MOSES EN DIE BRANDENDE BOS: 7 LESSE

Moses en die brandende bos

Jy het seker al die verhaal van Moses en die brandende bos in Eksodus 3 en 4 gelees. Net om jou geheue te verfris, Moses is besig om sy skoonpa se kleinvee in die woestyn op te pas. Toe hy by Horeb, die berg van God, kom, verskyn die Engel van die Here aan hom.

Moses sien ‘n doringbos wat brand, maar dit brand nie uit nie. Toe hy nadergaan om te kyk waarom dit gebeur, praat die Here met hom. Hy gee hom, onder andere, die opdrag om die Israeliete uit Egipte te lei na die Beloofde Land toe.

Dit is die storie in kort. Daar is soveel wat ons uit hierdie gedeelte kan leer, maar vandag wil ek met jou oor die volgende gesels.

LES 1: MOSES WAS ALLEEN.

    Dis belangrik dat ons onthou ons is deel van die gemeenskap van gelowiges en dat ons daarom saam tyd met God spandeer deur byvoorbeeld kerk toe te gaan en by ‘n Bybelstudie- of selgroep aan te sluit.

    Maar dis ook belangrik vir ons om tyd alleen met God te spandeer.

    Ons sal netnou sien dat dit in hierdie alleentye met Hom is, waar Hy Homself deur Sy Woord aan ons openbaar. Dis ook in hierdie tye waar ons ons harte teenoor Hom kan oopmaak en met Hom gesels oor alles wat in ons lewens aangaan.

    LES 2: MOSES WAS NUUSKIERIG.

      Moses sien die brandende bos en besluit om te gaan kyk waarom dit nie uitbrand nie.

      Net soos hy nuuskierig was om uit te vind waarom die bos nie uitbrand nie, moet ons ook nuuskierig wees om uit te vind wat God in Sy Woord geskryf het.

      As ‘n mens nuuskierig is, vra jy vrae. Jy doen navorsing as jy iets nie verstaan nie. Jy probeer uitvind hoekom ‘n ding werk soos dit werk.

      Wees nuuskierig oor die Bybel. Vra vrae. Doen Bybelstudie. Lees die Bybel van begin tot einde sodat jy die goue draad daarin kan raaksien.

      .

      LES 3: MOSES KOM NADER EN GOD PRAAT.

        Dis interessant dat God nie vir Moses roep en sê hy moet naderkom, want Hy wil met hom praat nie. Nee, Hy wag tot Moses self besluit om nader te kom en na die brandende bos te kyk voor Hy met hom praat.

        Hoewel God dwarsdeur die dag met ‘n mens kan praat, hoor ons Hom gewoonlik beter wanneer ons stil is en op Hom fokus.

        Ons moet dus elke dag tyd maak om nader te kom en stil te word sodat Hy met ons kan praat.

        Dit bly ons besluit of ons tyd met God gaan spandeer of nie. Maar as ons dit nie doen nie, dan moet ons nie kla as ons sukkel om Sy stem in ons lewens te hoor nie.

        LES 4: GOD OPENBAAR HOMSELF AAN MOSES.

          In vers 6 en 13-15 vertel God vir Moses wie Hy is.

          Hy sê Hy is die God van sy voorvaders. Hy gee ook vir Moses een van Sy Name – Ek Is Wie Ek Is.

          Soos ek vroeër gesê het, is dit in die alleentye saam met God wat Hy Hom aan ons openbaar. Dis wanneer ons moeite doen om die Bybel te lees wanneer ons sien wie God is, wat Sy karaktereienskappe is en wat Hy doen en hoe Hy dit doen.

          As jy God beter wil leer ken deur te sien wat Hy van Homself sê, lees die Bybel.

          LES 5: GOD GEE MOSES ‘N OPDRAG.

            God stuur vir Moses om die Israeliete uit die land van slawerny te gaan lei.

            Hy sê vir hom wat hy moet doen en sê. Hy sê ook vir hom wat die Farao gaan doen, maar verseker hom dat alles volgens Sy plan gaan uitwerk.

            Dis dan ook in die alleentye saam met God waar Hy gewoonlik vir ons opdragte gee en vir ons sê wat Hy wil hê ons moet doen. Dit kan dinge wees wat alle gelowiges moet doen, soos om vir mekaar lief te wees. Maar dit kan ook opdragte wees wat net vir ons bedoel is. Ek het byvoorbeeld my opdrag gekry om vir die bediening, waaruit Bybel En Gebed ontstaan het, te gaan werk toe ek alleentyd met God spandeer het.

            God gaan nie noodwending dadelik vir ons so in detail sê wat ons moet doen en hoe ons dit moet doen, soos Hy met Moses gemaak het nie. Maar ons kan verseker weet dat Hy, soos ons daardie opdrag in geloof gehoorsaam, ons sal lei tot die opdrag heeltemal voltooi is.

            LES 6: MOSES IS BENOUD.

              Moses het nie dadelik ingestem om God se opdrag te gaan uitvoer nie. Hy het allerhande vrae gehad en selfs ‘n verskoning of twee ook.

              Maar God stel hom gerus deur vir hom te sê Hy is by hom en sal die pad saam met hom stap.

              In die alleentye met God kan ons ook ons harte teenoor Hom uitstort. Ons kan, soos Dawid soms gedoen het, vir Hom vertel hoe ongelukkig ons oor ‘n situasie is. Ons kan vir Hom vrae vra oor die opdragte wat Hy ons gee. En ons kan ook met ons verskonings na Hom toe gaan. Niks is vir God te veel om te hanteer nie. So, ons kan maar eerlik wees. Hy weet dit in elk geval.

              LES 7: MOSES IS GEHOORSAAM.

                Al was Moses aan die begin vol verskonings, sien ons tog aan die einde van Eksodus 4 dat hy doen wat God vir hom gesê het om te doen.

                Dis ‘n belangrike deel van ons tyd met God, wat ons nie moet vergeet nie.

                Wanneer God ‘n opdrag gee, hoe klein ookal, moet ons dit gehoorsaam. Ons mag dalk ook verskonings hê. Ons mag dalk ook teëpraat. Maar dit moenie daar bly nie. Ons moet, soos Moses en soveel ander karakters in die Bybel, God se opdragte uitvoer.

                As ons dit nié doen nie, is ons soos die persoon van wie Jakobus skryf. Hy sê as ons God se Woord hoor en nie doen wat dit sê nie, is ons soos iemand wat vir homself in ‘n spieël kyk. Wanneer hy wegloop, vergeet hy hoe hy gelyk het.

                As ons egter doen wat God vir ons sê, sal ons gelukkig wees in wat ons doen omdat ons nie vergeetagtige hoorders is nie.

                HET JY HULP NODIG?

                Ek weet nie watter een van die gedagtes hierbo vanoggend op jou van toepassing is nie. Maar ek vertrou dat jy almal wat op jou van toepassing is, in ag sal neem en nie net ‘n hoorder nie, maar ook ‘n doener van God se Woord sal wees.

                En as jy hulp nodig het om te begin met ‘n daaglikse stiltetyd, loer dan gerus na By Jesus Se Voete, die stiltetyd-gids in ons aanlyn-winkel.

                Deel hierdie blad

                1 comment

                Leave a Reply

                Your email address will not be published. Required fields are marked *