
Gebruik hierdie ses Bybelstudie-riglyne om jou te help om hierdie jaar die gewoonte aan te leer om jou Bybel te studeer.
Daar is baie mense wat dink die Bybel is ‘n oudmodiese boek wat nie veel waarde het in die tyd waarin ons leef nie. Maar dis nie waar nie. Die waarhede in die Bybel is vir alle mense van alle tye. Dis vir volwassenes, tieners, kinders en kleuters. Dit maak nie saak wat ons omstandighede, die kultuur van die dag, of ons tyd in die geskiedenis is nie, die Bybel is en bly belangrik.
‘n Mens moet egter weet wat daarin staan voordat dit ‘n invloed op jou lewe kan hê. Daarom is dit so belangrik om jou Bybel te lees en Bybelstudie te doen.
Die volgende riglyne gaan jou help om ‘n soliede basis te vorm vir wanneer jy Bybelstudie doen. Jy kan dit as volwassene gebruik, maar jy kan dit ook vir jou kinders leer en hulle só help om ook goeie studente van die Bybel te word. (Jy kan hierdie beginsels op enige gedeelte in die Bybel toepas.)
DIS ALLES OOR GOD.
Baie van ons het grootgeword met die verhale van Dawid en Goliat, Daniël in die leeukuil, Simson en Delila en nog meer.
Maar hoewel die Bybel vol stories oor verskillende mense is, gaan die Bybel nie regtig oor die mens nie.
Die Bybel gaan oor God.
Dis die boek wat Hy vir ons gegee het waarin Hy Homself aan ons bekend maak sodat ons Hom kan ken.
Daarom moet ons die verhale in die Bybel gebruik om meer te leer oor God se karakter, Sy natuur en wil. Selfs in verhale waar Hy nie een keer genoem word nie – soos die verhaal van Ester – kan ‘n mens tog Sy hand duidelik sien.
KLEIN VERHALE DEEL VAN DIE GROOT VERHAAL.
Wanneer jy die Bybel vir die eerste keer begin lees, en soms selfs daarna!, kan dit lyk asof die verskillende verhale eintlik nie veel met mekaar te doen het nie.
Maar elke verhaal en elke boek in die Bybel vorm deel van een groot verhaal. Hierdie groot verhaal gaan oor God se Koninkryk, Sy heerskappy en oor Sy verlossingswerk wat vir elke mens beskikbaar is.
Wanneer ‘n mens die Bybel lees of studeer, is dit altyd ‘n goeie idee om jouself te vra hoe die verhaal wat jy lees, inpas by God se groot verhaal. Of vra jouself hoe God se groot verhaal jou help om die een wat jy lees, beter te verstaan.
KONTEKS IS BELANGRIK.
Het jy al jou tv aangeskakel net om te sien die fliek wat uitgesaai word, is al klaar ‘n halfuur aan die gang? Dis nogal moeilik om so ‘n fliek te volg en regtig te verstaan wat aangaan as jy die begin gemis het!
Dieselfde gebeur wanneer ons ‘n vers in die Bybel lees sonder om dit wat vooraf en dit wat agterna kom, ook te lees. Dis dan baie maklik om daardie vers verkeerd te verstaan en te dink dit sê een ding, terwyl dit eintlik iets heel anders sê.
Dis waarom konteks so belangrik is.
Iemand het gesê: “If you take the text out of context, you will be left with a con.” Niemand van ons wil met ‘n halwe waarheid of ‘n hele leuen sit omdat ons ‘n vers uit konteks geneem het nie.
Maak dus altyd seker jy lees die gedeelte voor en na die verse wat jy wil studeer, sodat jy die konteks daarvan verstaan.
‘N STUDENT VAN DIE BYBEL ONDERSOEK DIE TEKS.
Elke gedeelte in die Bybel het net een betekenis – die een wat die Here dit oorspronklik gegee het. Maar voor ons kan bepaal wat ‘n skrifgedeelte beteken, is dit belangrik dat ons eers uitvind daarin staan.
Ons doen dit deur die teks te ondersoek of waar te neem wat daarin staan.
Daar is sommer baie dinge waarvoor ‘n mens op die uitkyk kan wees. Hierdie dinge sluit in waarhede oor God, belangrike feite, opdragte, woorde wat herhaal word, lyste, ensovoorts.
As jy meer wil weet oor hoe jy te werk gaan om ‘n gedeelte te ondersoek of waar te neem, kan jy die artikel, ‘Inductive’ Bybelstudie-Metode – Deel 1, lees.
WAARHEDE VIR ALLE MENSE VAN ALLE TYE.
Ek het aan die begin gesê dat die waarhede in die Bybel vir alle mense van alle tye is. Dit is omdat God se Woord vir ons geestelike waarhede en beginsels leer wat van altyd af is en vir altyd sal wees.
Net soos die mense van wie ons in die Bybel lees hierdie waarhede en beginsels nodig gehad het, het ons dit vandag ook nodig. En die geslagte wat na ons kom, gaan dit ook nodig hê.
Wanneer jy dus jou Bybel lees of studeer, wees op die uitkyk vir waarhede of beginsels wat altyd toegepas kan word.
Ons leer byvoorbeeld by iemand soos Noag om God se opdragte te gehoorsaam, selfs al maak hulle nie sin nie.
Gehoorsaamheid aan God is ‘n beginsel wat altyd geld en ‘n goeie voorbeeld om te volg!
DIE BYBEL KAN ONS LEWENS VERANDER.
Dis belangrik dat ons die Bybel lees en studeer sodat ons weet wat daarin staan en dit ook verstaan.
Maar dit help niks om te weet wat die Bybel sê as ‘n mens nie dit wat jy leer, in jou lewe toepas nie.
Die Here wil hê dat ons al hoe meer soos Jesus moet word. Dit gebeur wanneer ons die waarhede en beginsels wat ons in die Bybel leer, in ons lewens toepas.
Ons kan dit egter nie in eie krag doen nie. Maar gelukkig hoef ons nie! God het vir ons die Heilige Gees gegee om ons daarmee te help. Ons moet net leer om saam met Hom te werk.
Die Bybel is God se Woord wat Hy vir ons gegee het sodat ons Hom beter kan leer ken. Hy wil dit gebruik om ‘n werk in ons lewens te doen wat vir altyd waarde gaan hê.
Iemand skryf dat die Bybel die enigste boek is wat ons nooit gaan klaar lees nie, want daar is altyd meer daarin wat ons kan ontdek.
Daarom wil ek jou vandag uitdaag om hierdie jaar te begin om gereeld jou Bybel te studeer. Gebruik hierdie Bybelstudie-riglyne om jou daarmee te help. Jy sal beslis nie spyt wees as jy dit doen nie!