14 BYBELVERSE VIR KERSFEES 2024

Bybelverse

Kersfees is ‘n tyd van hoop, vreugde en die herdenking van die grootste geskenk wat God vir die wêreld kon gee: Sy Seun, Jesus Christus. Die Bybel vertel hierdie wonderlike verhaal van verlossing deur profesieë oor Sy koms, asook deur die gebeure rondom Sy geboorte. Hierdie 14 Bybelverse vir Kersfees 2024 neem ons terug na die rede waarom ons in die eerste plek Kersfees vier. Dit herinner ons aan die blye boodskap van God se liefde en Sy groot genade wat dié feestyd bring.

JESAJA 7:14.

Die Here sal daarom self vir julle ‘n teken gee: ‘n Jong vrou sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem.

MATTHEUS 1:21.

Sy sal ‘n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.

MATTHEUS 1:22-23.

Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word: “Die maagd sal swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God by ons.

JESAJA 9:5-6.

Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ‘n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg.

LUKAS 1:31-33.

Jy sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.

LUKAS 2:4-7.

Ook Josef het gegaan. Hy het van die dorp Nasaret in Galilea na Judea toe gegaan, na Betlehem, die stad van Dawid, omdat hy tot die huis en geslag van Dawid behoort het. Maria, sy verloofde, wat swanger was, het saamgegaan om ingeskryf te word. Terwyl hulle daar was, het die tyd gekom dat haar kind gebore moes word. Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in ‘n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.

LUKAS 2:8-12.

Daar was skaapwagters in daardie omgewing wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het. Meteens staan daar ‘n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het baie groot geskrik. Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! En dit is vir julle die teken: julle sal ‘n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in ‘n krip lê.”

LUKAS 2:13-14.

Skielik was daar saam met die engel ‘n menigte engele uit die hemel wat God prys en sê: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het!”

JOHANNES 1:14.

Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.

JOHANNES 3:16.

God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

JAKOBUS 1:17-18.

Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader wat die hemelligte geskep het, maar wat self nie soos hulle verander of verduister nie. Omdat dit sy wil was, het God ons deur die woord van die waarheid tot die lewe gebring, sodat ons, om dit so te stel, eerstelinge kan wees van alles wat Hy geskep het.

JESAJA 53:2-6.

Die dienaar was soos ‘n loot wat voor die Here uitspruit, soos ‘n plant wat wortel skiet in droë grond. Hy het nie skoonheid of prag gehad dat ons na hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie. Hy was verag en deur die mense verstoot, ‘n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie die mense die gesig wegdraai. Hy was verag, ons het hom nie gereken nie. Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra. Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word. Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom.

GALASIëRS 4:4-5.

Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur. Hy is uit ‘n vrou gebore en van sy geboorte af was Hy aan die wet onderworpe om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word.

ROMEINE 6:23.

Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.

Ek wil jou aanmoedig om saam met die Here na te dink oor hierdie verse. Laat Hom toe om jou hart te vul met verwondering oor Sy verlossingsplan. Sê vir Hom dankie vir Sy groot liefde wat Hy ook aan jou bewys het deur Jesus Christus.

Deel hierdie blad

1 comment

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *