GENADE EN BARMHARTIGHEID – DIE VERSKIL

Genade en Barmhartig

Genadig en barmhartig is die Here, geduldig en groot in troue liefde (Psalm 145:8).

Ek het nog altyd gedink gelowiges wat Engels praat, is baie gelukkig. Hulle het twee woorde vir genade in Engels – grace en mercy.

En toe kom ek agter ons het in Afrikaans ook twee verskillende woorde. In Afrikaans praat ons van genade en barmhartigheid.

Maar wat beteken dié twee woorde nou eintik? Maak dit saak watter een van die twee ons gebruik?

Ja, dit maak saak, want die twee woorde se betekenis verskil van mekaar. En ‘n mens kan uitmis op baie wonderlike waarhede as jy nie weet wat die betekenis van die woorde is nie.

DIE BARMHARTIGHEID VAN GOD.

As ‘n mens kyk wat die betekenis van barmhartigheid is, dan sê die verklarende woordeboek dis ‘medelydend of met meegevoel’.

Die Hebreeuse woord wat met barmhartigheid vertaal is, beteken deernis. Dit beteken om in goedheid af te buig na ‘n mindere; om guns aan ‘n ander te gee.

Wanneer God barmhartigheid teenoor ons bewys, dan gee Hy nie vir ons wat ons verdien nie. Ons verdien dit om gestraf te word vir ons sondes. Maar dis nie wat God doen nie.

In Sy groot barmhartigheid het Hy ons straf op Jesus uitgestort toe Hy aan die kruis gehang het.

GOD SE GENADE.

In die verklarende woorde boek word gesê genade beteken goedertierenheid. Ek weet nie van jou nie, maar dit help my nie veel om dit beter te verstaan nie!

Maar as ‘n mens in boeke soos ‘Strong’s Concordance’, ‘Vine’s Expository Dictionary’ en andere gaan kyk wat die woord beteken, dan verstaan jy sommer beter.

Die Griekse woord vir genade is charis. Dit beteken goedheid, guns, ‘n seëning wat Jesus vir die mens gee, of om goed te wees vir iemand wat dit nie verdien nie.

God se genade is om vir ons te gee wat ons nie verdien nie. In hierdie geval is dit God se guns, Sy seën.

Ons vra Hom nie daarvoor nie. Ons kan dit ook nie verdien nie. Hy gee dit vrylik vir ons.

Hoekom?

Want Hy is ‘n God van liefde en genade en barmhartigheid is ‘n uitdrukking van Sy liefde.

DIE VERSKIL TUSSEN GENADE EN BARMHARTIGHEID.

Genade en barmhartigheid wys altwee vir ons hoe wonderlik ons God is.

In Sy wonderlike barmhartigheid gee Hy nié vir ons wat ons verdien nie. Die straf wat ons s’n was, het Hy op Jesus uitgestort.

En in Sy groot genade gee Hy vir ons wat ons nié verdien nie. Hy gee vir ons alles wat Jesus deur Sy dood en opstanding gedoen het.

Noudat ons weet wat dit beteken wanneer ons sê God is genadig en barmhartig, deel ek graag ‘n paar oor elkeen van hierdie onderwerpe met jou.

Jy kan sommer die S.O.A.P.-Bybelstudie metode gebruik om die verse ‘n bietjie van nader te bekyk en te sien wat jy alles daaruit kan leer.

BYBELVERSE OOR GENADE EN BARMHARTIGHEID.

OU TESTAMENT.

Psalm 86:15: Maar U, my Heer, U is ‘n barmhartige en genadige God. geduldig, oorvloedig in troue liefde en waarheid.

Jesaja 30:18: Om dié rede wag die Here om aan julle genade te betoon; om dié rede rig Hy Hom op om Hom oor julle te ontferm. Want die God van reg is die Here; gelukkig is almal wat op Hom wag.

Psalm 116:5: Genadig is die Here en regverdig; ons God is barmhartig.

Klaagliedere 3:22-23: Dit is deur die troue liefde van die Here dat ons nie omgekom het nie, ja, sy ontferming ken geen einde nie. Dit is elke oggend weer nuut – groot is u getrouheid.

Miga 7:18-19: Wie is ‘n God soos U? U is ‘n God wat skuld vergewe, wat by die oortreding verbygaan tot voordeel van die oorblyfsel van sy eiendom, wat nie vir altyd vasklem aan sy toorn nie, maar wat vreugde vind in troue liefde, wat ons weer genadig sal wees, ons skuld sal vertrap. U sal al ons sondes in die dieptes van die see gooi.

NUWE TESTAMENT.

Efesiërs 2:8: Want uit genade is julle verlos, deur geloof. En juis dit kom nie uit julle self nie; dit is die gawe van God.

2 Timotheus 1:9: Hy het ons verlos en geroep met ‘n heilige roeping – nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en genade.

Efesiërs 2:4-5: Maar God, ryk in barmhartigheid, het ons, alhoewel ons dood was as gevolg van die oortredings, op grond van sy groot liefde waarmee Hy ons liefgehad het, saam met Christus lewend gemaak – uit genade is julle verlos!

Hebreërs 4:16: Laat ons dan met vrymoedigheid die troon van genade nader, sodat ons ontferming en genade kan ontvang om op die regte tyd gehelp te word.

Johannes 1:16: Uit sy volheid het ons almal genade ontvang – ja, genade op genade.

Deel hierdie blad

3 comments

  1. Baie dankie vir die veduideliking van genade en barmhartigheid. Alle dank aan ons Hemelse Vader.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *