaat dat Hy ons vul met Sy vrede en blydskap.
LEES OOK: ONTWIKKEL JOU GELOOF
KOMMMER OOR ANDER DINGE IN DIE LEWE.
Mense bekommer hulle nie net oor hulle basiese behoeftes nie.
Sommige mense het ‘n oorvloed kos en klere, dus is dit nie iets waaroor hulle regtig bekommerd is nie.
Maar daar is allerhande ander dinge waaroor mense bekommerd is.
Daar is diegene wat hulle bekommer oor hulle gesondheid of hulle kinders. Sommige is bekommerd oor hulle huwelik of oor ‘n ander verhouding wat besig is om te verbrokkel.
Ons bekommer ons oor die toestand van die land en die wêreldwye pandemie.
En dan is daar al die klein, amper onbenullige persoonlike dinge wat vir ‘n mens ‘n bron van kommer kan wees.
Wat sê die Bybel oor bekommernis van hierdie aard?
MOET OOR NIKS BEKOMMERD WEES NIE.
Ons vind die antwoord in Filippense 4:6-7.
Daar staan: “Moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend. En die vrede van God, wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak.”
Sien jy dit?
Weer kry ons die opdrag dat ons ons nie moet bekommer nie.
Hierdie keer sê die Here vir ons dat ons oor niks bekommerd moet wees nie.
Die woord niks sluit elke moontlik ding in waaroor ‘n mens jou kan bekommer.
BRING DIT NA GOD IN GEBED.
Nou wat moet ons dan doen as ons ons nie moet bekommer nie?
God gee weereens vir ons die antwoord net na Hy geê het dat ons ons nie moet bekommer nie.
Wat ons moet doen is om daaroor te bid en elke ding waaroor ons ons kan bekommer, na God te bring.
Hy weet reeds daarvan, maar ons moet steeds ons versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan Hom bekend maak.
As ons dít doen, belowe God ons dat Sy vrede, wat alle begrip oortref, oor ons harte en gedagtes sal waak.
Dit beteken daardie kommergedagtes wat so rondmaal in jou kop, sal iets van die verlede wees. In plaas van kommer, sal jy vrede hê in jou gemoed.
AL ONS BEKOMMERNIS.
Die laaste verse waarna ons vandag gaan kyk, kom uit 1 Petrus 5:5-7.
Daar staan: “Beklee julle almal met nederigheid teenoor mekaar, want ‘God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade.’ Daarom, verneder julle onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle op die regte tyd kan verhoog, deur al julle bekommernis op Hom te werp; want Hy gee om vir julle.”
Wat sê die Bybel oor bekommernis?
Werp dit alles op God!
WERP AL JOU BEKOMMERNIS OP GOD.
Moenie dit self probeer dra nie.
Doen wat die ander verse sê en moet jou nie verder bekommer nie.
Werp dit op God.
Hy gee om vir elkeen van ons.
Wanneer ons ons bekommernisse op Hom werp, erken ons dat ons nie self iets daaraan kan doen nie.
Ons vertrou Hom dan om te doen wat ons nie kan doen nie.
Ons vertrou Hom om vir ons genade te gee.
Uit die Woord weet ons God se genade is genoeg. Hy is sterk wanneer ons swak is (2 Korinthiërs 12:9).
Ons weet ook dat ons met vrymoedigheid na die genadetroon kan gaan, dat ons ontferming en genade sal ontvang om op die regte tyd gehelp te word (Hebreërs 4:16).

WAT Sê DIE BYBEL OOR BEKOMMERNIS?
Wat het ons vandag geleer oor bekommernis? Hoe moet ons dit hanteer?
- Moet jou nie bekommer nie – oor niks nie!
- Bring alles waaroor jy moontlik bekommerd kan wees na God toe en werp dit op Hom.
- Erken dat jy nie self in staat is om iets aan die saak te doen nie.
- Bid daaroor en lê dit voor Sy voete. Sê ook vir Hom dankie dat Hy reeds besig is om namens jou op te tree.
- Hou jou fokus op Hom. Vertrou Hom en doen wat Hy vir jou sê om te doen.
- Sy vrede, wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor jou harte en gedagtes waak.
- Hy sal jou op die regte tyd verhoog en voorsien wat jy nodig het.
I don’t have a website, please email me