
In die Evangelie volgens Johannes lees ons sewe ‘Ek Is’-uitsprake van Jesus. Met hierdie uitsprake sê Jesus presies vir ons wie Hy is, sodat ons geen twyfel kan hê nie. Maar Hy hou nie daar op nie. In Johannes, en ook in die res van die Nuwe Testament, lees ons ook wie ons is omdat ons in Hom glo. Dan is daar ook verse wat vir ons vertel wat ons in Hom het. En daar is verse wat vir ons sê wat ons posisie in Hom is. Al hierdie verse saam noem ons sommer ons identiteit in Christus. So, as jy nog altyd gewonder het, wie is ek in Christus, lees dan verder!
IN CHRISTUS….
Ek behoort aan God – 1 Korinthiërs 6:19,20.
Ek is op Christus gevestig, afgesonder vir God en as sy eiendom beseël en het die Heilige Gees in my hart ontvang as waarborg van wat ek nog sal ontvang – 2 Korinthiërs 1:21; Efesiërs 1:13,14.
Omdat ek in Christus gesterf het, lewe ek nie meer vir myself nie, maar vir Hom – 2 Korinthiërs 5:14-15.
Deur my eenheid met Christus, is ek deur God vrygespreek – 2 Korinthiërs 5:21.
Ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe – Galasiërs 2:20.
In Christus het die Vader my geseën met elke geestelike seëning in die hemel – Efesiërs 1:3.
Nog voordat die wêreld geskep is, is ek in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor die Vader te wees – Efesiërs 1:4.
In Sy liefde het die Vader my daarvoor bestem om deur Jesus Christus Sy kind te wees – Efesiërs 1:5.
Deur die bloed van Jesus is ek verlos en is my oortredinge vergewe kragtens die ryke en oorvloedige genade van God – Efesiërs 1:6-8.
Ek is saam met Christus lewend gemaak – Efesiërs 2:5.
DEUR GOD SE GROOT GENADE…
Omdat ek glo, is ek vrygespreek en is daar vrede tussen my en God – Romeine 5:1.
Ek het saam met Christus een geword in Sy dood en is daarom nie langer ‘n slaaf van die sonde nie – Romeine 6:1-6.
Ek is vir ewig vry van enige veroordeling – Romeine 8:1.
Deur God is ek met Christus Jesus verenig – 1 Korinthiërs 1:30.
Ek het die Gees van God ontvang, sodat ek kan weet wat God uit genade aan my geskenk het – 1 Korinthiërs 2:12.
Ek het die denkwyse van Christus – 1 Korinthiërs 2:16.
Daar is ‘n duur prys vir my betaal en daarom behoort ek nie aan myself nie, maar is ‘n kind van God. Hy is dus my Vader – 1 Korinthiërs 6:20, Romeine 8:14-15; Galasiërs 3:26; 4:6.
Ek is ‘n erfgenaam van God en mede-erfgenaam met Christus – Romeine 8:17.
God se Gees en lewe woon in my, ek is Sy tempel – 1 Korinthiërs 3:16; 1 Korinthiërs 6:19.
Ek is met die Here verenig en is geestelik een met Hom – 1 Korinthiërs 6:17.
OMDAT EK IN CHRISTUS IS…
Ek is nie die groot ‘Ek Is’ nie, maar is Sy kind – Eksodus 3:14; Johannes 1:12-13.
Jesus is my Goeie Herder en ek is deel van Sy kudde – Psalm 23.
Ek is die sout vir die aarde – Mattheus 5:13.
Ek is die lig vir die wêreld – Mattheus 5:14.
Jesus ken my by die naam en ek is een van Sy skape – Johannes 10:27.
Ek het die ewige lewe, en sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie – Johannes 10:28.
Jesus het gegaan om ‘n plek gereed te maak vir my en sal terugkom en my na Hom toe neem – Johannes 14:3.
Jesus het my Sy vrede gegee, en dis nie die soort wat die wêreld gee nie – Johannes 14:27.
Ek is ‘n vriend van Christus – Johannes 15:15.
SOEK SELF NOG IDENTITEIT-VERSE.
Hierdie is verseker nie ‘n lys met al die verse oor jou identiteit nie, maar dis ‘n begin.
Ek wil jou dus uitdaag om, soos jy jou Bybel lees, op te let na nog verse wat die vraag, wie is ek in Christus, antwoord. Wees ook op die uitkyk vir verse wat jou meer vertel oor wat jy in Hom het en ook wat jou posisie in Hom is. Hierdie tipe verse begin baie keer met woorde soos, In Hom of Deur Hom of Saam met Hom. Onderstreep die verse wat jy raaklees en doen sommer ‘n mini-Bybelstudie ook daaroor. En vra die Heilige Gees om jou te help om presies te verstaan wat jou nuwe identiteit in Christus is. Vra Hom ook om jou te help om dit, tot eer van jou Verlosser, uit te leef.
