
Hier is ‘n maklike Bybelstudie-idee, wat jou gaan help wanneer dit lyk asof die Evangelies mekaar weerspreek.
WAAROM VERSKIL DIE EVANGELIE-WEERGAWES?
Jy het seker al agtergekom dat dit soms lyk asof die Evangelies nie heeltemal met mekaar ooreenstem nie.
Daar is verskeie redes daarvoor.
Een rede is dat elke evangelie deur iemand anders geskryf is.
Dink só daaroor: Ek en jy gaan saam na ‘n kerkdiens toe. Na die tyd vertel ons vir iemand wat daar gebeur het. Ek onthou sekere dele van die preek. Jy onthou weer ander. Ek onthou ons het drie liedjies gesing. Jy onthou die dominee het twee keer gebid. Sien jy hoe dit gebeur dat ons by dieselfde diens was, maar verskillende dinge onthou?
Dit is presies wat gebeur in die Evangelies.
Van die skrywers, soos Mattheus en Johannes, was self daar. Hulle was dissipels van Jesus. Maar elkeen onthou verskillende dinge en gee daarom hulle eie weergawe weer.
Markus het, volgens oorlewering, Petrus en van die ander dissipels se vertellinge gebruik om sý Evangelie te skryf.
En Lukas het weer waarskynlik die Markus-evangelie as een van sý bronne gebruik.
Sien jy nou waarom die Evangelies in sekere opsigte van mekaar verskil terwyl hulle tog dieselfde gebeure dek?
HOE MEER INLIGTING, HOE MEER LEER ONS.
Dit is egter glad nie ‘n probleem nie, maar eerder ‘n seën.
Jy sien, hoe meer inligting ons oor iets het, hoe beter gaan ons dit verstaan.
Vandag wil ek met jou ‘n Bybelstudie-idee deel wat jou gaan help om die inligting in die verskillende Evangelies bymekaar te sit.
KIES EN LEES JOU SKRIFGEDEELTE.
Eerstens moet jy ‘n gedeelte uit een van die Evangelies kies, wat jy wil bestudeer.
Die volgende stap is om die gedeelte wat jy gekies het, deur te lees.
Lees dit sommer ‘n paar keer deur, sodat jy mooi weet wat daar staan.
SKRYF NEER WAT JY RAAKSIEN.
Die volgende stap is om al die inligting wat jy in die gedeelte raaklees, in jou notaboek neer te skryf.
Dit sluit alles in wat jy daar raaksien.
Skryf neer wie die persone is wat deel is van die storie.
Skryf neer wat hulle doen.
As hulle praat, skryf neer wat hulle sê.
Op dié manier gaan jy soveel meer raaksien as wat jy sou raaksien deur net die gedeelte te lees.
GEBRUIK DIE KRUISVERWYSINGS.
In meeste Bybels is daar kruisverwysings onder elke opskrif in die Evangelies.
Hierdie kruisverwysings wys ons waar om dié spesifieke gedeelte in die ander Evangelies op te spoor.
Die volgende stap is om elkeen van hierdie verwysings op te soek, en hulle ook ‘n paar keer deur te lees.
Jy sal sien dat daar dinge in elkeen staan, wat nie in van die ander voorkom nie.
Daar gaan dalk ‘n naam genoem word, wat nie in van die ander staan nie.
Of dalk sê iemand iets wat jy nie in die ander lees nie.
Skryf neer wat jy ookal raaksien, wat nie in die ander Evangelies staan nie en addisionele inligting is.

ANDER KRUISVERWYSINGS.
Soms gaan jy nog kruisverwysings raakloop, wat uit andere dele van die Bybel kom.
Dit gebeur byvoorbeeld wanneer ‘n profesie of ander skrifgedeelte aangehaal word.
Hierdie kruisverwysings word gewoonlik in die middel of aan die onderkant van die bladsy aangedui.
As jy op so ‘n kruisverwysing afkom, soek dit op en lees dit ook.
Skryf enige addisionele inligting wat jy daar raaklees ook neer.
SIT ALLES BYMEKAAR.
Noudat jy al die verskillende skrifgedeeltes gelees en neergeskryf het wat jy gelees het, is dit tyd om alles bymekaar te sit.
Begin byvoorbeeld met die karakters in die verhaal.
Skryf elkeen se naam neer. Skryf neer wat jy oor elkeen geleer het uit die verskillende gedeeltes.
Jy kan ook fokus op die woorde wat gesê is en wat jy oor die gesprek geleer het uit elke Evangelie.
Kyk na die omstandighede en gebeure. Skryf neer wat jy daaroor uit elke gedeelte geleer het.
Hou aan neerskryf totdat jy al die inligting wat jy uit die verskillende gedeeltes gehaal het, gebruik het.
Noudat jy alles bymekaar gesit het, het jy ‘n baie gedetaileerde oorsig van die verhaal. Dit is baie interessant om die Evangelies só te bestudeer.
OEFEN SOMMER NOU!
‘n Goeie gedeelte om mee te begin om hierdie Bybelstudie-idee te oefen, is die Intog in Jerusalem.
Dit staan in Mattheus 21:1-11; Markus 11:1-11; Lukas 19:28-38 en Johannes 12:12-19.
Daar is sommer heelwat inligting wat ‘n mens uit die vier Evanglies kan haal.
As jy klaar is, gaan jy ‘n baie beter idee het van wat gebeur het toe Jesus Jerusalem binnegery het op die vul van ‘n donkie.
Nou toe, waarvoor wat jy? Spring sommer dadelik weg en gebruik hierdie Bybelstudie-idee om die Evangelies op ‘n nuwe manier te bestudeer.
